Matrieks met Covid-19 mag eindeksamen skryf

(Argieffoto: Facebook)

Matrieks wat positief toets vir Covid-19 sal wel toegelaat word om hul eindeksamens af te lê.

Die departement van onderwys het voorheen riglyne bekend gemaak waarvolgens leerders wat positief vir Covid-19 toets, nié toegelaat sou word om ʼn eksamenlokaal binne te gaan nie.

Die departement het sedertdien voorleggings van ouers en leerders ontvang om die besluit te hersien. Die onderwysdepartement het nou saam met die departement van gesondheid die voorleggings oorweeg en oor die praktiese gevolge daarvan beraadslaag.

Daar is ooreengekom dat kandidate wat positief toets en in staat is om ʼn eksamen af te lê, toegelaat sal word om te skryf. Dit sal by ʼn ander lokaal wees en wel voldoen aan eksamenregulasies, het die departement van onderwys gesê.

Die departemente sê hulle gaan saamwerk om te verseker dat kandidate wat positief getoets het, die geleentheid kry om die eksamen af te lê terwyl veiligheid gehandhaaf word.

“Ons verwelkom die ingryping deur die departement van gesondheid, gegewe die feit dat ʼn leerder wat positief toets die verantwoordelikheid van die departement van gesondheid word en dit nie langer ʼn onderwyskwessie is nie,” het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gesê.

“Daar is wyd beraadslaag oor die aanvanklike protokol en die gesondheidsdepartement het dit goedgekeur. Die verandering in protokol help omdat dit alle leerders die kans sal gee om hul eksamens af te lê.”

Motshekga het gemaan dat die toegewing nie beteken dat mense nou laks kan raak oor veiligheidsmaatreëls wat daarop gemik is om die verdere infeksies te voorkom nie.

Leerders sal by eksamenlokale gesif word en diegene met ʼn temperatuur bo 38 °C sal die eksamen in ʼn isolasielokaal by die skool aflê.

Dié leerders sal dadelik na die spesifieke vertrek geneem word en nie toegelaat word om met ander leerders te sosialiseer nie. Hulle sal ook na ʼn gesondheidsentrum vir mediese sorg geneem word.

Die onderwysdepartement sê hy is verbind daartoe om te verseker leerders lê die eksamen in die bes moontlike omstandighede af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

domheks ·

Die toetse is glad nie akkuraat nie! Nou al van ‘n paar mense gehoor wat by ‘n sekere plek positief toets en ‘n dag of twee daarna by ‘n ander plek negatief toets.
Ek dink iemand/regering is besig om ons ‘n PAMPOEN te rol!

Dries ·

Dis nie net in SA waar toetse nie akkuraat is nie. Feit bly staan, daar is mense wat positief toets, en op ‘n ventilator stoksiel-alleen in ‘n hospitaal sterf. Ek ken ongelukkig sulke gevalle. So hou maar by die reels.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.