Matrieks het hulp nodig met hoë studiekoste

Argieffoto

Argieffoto

Solidariteit Helpende Hand se studiefondssentrum word tans oorval met aansoeke van matrieks wat verder wil studeer.

Die sentrum help vanjaar reeds 1 500 studente met rentevrye studielenings ter waarde van R40 miljoen, maar meer as 6 000 aansoeke vir hulp is reeds ontvang en aansoeke stroom steeds in.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het Helpende Hand die afgelope vyf jaar reeds meer as 5 000 studente met hul studies bygestaan. “Die studiefondssentrum is trots op die rentevrye lenings se terugebetalingskoers van 98%, en glo dit sê baie van die gehalte student wat deur die sentrum bygestaan word. Studente wat aansoek doen vir hulp word streng volgens meriete en behoefte gekeur, en die slaagsyfer onder leninghouers word op sowat 90% beraam – veel hoër as die nasionale gemiddeld,” het Buys gesê.

Volgens Buys plaas die uitdaging om studiekoste te finansier groot druk op instellings soos Helpende Hand se studiefondse om in die toenemende behoeftes van belowende jong mense te voorsien. “Daarom word ’n beroep op sakelui en die publiek gedoen om in verdienstelike studente se toekoms te belê deur met studiegeld te help. Die Helpende Hand Studiefonds word deur gewone mense befonds wat graag ’n toekoms vir jong mense wil verseker. Besteding in opleiding bly die beste belegging wat ’n mens kan maak,” het Buys gemaan.

“’n Matriekkwalifikasie is ’n toegangskaartjie tot verdere opleiding wat jongmense in staat sal stel om ’n goeie werk te bekom of ’n klein onderneming te begin. Navorsing bied oorgenoeg bewys dat mense met goeie kwalifikasies beter werk met hoër inkomstes kry, en ook moeiliker hulle werk verloor as daar ’n ekonomiese afswaai is,” het Buys verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan Jooste ·

Genadiglik kon twee van my kinders reeds met Helpende Hand hulp hul studies voltooi, en die derde sy eerste jaar. Baie dankie vir jul helpende hand. Daarsonder sou ons dit nie kon maak nie – want nog nie een kind kon ‘n beurs bekom nie. Voorspoed.

Marie-Louise ·

Is hierdie hulp net vir Afrikaans sprekende studente wat in Afrikaans wil studeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.