Twee matriekleerders is Donderdag aan ʼn hoërskool in Roodepoort geskors, nadat ʼn video van ʼn seksuele aard van die twee op sosiale media versprei is.
Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling sê in ʼn verklaring die twee gr. 12-leerders het aan West Ridge High School skoolgegaan.
“ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die voorval verlede Vrydag (7 Februarie) by die Westgate-winkelsentrum naby die skool plaasgevind het,” lui ʼn verklaring deur die departement. “Die skool se beheerliggaam sal die nodige dissiplinêre verhoor instel, wat op Maandag 24 Februarie begin. Alle betrokke ouers sal deur die loop van die proses ingelig word. Die skool sal ook bygestaan word om voorkomende maatreëls op te stel, ten einde te voorkom dat ʼn soortgelyke voorval in die toekoms plaasvind.”
Panyaza Lesufi, LUR van onderwys, sê hulle veroordeel ten sterkste enige optrede deur leerders wat die integriteit en waardigheid van onderwysinstellings ondermyn. “Dit is belangrik om leerders te herinner dat hulle altyd op onderwys moet fokus as hulle suksesvol wil wees in dít wat hulle in die toekoms aanpak.” Hy het ouers ook gemaan om skole te help om dissipline af te dwing in en om die skoolomgewing.
ʼn Span sielkundiges is na die skool ontplooi om die nodige ondersteuning te bied aan almal wat deur die voorval geraak is.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
19 Kommentare
Die artikel kom effens vaag voor.
Nie regtig veel inligting oor die voorval of wat gebeur het nie.
Is die nie beter om ‘n volledige artikel te plaas, as om net ‘n sensasie “lok mense om te kyk” tipe artikel te plaas nie?
En met die nuwe seks leerplan wat nou ingestel word, gaan daar meer van hierdie tipe ding gesien word.
Dis net sensasie. Hoekom ñ skool se naam skade doen? Dis die leerders wat aanjaag.
Hulle het huiswerk dan gekry. Dis dan niou ‘n skool vak.
Sal graag wil hoor hoekom die skool betrokke raak as die voorval buite die skool gebeur het. As die video in die skool versprei word moet die leerders wat dit versprei het gedisiplineer word.