Matriekeksamen: Nasienwerk verloop vinniger as beplan

Die departement sê nasienwerk verloop vinniger as beplan. (Foto: Dept. van basiese onderwys)

Die departement van basiese onderwys sê verlede jaar se matriekeksamen was “ongekend” en die vermoë van die stelsel is tot breekpunt gedruk. Die Covid-19-pandemie het groot uitdagings aan die onderwyssektor gestel en twee vraestelle het boonop uitgelek.

Die departement het Woensdag egter gesê nasienwerk het vinniger verloop as verwag en daar word nou reeds begin om punte in die stelsel in te voer en voor te berei vir die standaardisering daarvan.

Die direkteur-generaal van die departement, Mathanzima Mweli, sê meer as ʼn miljoen vraestelle is nagesien.

Volgens die departement is nasienwerk in Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo en die Noord-Kaap reeds afgehandel. In die Vrystaat sal nasienwerk na verwagting teen Donderdag klaar wees, terwyl nasienwerk in die Oos-Kaap en Mpumalanga afgehandel is, maar die laaste administrasiewerk nou gedoen word.

Nasienwerk in Noordwes behoort teen Donderdag afgehandel te wees, terwyl die Wes-Kaap na verwagting Vrydag die laaste nasienwerk sal voltooi.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, behoort die uitslae op 22 Februarie aan te kondig. ʼn Dag later word die uitslae in provinsies bekend gemaak en op 24 Februarie open aansoeke om vraestelle te laat hernasien.

Mweli sê altesaam 0,7% van nasieners het positief vir Covid-19 getoets nadat hulle by ʼn nasiensentrum aangemeld het, of nadat merkwerk reeds begin het. Sowat 94% van die meer as 45 000 nasieners het vir diens aangemeld.

Beurtkrag is onlangs weer in werking gestel, maar die departement sê dit het nie ʼn beduidende uitwerking op die nasienproses gehad nie. Mweli sê indien beurtkrag weer in werking gestel word wanneer die punte in die stelsel ingevoer word, behoort dit nie ʼn probleem te wees nie, aangesien die proses reeds vinniger gevorder het as waarvoor beplan is.

Die departement sê ook die kwessie van eksamenvraestelle wat uitgelek het, sal as deel van die ondersoeke na ongerymdhede gedoen word. “Ons het reeds voorlopige verslae oor die ondersoek ontvang.”

Die tweede wiskundevraestel en die tweede fisiese wetenskappe-vraestel het verlede jaar uitgelek voordat die eksamen afgelê is. Daar is aanvanklik besluit dat die vraestelle oorgeskryf moet word, maar ʼn hofbevel het die departement se besluit omgekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
SwartBees

Ooooh koek…. Haastige brak verbrand sy kwak.

Danie

Dit sê baie van kwaliteit!

Tanniepetoors

Dit gaan langer neem om die punte te verwerk as om die vraestelle te merk? Net in Suid-Afrika

Pieter J

Ek wonder baie oor die kwaliteit van werk van mense wat deur hierdie onbevoegde korrupte ANC regering aangestel word.

Racheltjie Debeer

Wat ek nie kan verstaan nie is hoekom dit in die eerste plek so lank vat?? Ek het tot in die 1ste week van Desember nog aan my matriek eksamen geskryf, maar die uitslae is voor Nuwe jaar al bekend gemaak.
Onbevoegdheid??? Laksheid??? En, moet ek byvoeg, rekenaars was nog nie naastenby so gevorderd nie, alles is per hand gedoen. Nou word beurtkrag as ‘n verskoning gebruik. Regtig???