Matrieks: ‘Arbeidsmark beloon kundigheid’

Argieffoto

Argieffoto

Die huidige Suid-Afrikaanse arbeidsmark toon dat kundigheid beloon word en dat verdere opleiding skoolverlaters se kans om werk te hê aansienlik verbeter.

Só sê die vakbond Solidariteit wat vandag, kort voor die bekendmaking van die matriekuitslae van 2014, sy nuutste verslag oor werksvooruitsigte vir matrieks vrygestel het.

Solidariteit het gesê daar is hoop vir matrieks wat wil studeer en het die matrieks van 2014 aangeraai om hulself deur verdere opleiding te bekwaam. Die vakbond het beklemtoon dat ʼn matrieksertifikaat slegs die beginpunt van voorbereiding vir die moderne werksomgewing is.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê matrieks moet in gedagte hou dat die hoë werkloosheidskoers in Suid-Afrika onder meer ʼn gevolg daarvan is dat slegs 13% van die volwasse bevolking oor tersiêre opleiding beskik.

“Suid-Afrika het ʼn reuse-werkloosheidsprobleem, maar ondervind terselfdertyd ook ʼn groot tekort aan mense met goeie opleiding. Ten spyte van die miljoene swak opgeleide werkloses, is daar ruimte vir miljoene goed opgeleide mense in die arbeidsmark,” het Joubert gesê.

Joubert sê een van die redes waarom soveel mense met matrieksertifikate sukkel om werk te kry, of min verdien as hulle wel werk kry, is dat hulle eenvoudig nie die regte vakke geneem het, of nie die vereiste prestasie in die regte vakke behaal het nie.

“ʼn Baie klein getal matrikulante behaal jaarliks goeie uitslae in sleutelvakke. In 2013 het slegs 14 125 matrieks 70% of hoër in Rekeningkunde behaal; slegs 19 854 het 70% of hoër in Wiskunde behaal; en slegs 13 589 het 70% of hoër in Fisiese Wetenskap behaal. Hierdie groep is in elk geval tipies ook die matrieks wat nie direk ná skool die arbeidsmark betree nie maar eerder verder studeer.

Joubert het verder gesê dat mense met hoër kwalifikasies beter vergoeding ontvang. “Die data toon dat vergoeding oor die algemeen vinnig styg namate ondervinding toeneem, veral vir mense met hoër kwalifikasies. Diegene wat pas afgestudeer het, moet dus nie verwag om met die intrapslag by hul eerste werk dieselfde salaris te verdien as ouer mense met meer ondervinding nie,” het Joubert gesê.

Laai die volledige verslag hier af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SmittieZa ·

My ervaring is dat die arbeidsmark nie noodwendig kundigheid beloon nie.

CHRISTA CONTINO ·

Kan jy die arbeidsmark kwalik neem as hulle nie matrikulante wil aanstel nie? Ek het vir ‘n arbeidsmakelaar gewerk en net die spelling op die CV’s was SKOKKEND. As jy in die verlede nie behoorlik kon spel nie het jy jou taal-vak gedruip. En as jy jou taal-vak gedruip het, het jy jou STANDERD gedruip!!

CHRISTA CONTINO ·

ek weet nie wat ek moet voltooi nie – altwee die velde (naam en e-posadres is voltooi)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.