Matriekeksamen: 86%-slaagsyfer vir Afrikaanse skole

Argieffoto

Volgens ʼn verslag wat deur Solidariteit Helpende Hand saamgestel is oor die matriekeindeksamen vir 2017, druip daar aansienlik minder leerders in Afrikaanse skole.

Dié verslag is saamgestel deur Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) en bevat insiggewende syfers oor die waarde van moedertaalonderrig in die eksamen.

Luidens ʼn persverklaring meen die SOS dat Suid-Afrika eerder ʼn taalkwessie as ʼn onderwyskwessie het en die bewyse hiervoor is in die uiteenlopende prestasie van skole volgens taalonderrigkeuse.

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, sê een voorbeeld hiervan is die verskil in slaagsyfer in Afrikaanse skole teenoor die nasionale gemiddelde. “Afrikaanse skole, waar kinders in hul moedertaal onderrig ontvang, het aansienlik beter presteer as 80% van die skole waar die meeste leerders eerder in Engels as in hul huistaal onderrig is. Hierdie skole het ʼn slaagsyfer van 86% teenoor die nasionale gemiddelde van 75,1%.

Die verslag brei ook verder uit oor die prestasie van leerders in wiskunde en wiskundige geletterdheid, asook Afrikaans-huistaal. Slegs omtrent ʼn derde (35,1%) van matrieks wat wiskunde geskryf het, kon bo 40% vir die vak behaal.

Brink meen dit is skokkend dat 64,9% van alle kandidate wat wiskunde neem, minder as 40% vir die vak behaal. “Slegs een uit elke 80 kandidate wat matriek skryf, slaag wiskunde met ʼn onderskeiding. Nog meer kommerwekkend is dat slegs 7,3% van die graad 1-klas (1 155 629 leerders) van 2006 (matriekklas van 2017) bo 40% in wiskunde kon behaal,” sê Brink.

Daarenteen vaar Afrikaanse skole aansienlik beter deur 29,6% van alle wiskunde-onderskeidings te verower hoewel hulle net 10% van die skole uitmaak.

Volgens Brink het Afrikaans-huistaal ook uitmuntende prestasie gelewer wat bevestig dat Afrikaans die kroon dra as hoogs presterende taal in die land. “Afrikaans-huistaal behaal die hoogste gemiddelde persentasie onderskeidings per getal leerders.”

Die SOS beveel aan dat Afrikaanse ouers reeds vanaf kleuterskool ʼn “Afrikaanse keuse” vir die skoolopleiding van hulle kinders te maak.

Die SOS is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand gerig op die versterking van Afrikaanse onderwys op alle fronte. Vakverenigings vir wiskunde-, Afrikaans-, rekeningkunde- en grondslagfase-onderwysers bied professionele ondersteuning aan onderwysers. Die SOS fokus ook op kurrikulum-ontwikkeling, leerderondersteuning, onderwysleierskap en aanwending van tegnologie in die klaskamer. Meer as 360 skole en 2 600 onderwysers is reeds lid van SOS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Agie ·

Goeie nuus, veral aangesien “nie Afrikaanse leerders” wat nie in hulle moedertaal kan skryf nie, punte by kry van Basiese Onderwys af voor die uitslae uitgereik word.

LMF ·

Sê ek ok mos ‘Afrikaans is groot’ baie geluk aan die gelukkiges wat nog in hul moedertaal die top bereik het. Dit is n baie groot worry vir my as ouma van 3 wat uitstekend gevaar het in gr1 gr2 en gr3 daar lê nog lang pad voor en ons almal weet wat die regering met enigeiets waar Afrikaans voorkom wil doen en ek glo dit is omdat onse GOD nog in ons skole is so ek kan hul net die pad voorentoe deur BID Amen

Monique ·

Dit is beslis voordelig vir leerders om in hulle huistaal onderrig te word, maar dit is nie die enigste faktor wat groter sukses tot gevolg het nie. Sosiale probleme in ons land speel die grootste rol!

