Matrieks sê chemie-vraestel ‘makliker’ as fisika

Argieffoto

Sommige matrieks wat vanjaar fisiese wetenskap in die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen skryf, het vanoggend dié vak se chemie-vraestel afgelê en meen dit was makliker as die fisika-vraestel van verlede week.

Xander Bezuidenhout (18) van HTS John Vorster in Pretoria sê hoewel daar vangplekke in vandag se drie uur lange vraestel was, dit vir hom steeds makliker as die fisika-vraestel was.

Volgens Bezuidenhout sal sommige van sy klasmaats egter nie hiermee saamstem nie en meen dat daar sommige vrae in die chemie-vraestel was wat hulle nie sou kon beantwoord nie.

Hy verduidelik hoewel hy verskeie vraestelle voor die eksamen deurgewerk het, daar steeds vrae in die vraestel was wat nog nooit tevore op dié spesifieke wyse gevra is nie. Dié slimkop glo wel hy sal sy onderskeiding in fisiese wetenskap behaal.

Kayla Gates (18) van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp erken daar was taai vrae ook in die vraestel. Sy glo egter dat sy beter in chemie gaan vaar as in fisika en dat matrieks net weer mooi deur die vrae moes gelees het om hul foute agter te kom.

“Daar was een som van sewe punte en ek het geweet my antwoord is nie reg nie. Ek het weer gaan lees en toe my fout agtergekom,” verduidelik sy.

Gates vertel dat sy met 40 minute oor haar vraestel voltooi het en dus genoeg tyd gehad het om haar foute te gaan soek.

Sy sê sy sal daarvan hou om ʼn onderskeiding in fisiese wetenskap te behaal. Indien nie, glo sy dat sy minstens meer as 70% sal behaal.

Albei sê hulle is verlig dat fisiese wetenskap agter die rug is en hulle nou op ander vakke kan konsentreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
jaco

Al weer n monkey puzzle antwoordstel op die foto. Ek weet skoolstandaarde is laag, maar eks verbaas dat dit só laag is.