Matrieks positief oor wiskundevraestel

Argieffoto

Matrikulante sê hoewel hulle met sekere vrae in die tweede wiskundevraestel kopgekrap het, dit heelwat makliker as die eerste vraestel was.

Lindy Grobbelaar (18), ’n matrikulant aan ’n hoërskool in Pretoria, sê daar was Maandag geen buitengewoon moeilike vrae in die meetkunde-vraestel nie.

“As jy koelkop gebly het, kon jy al die vrae gemaklik antwoord. ’n Mens kon duidelik tussen die moeilike en makliker vrae onderskei,” het Grobbelaar aan Maroela Media vertel.

Grobbelaar meen dit is van kardinale belang dat sy die nodige teorie onder die knie gehad het omdat van die vrae anders gestel was as in vorige jare se vraestelle.

Volgens Grobbelaar was daar meer insigvrae en vangplekke in die eerste wiskundevraestel.

“Almal het geworstel met die woordsom-vraag aan die einde van vraestel een,” vertel sy.

Nog twee leerders van skole in Pretoria sê hulle het in die tweede wiskundevraestel die meeste klei getrap met vrae in die euklidiese meetkunde en analitiese afdeling.

Een van dié leerders het, nes Grobbelaar, die tweede vraestel makliker as die eerste een gevind, terwyl die ander leerder meen dit was een van die moeiliker vraestelle wat sy tot dusver geskryf het.

Dié leerder sê die meetkunde vrae was vir haar moeilik omdat dit meer insig en dus tyd geverg het. “Omdat ek so baie tyd aan hierdie vrae spandeer het, het my tyd uitgeloop en kon ek nie heeltemal klaarkry nie,” vertel die leerder.

Al drie leerders werk om ’n onderskeiding in wiskunde te kry.

ʼn Verteenwoordiger van Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) is van mening dat die eerste wiskundevraestel heel billik was met ’n goeie variasie van maklike, gemiddelde en moeilike vrae.

“Daar was hier en daar ’n uitvangvraag waar leerders die vrae deeglik moes deurlees voordat hulle kon antwoord,” het die verteenwoordiger gesê.

Volgens die verteenwoordiger sal bogemiddelde leerders met gemak tussen 95% en 100% vir die eerste vraestel kan kry. “Daar was ook genoeg maklike vrae vir swakker leerders om te kan slaag.”

Sy sê vraestel twee was netjies uiteengesit, met geen vangplekke nie en selfs moeiliker vrae was nie besonder ingewikkeld nie.

Lampies Lötter, nog ʼn vakkenner verbonde aan die SOS, sê ook Maandag se vraestel was standaard en leerders wat ou vraestelle ter voorbereiding deurgewerk het, sal waarskynlik goed presteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Belinda ·

Ek hoop hulle kan sien wat hulle leer want ek dink hierdie kragonderbrekings is verregaande!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.