Matriekleerder sterf na voorval by skool

Storm Smorenburg

Die gemeenskap van Riviersonderend in die Wes-Kaap en die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal sal die week afskeid neem van Storm Smorenburg.

Die matriekleerder is Vrydag oorlede nadat hy Donderdagoggend tydens ʼn voorval by die Hoër Landbouskool Oakdale ernstige beserings opgedoen het.

Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie by die Wes-Kaapse departement van onderwys, het gesê Smorenburg was op sy skaatsplank en het aan die agterkant van ʼn voertuig vasgehou toe hy geval het.

Die voorval het op die skoolterrein tussen die koshuise en die hoofskoolgebou plaasgevind. “Die leerling is na ʼn hospitaal gehaas en berading is by die skool beskikbaar gestel.”

Smorenburg het Vrydag in ʼn hospitaal in Mosselbaai aan sy beserings beswyk.

“Ons gedagtes en medelye is met die leerling se familie, vriende en die skoolgemeenskap. Daar sal verdere berading by die skool beskikbaar gemaak word,” het Hammond gesê.

ʼn Gedenkdiens vir Smorenburg sal Woensdag in Riviersonderend gehou word en Vrydag by die Hoër Landbouskool Oakdale.

Eden Tweekamp het intussen ook sy meegevoel met Smorenburg se familie betuig. Volgens Eden Tweekamp was Smorenburg een van hul gewilde atlete.

“Sy humor en grappe sal verseker gemis word. Ons bied ons innige meegevoel aan vir die gesin, familie en naasbestaandes, asook die Hoër Landbouskool Oakdale se leerders en personeel. Die Here dra ons deur alle donker dieptes met Sy liefde.”

Die polisie kon nie onmiddellik oor die voorval kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

christine ·

Tragies sterkte aan ouers ,familie, en vriende op so jong ouderdom . Dit is gevaarlik wat hy gedoen het.

hercu ·

en toe word die storm stil :-(

dit is baie hartseer, sterkte aan die ouers, familie en Oakdale Skool

dink en bid vir julle!

Toetsie ·

So n onverskillige gevaarlike ding om te doen… Dit is erg hartseer! Mag die Here sy famielie en vriende versterk en bystaan in hierdie tyd.

Hartseer ·

Storm was ‘n merkwaardige jongman. Ek het die voorreg gehad om hom te kon ken. Dit was my man se jongste seun. ‘n Pragstuk van 1,74 m lank, fiks en gesond; vol lewe.

Hy was ‘n lewensredder in sy leeftyd gedurende vakansies en selfs na sy dood het hy direk, 11 mense se lewens geraak/gered want hy was ‘n orgaan skenker.

Storm, JY het hierdie ou wêreld van ons ‘n baie beter plek gemaak. Jy word ontsettend gemis boeta.

Mossie ·

Hartseer, baie sterkte. Ons bid dat God julle ekstra styf sal vashou in hierdie hartseer tydperk.

Hilda ·

Pragtige nagedagtenis! Baie sterkte vir die familie in hierdie moeilike tyd. (-_-)

Janet ·

Met daardie skewe glimlaggie en mooi ogies lyk hy sommer soos ‘n lewenslustige en grap kind …baie baie sterkte vir die ouers mag julle troos by die Here vind

Mariaan ·

Agge nee man..dis net te veel vir n mens se hart…tragies!

Joke! ·

Veronderstel om n gesiggie te wees wat n traan stort en nie vraagtekens nie ! My hart is seer vir jul familie en bid jul sterkte en krag toe…

Suidkus ·

Ek het hom nie geken nie. Maak nie saak of hy gespeel het, gewaag het of wat ook al nie, hy is dood en dit is so tragies! Ek kan my die hartseer en skok vir sy mense indink. Ai Storm, so ‘n mooi kind. Wat ‘n verlies! Dankie vir die lewens wat jy gered het voor en ná jou dood.

Hartseer ·

BAIE Dankie vir julle mooi woorde, een en elkeen. Ek gaan die boodskappies deurgee aan sy pa en ma.

Waardeer dit baie.

Dankbaar ·

BAIE Dankie vir julle mooi woorde, een en elkeen. Ek gaan die boodskappies deurgee aan sy pa en ma.

Waardeer dit baie.

Jollie ·

Sjoe, my hart gaan uit na sy ouers. Die heel ergste ding wat kan gebeur is om n kind aan die dood af te staan.

Leonie ·

Aan die pragtige seun se geliefdes, ek is so ongelooflik jammer en as n ma huil ek saam met julle. As n mens so jonk is dink n mens nie altyd aan die gevaar nie. Ek glo die meerderheid van ons het gevaarlike goed aangevang toe ons so jonk was. Ek weet dit is net genade dat ek my tienerjare oorleef het en dit as n meisie. So moet asb nie oordeel nie. Dra liewer sy familie en vriende op in gebed.

Liza ·

My innige meegevoel aan Storm se ouers, dink aan julle in hierdie moeilike tyd, weet net God is met julle en sal julle dra, Hy dra my elke dag na my kind se dood……Bid vir julle.
Rus saggies Storm ………

Marie Kotze ·

Geliefdes dit klink vandag onmoontlik, maar iewers in die toekoms kom skyn die lig weer oor hierdie donker wolk . Mag Storm se kosbare herineringe en die voorreg om hom in jul lewe te kon hê julle vreugde wees. Ons Trooster sal jul bonatuurlike krag gee. Ek kan nie anders om stukkend binne saam met julle te voel nie.

Ma van n Seun ·

Ai bitter hartseer ook ,maar net kind , ons almal was daar in ons lewe.
Dit kon my of jou kind gewees het.Net genade van bo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.