Lollie ·

Jare terug moes jy afrikaans, engels en wiskunde slaag om jou standard te slaag. Deesdae kan jy ń powere punt daarvoor kry, slaag en dan nog in ń ry gaan staan om universiteit toe te gaan. As jy so vrot op skool vaar wat wil jy nog op universiteit gaan doen? Baklei vir GRATIS vakansie? Meeste weet nie waaroor dit alles gaan nie. Dankie dat die afrikaners steeds uitstyg! Geluk aan elkeen van hulle! (Al ken ek hulle nie is ek baie trots op elkeen van hulle!!!!)

Johan Neuteman ·

Klink goed, my eie sentiment is Afrikaans. Tog sukkel ek om die vraag te antwoord hoekom ons so dryf vir Afrikaanse onderwys? Voel aan dis goed, maar wonder tog – bv jongmense toenemend maar nie by suiwer Afrikaans bly nie, baie min besighede hulle maatskappyname en veral bedryfsname in Afrikaans stel en ons nie as volk besig is om te veg vir ware vryheid nie, Dis soort van burgerregte-aandrang om darem net ‘n plekkie as ‘n minderheid wat deel is van ‘n groot mengel-meerderheid, te behou. Ek so nou dink jou volkwees, oor jouself te regeer, jou eie taal nie net te praat nie, maar voluit orals te beoefen, en jou kerkwees as deel van jou kultuur is verweef. Maar lyk of ons regtig bereid is om te veg nie.

Marinda ·

Dis wonderlike nuus. Slim kinders, wel gedaan. Aanhouer wen.

jaco ·

almal kla die onderwysstandaard is te laag en dat dit die rede is waarom die slaagpersentasie so hoog is, maar as oorwegend wit skole se slaagsyfer nog hoëer as die gemiddeld vir alle skole is en as so baie wit kinders 8, 10 en meer onderskeidings behaal, is al die klagtes oor die lae standaarde skielik weg en is daar NET gelukwensings.
Dis mos nou net logies dat maklike vraestelle wat deel is van die lae standaarde om die slaagpersentasie op te skuif, gaan beteken dat die slimmer kinders dadelik voordeel gaan trek daaruit.
Geskiedenis was my sterk vak op skool in die ou SA. Ek moes bitterlik hard werk om onderskeiding te kry. ek het onlangs ‘n geskiedenis vraestel vir deesdae se matrieks gesien. ek was verbaas oor hoe maklik dit is. ek kon meeste vrae, selfs die langvrae, uit my kop beantwoord sonder om eers vooraf te leer.

Ek is Sam ·

Ek is ook Afrikaans en is bevoorreg om my kinders tuis te onderrig. My bevinding is dat die leermateriaal wat in Afrikaans beskikbaar is en aan Caps voldoen, so van ons eie kultuur en waardes wegwyk, selfs nuwe denke bewerkstellig. In teenstelling is daar Amerikaanse boeke beskikbaar wat pragtige, Christelike inhoud het en waarin waardes die botoon voer. Ek het my tot Engelse onderrig moes wend om hierdie grondslag te behou. Daar is geen boek vir die vak Afrikaans wat nie polities afbreek doen aan ons volk nie. Gaan kyk net hoe lyk jul kinders se boeke en veral ook wat hul in vakke soos Geskiedenis en Lewensoriëntering leer. Dis waarom ek my kinders móét tuis onderrig, om hulle nie aan die breinspoelings tegnieke bloot te stel nie. Saam huil ek oor die afbreek van ons taal, maar die aanslag is veel groter as dit. Wanneer gaan ons Afrikaners eerder ywer vir ‘n eie leerstelsel wat op waarheid gegrond is, wat ou waardes weer die norm van die dag maak?

JC ·

Uitstekende kommentaar Sam- dit moet verpligte leerstof wees !

Baie, baie dankie. Jy is ‘n sprekende vb. daarvan dat Ons Mense besig is om wakker te skrik en die belaglike en verstikkende polities korrekte meulsteen van ons af te werp, hoera !!!

Naiwiteit en liggelowigheid moet met die minagting verwerp word wat dit verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.