Matriekeksamen: Nog bewerings van grootskaalse kullery

eksamenUmalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding, sal binnekort ʼn verslag bekend maak oor beweerde grootskaalse kullery by 69 eksamensentrums regoor die land.

“Ons sal moontlik teen die einde van die maand die eerste amptelike verslag kry,” het Lucky Ditaunyane, woordvoerder van Umalusi, gesê. Hy het gesê die ondersoek gaan voort.

Umalusi het einde verlede maand aangekondig dat daar grootskaalse kullery by 39 eksamensentrums in KwaZulu-Natal en 19 in die Oos-Kaap ontbloot is. Ditaunyane het Sondag bevestig dat daar ook bewerings van kullery is by ses eksamensentrums in Gauteng en twee in Mpumalanga. Daar is ook bewerings van kullery by ʼn eksamensentrum in die Wes-Kaap, Noordwes en die Noord-Kaap.

Prof. John Volmink, voorsitter van Umalusi, het vroeër verduidelik dat daar tydens die ouditproses by eksamensentrums bewyse gevind is dat leerders op groot skaal by mekaar afgeskryf het. Dit blyk dat iemand die antwoorde, hetsy reg of verkeerd, aan die leerlinge gedikteer het.

Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, het gesê “drastiese stappe” sal geneem word teen diegene wat by die kullery betrokke was.

Die eksamensentrums wat by die kullery betrek is se uitslae sal nie Dinsdag saam die matriekuitslae bekend gemaak word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

martie ·

Almal:hoof,hoof eksamenbeampte en toesighouers behoort hulle poste te verloor! In lande waar werkloosheid hoog is word geen genade betoon nie want daar is ander wat in die lyn staan vir werk. As so benadering in die werksplekke in Suid-Afrika in die geheel gehandhaaf word sal dit korupsie van watter aard ook dalk kan hok slaan. By skole teken alle betrokke partye n amptelike dokument,nadat opleiding gegee is, om verantwoordelikheid te vat. My maggies as klomp kinders aan sulke oneerlike optrede bootgestel word wat op die aarde gaan hulle vorentoe doen!!????

Christa du Plooy ·

Kan ons nog ‘n kennisgewing kry wanneer die matriekuitslae gepubliseer word, asb?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.