Matriekeksamen skop af met ‘billike’ vraestel

skole matrieks matriek matriekeksamen onderwys

Vanjaar se matrieks het Woensdag met matriekeksamen begin (Foto: Maroela Media)

Die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen het Woensdag amptelik vir vanjaar se matriekgroep afgeskop.

Altesaam 733 899 matrieks het hulle vandag by 6 326 eksamensentrums landwyd aangemeld om Engels te skryf. Leerders en onderwysers het die vraestel as billik beskryf en gesê dit was niks waarvoor hulle nié voorberei het nie.

Altesaam 124 065 matrieks het Engels huistaal geskryf en 609 830 matrieks het die vraestel vir Engels eerste addisionele taal afgelê. Slegs vier leerders het Engels tweede addisionele taal geskryf.

Die Engelse vraestelle het uit vier afdelings bestaan waarin begrip, opsommingsvaardighede, visuele geletterdheid en taal getoets is.

ʼn Vakkenner verbonde aan Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) meen die standaard van die vraestel was baie goed en die vrae was billik en baie duidelik geformuleer. Die kenner sê die kinders was goed voorbereid om die vraestel te kon beantwoord.

“Die begripstoets se leesstuk was baie relevant aangesien dit oor plastiekbesoedeling gehandel het. Die laaste vraag in dié afdeling kon dalk vir sommige leerders moeilik gewees het,” sê die kenner.

skole matrieks matriekeksamen

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Volgens haar was die opsommingsafdeling ook heeltemal billik en die leerders behoort geensins daarmee te gesukkel het nie. Die taalgedeelte van die vraestel het gefokus op die belangrike konsepte wat hulle moes baasraak. “Die twee vrae waarmee leerders moontlik kon sukkel, is die vrae oor woordsoorte en lydende en bedrywende sinne, wat meer kompleks as gewoonlik was.”

Ses leerders aan ʼn gesiene skool in Pretoria het op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê die vraestel was billik en goed saamgestel.

“As jy ou vraestelle uitgewerk en goed voorberei het, sou die vraestel maklik gewees het. Ons onderwysers het ons goed voorberei,” het die leerders vertel.

Volgens die leerders het hulle die aktuele onderwerpe in die vraestelle geniet omdat dit toepaslik vir hul generasie is.

Volgens Angie Motshekga, minister van onderwys, is altesaam 897 786 matrieks vir vanjaar se matriekeksamen ingeskryf, onder wie 735 677 voltydse en 162 109 deeltydse leerders.

Die laaste vraestel word op 7 Desember geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Samuel ·

Ek hoop die matrikulante wat onder baie moeilike omstandighede moes voorberei, sal goed vaar.

Wat is die waarde of gehalte van ‘n huidige SA matrieksertifikaat?

VaalDonkie ·

Jy kan darem gaan swot met hom as jy die regte vakke en punte gekry het, so ek sou nie te veel stres nie.

VaalDonkie ·

Ek is nou nog kwaad dat ons in 2000 begin het met Biologie, Skeinat, en Algebra in die eerste week, Meetkunde/Trig, Afrikaans, Aardrykskunde, en Engels in die tweede week, en toe ‘n week en ‘n half afgehad het net om te “swot” vir English Written Work wat net ‘n opstel en ‘n briefie of twee was.

piet ·

Wel jy’s veronderstel om lank voor die tyd voor te berei dan sal geen skedule ‘n probleem wees nie, nie dat ek en en my maats dit gedoen het nie. ‘n Vroee vakansie en rondrits was belangriker vir ons, ook net genoeg gedoen om deur te kom op die ou end. Kan nie juis se ek is terleurgesteld oor ons benadering nie maar ons kon beslis beter gedoen het met meer skouer aan die wiel. Ons het egter almal later graad gevang op universiteit (selfs daar ook nie juis verskriklik pligsgetrou gewees nie) so darem nie die einde van die wereld gewees nie. LOL

VaalDonkie ·

Ja Piet, ek het ook maar deurgeskuur. Het eintlik al in Matriek begin swot aan Rekenaarwetenskap en my matriek net gesien as ‘n papiertjie wat ek moes kry om amptelik varsity toe te mag gaan. Gelukkig was TegnikonSA se vereistes nie juis hoog nie. Maar daar het ek darem hard gewerk en goeie punte gekry want ek het belanggestel in my vakke. Op skool het ek net van Ingels en Skeinat gehou.

Jaco ·

AL daardie vakke is nou baie maklik. Eksamens dag na dag geen probleem. Gaan kyk net na die programme vir matriek hersiening op DSTV. Alles nou maklik. Gaan luister ook maar net hoe praat vandag se jong mense Afrikaans en Engels: dis seker die beste bewys dat skoolstandaarde kwaai gedaal het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.