Matriekeksamen skop vandag af

Angie Motshekga. Foto: GCIS

Die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen skop Maandag landwyd af met vraestelle vir nie-amptelike tale wat vandag geskryf word.

Die departement van basies onderwys (DBO) het Sondag in ʼn verklaring gesê al die finale voorbereiding vir die skryf van matriekvraestelle is getref en die departement is vol vertroue dat die eksamens vlot sal verloop. “Eksamens begin reeds Maandag, maar die eksamenstelsel sal eers Dinsdag ten volle getoets word wanneer 630 000 kandidate om 09:00 Engels as eerste taal en eerste addisionele taal skryf.”

Die DBO het gesê ná vorige probleme met gewelddadige betogings is ʼn ingrypingsplan ingestel vir die 1 657 matriekleerders in die Vuwani-gebied in Limpopo.

Die departement het gesê intensiewe “status van gereedheid”-besoeke aan al nege provinsies, wat op 6 Oktober begin het, is afgehandel en daar is met verskeie skoolhoofde vergader in aanloop tot die eksamen om te verseker dat skole gereed is.

Sekuriteit en die beskerming van die integriteit van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens was ʼn hoofprioriteit vir die departement. “Die departement het dus besonder sterk gefokus om die risiko’s verbonde aan die stoor en skuif van eksamenvraestelle te beperk deur vraestelle “net betyds” te laat druk. Eksamenvraestelle word dus so kort as logistiek moontlik voor die skryf van die vraestel gedruk.

Altesaam 634 527 voltydse kandidate en 168 109 deeltydse kandidate is geregistreer om vanjaar die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen te skryf. Soos in die vorige jare, kom die meeste heeltydse kandidate uit KwaZulu-Natal met 153 624 kandidate, terwyl die meeste deeltydse kandidate uit Gauteng kom met 41 952 kandidate.

Die departement het ook voorsiening gemaak vir kandidate met spesiale behoeftes soos leergestremdheid, disleksie, blindheid en doofheid. Altesaam 3 805 heeltydse en 544 deeltydse kandidate met spesiale behoeftes sal aan die eksamen deelneem.

Die vakke met die meeste inskrywings vanjaar om eksamen te skryf is wiskundegeletterdheid met 356 016, lewenswetenskappe met 356 149, wiskunde met 279 144 en fisiese wetenskappe met 199 874.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal van die 2017-matriekuitslae die aand van 4 Januarie 2018 bekendmaak en leerders sal vanaf 5 Januarie hul volle uitslae kan bekom. “Ek wens die kandidate alle sterkte toe vir vanjaar se eksamens. Hou jou kop af, leer hard, bly gefokus en dan is ek seker julle sal ons trots maak,” het Motshekga gesê.

“Ná minstens 12 jaar in die skoolstelsel is jy dit aan jouself verskuldig om alles in te sit vir hierdie eksamen sodat jy gebruik kan maak van naskoolse geleenthede – die wêreld staan vir jou oop. Baie sterkte vir julle almal.”

Matriekleerders kan nou op Maroela Media registreer om hul matriekuitslae aanlyn te kry en ʼn SMS- of e-poskennisgewing te ontvang die oomblik wanneer die uitslae amptelik bekend gemaak word. Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Eish nouw het bogent darri moetrix hexsamin. Howk? Hekke ken hom darri firti porsent verri paas hen di serreteffikort. ANC LEGACY: als akkomoderende laag as moontlik standaarde skool onderrig!

Dolla-nie-dof ·

Jongie Johann, ek is nou nie dof nie, maar wat beteken hierdie Sertifikaat??? It is only a stepping stone (sien, ek kan Engels ook praat)…it is only a stepping stone! Mense moet nou nie uithaak as hulle nie op die steen getrap het nie……..!

Peet Schabort ·

Ek is tans besig met Alan Paton se biografie oor J.H.Hofmeyr (1894-1948). Nou wat het dit te doen met die MA-trieks van vandag? ‘Jantje’ (sy noemnaam) was ‘n begaafde wonderkind (child prodigy) wat gerus ge-Google kan word. Motshekga praat van ‘ten minste 12 jaar in die skoolstelsel’. Wel Jantje is op 8-jarige ouderdom skool toe en op ouderdom 12 jaar maak hy klaar met matriek. Daar word egter vir hom gesê dat sy graad-kursus 3 jaar gaan vat en daar geen kortpad sal wees! Hy het aanhou met studeer en selfs op ‘n slag ‘n fout in ‘n vraestel uitgewys aan die opstellers. Gedurende sy tyd as minister van onderwys het hy selfs sy studies gestaak want waar het jy gesien dat ‘n minister van ONDERWYS moet gaan sit om ‘n vraestel te skryf! As Administrateur van Transvaal het hy gereeld toesprake gehou en krieket gespeel. Hy het by so ‘n toespraak opgemerk dat hy sekerlik die eerste (en enigste?) is wat kan spog met meer toesprake as die lopies wat hy kon aanteken.
Ek wonder hoeveel intelligente kinders sit vandag hul tyd en verwyl op skoolbanke? Dit daar gelaat wil ek elke leerling toewens om na die beste van sy vermoë te presteer. En julle ‘slimmes’, behandel andere op jou pad met respek en eerbied ongeag sy/haar verstandelike vermoë.

Alida ·

My vraag is steeds of hulle nou al skole sedert verlede jaar se chaos gebou het of die skole wat hulle toegemaak het gerestoreer het. Teen die trant wat die bevolking groei moet daar elke jaar nuwe skole gebou word. Dit klink of daar volgende jaar weer duisende gaan wees wat nie plek het in skole nie. Ai Ai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.