Matrieks: Só lyk ‘ware’ syfers

(Argieffoto: Christa Steyn Bezuidenhout)

Die matriekklas van 2021 is die eerste groep wat die volle gr. 11- en gr. 12-skooljaar te midde van inperkings, die sluiting van skole, ʼn rotasiebeleid vir klasse en deurlopende verandering aan hul skoolomgewing afgehandel het. Daarvoor wens die DA hulle geluk, maar die amptelike opposisie sê ook die slaagsyfer wat die minister van basiese onderwys bekend gemaak het, weerspieël nie die werklikheid nie.

Min. Angie Motshekga het ʼn slaagsyfer van 76,4% aangekondig. Bax Nodada, die DA se woordvoerder oor onderwys, sê die departement gee geen rekenskap vir leerders wat tussen gr. 10 en matriek uitgesak het nie.

“Die ware slaagsyfer is moontlik veel laer,” sê Nodada.

Altesame 897 163 leerders het die afgelope eksamen afgelê, terwyl 1 045 424 in 2019 vir gr. 10 ingeskryf het.

“Dit beteken minstens 148 261 leerders (15%) het uit die stelsel gesak en nie matriek voltooi nie. Dié syfer is veel hoër as ons die leerders in ag neem wat die eksamen gedruip het.

“Die DA glo so baie het uitgesak weens die streng inperkingsregulasies wat die departement ingestel het.”

Nodada sê Motshekga skets boonop ʼn onrealistiese prentjie van wat werklik op grondvlak gebeur. Die onderwysstelsel steier jaar ná jaar van die een krisis na die volgende en dit kan duidelik in die uitvalkoers gesien word. Die Covid-19-regulasies het die situasie net vererger.

Die minister moet nou ophou om die sistemiese mislukkings in haar departement te probeer verdoesel en eerder maniere kry om kinders op die skoolbanke te hou, sê hy.

Pandemie ‘handige verskoning’

Die burgerregtegroep AfriForum is ook diep bekommerd oor die getal leerders wat uitsak. Die organisasie sê die “onbeholpe onderwysdepartement” kon nie in die pad van presterende matrieks staan nie, maar laat die jeug nietemin in die steek.

AfriForum vergelyk al langer as ʼn dekade die gr. 1-leerders wat inskryf met die getal wat hul skoolloopbaan in gr. 12 voltooi.

“Die slotsom bly dat sowat ʼn derde of meer van die leerders uit die stelsel verdwyn voor hulle matriek slaag. Weens die departement se swak hantering van die pandemie is daar in dié verband al verlede jaar kommer uitgespreek oor die sowat 200 000 leerders wat nie in 2021 teruggekeer het skool toe nie,” sê Alana Bailey.

“In aansluiting hierby sien ons weer vanjaar dat duisende leerders wat wel terugkeer, nog nie in skole geplaas is nie, of nog nie die nodige leermateriaal ontvang het nie. Die pandemie het ʼn handige verskoning geword vir die gebrek aan dienslewering aan gemeenskappe deur te sorg dat daar voldoende skole gebou en funksioneel bedryf word,” sê Bailey.

In Julie 2019 het die hooggeregshof in Pietermaritzburg ten gunste van die Nkungumathe- gemeenskap naby Qunu in die Oos-Kaap, bygestaan deur AfriForum, beslis dat die provinsiale onderwysdepartement verplig is om ʼn skool vir hulle te bou – soos wat al ʼn dekade vroeër beloof is. Tot vandag is niks nog gebou nie, met begrotingsuitdagings weens die koronaviruspandemie as verskoning.

“Intussen moet leerders kilometers ver stap na oorvol skole, slange en riviere in vloed trotseer en tot tien saam uit een handboek probeer werk,” sê Bailey.

Suid-Afrika het ʼn enorme onderwysbegroting en AfriForum sê dit moet meer doeltreffend aangewend word.

‘Matriek’ vir meeste hul laaste kwalifikasie

Die VF Plus sê die afwaartse neiging wat verlede jaar in die matriekuitslae gesien is, het ten minste gestabiliseer.

“Dit dui daarop dat talle onderwysers, ouers en leerders vasbeslote was om hulle nie te laat onderkry nie,” sê dr. Wynand Boshoff, die party se woordvoerder oor basiese onderwys.

“Terwyl onafhanklike eksamenowerhede – die onafhanklike eksamenraad en die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut – hul prestasie tydens die grendelstaat kon handhaaf of selfs verbeter, verkeer ʼn groot deel van die openbare onderwyssektor ongelukkig steeds in die dryfsand.”

Uit die matriekgroep het 36,4% geslaag met universiteitsvrystelling, 25,3% met diplomatoelating en 14,8% met toelating tot hoër sertifikaatstudie.

Boshoff sê in die huidige ekonomiese klimaat sou ʼn doeltreffende onderwysstelsel hoop kon bring.

“Die Nasionale Senior Sertifikaat, matriek in die volksmond, is volgens die departement ʼn kwalifikasie wat leerders vir verdere studie voorberei en nie vir die werkplek nie. Die werklikheid is egter dat dit vir ʼn oorweldigende meerderheid matrikulante hul finale kwalifikasie is.”

Boshoff sê die werklikheid is ook dat slaagvereistes so laag is dat talle matrieks nie verder kan studeer nie, maar ook nie toegerus is om direk tot die ekonomie toe te tree nie.

Die slaagsyfer van 76,6% is dus “misleidend”, sê Boshoff, omdat suksesvolle kandidate wat nié met universiteit- of diplomatoelating slaag nie, se ekonomiese vooruitsigte uiters beperk is.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê Suid-Afrika se openbare onderwys huisves duidelik twee uiteenlopende stelsels in een.

“Ongeveer 10% van skole presteer uitnemend en handhaaf slaagsyfers digby 100%. In 72% van skole gaan leerders egter steeds net nou en dan skool en is maande lange onderrigtyd verlore. Die gaping tussen suksesvolle en sukkelende openbare skole is beklemtoom deur die pandemie en hoë uitvalsyfers in sommige skole,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by SOS.

Sy sê die aanpassing van punte en slaagvereistes wat baie laag gestel word, laat die slaagsyfer waarskynlik beter lyk as wat dit werklik is.

“Die langtermynskade van verlore onderrigtyd en leerders wat moed opgee of druip, het ʼn verwoestende invloed op die ekonomie,” sê Buys. Sy meen ook die departement se gebrek aan strategie, ongekoördineerde ingrypings en min gevolge vir onderpresterende onderwysers in diens van die staat vererger die probleem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pierre ·

met n slaag syfer van 30percent per vak wat benodig word, sal jy na n chirug gaan met 30percent slaag syfer?

Anoniem ·

Beslis nie. 48% van matrikulante se punte is ook opwaarts aangepas, dus deurgesit.

Kenny ·

As ‘n student kan ek nou sê, geen persoon wat met net 30% geslaag het gan plek by enige universiteit kry nie. Om bv. vir medies anvaar te word, moet jy uitstekende punte behaal in al jou vakke, wat sou se 85% of hoër en dan is jy nog glad nie verseker dat jy anvaar gan word nie.

MakersMark ·

30% slaagpunt. “Dumbing of the nation”. Sien dit oral. En met die 30% slaagpunt moet dit nog steeds aangepas word. Pateties.

007 ·

Die DA het die perdjie nou al holrug gery die laaste paar jaar. Die syfers is korrek. Almal wat ingeskryf het vir Graad 12 in 2021 het net 76% dit geslaag. Maar hoekom kla hulle nie soos Musi oor die lae slaag persentasie van 30% nie. Jy kan nie die lot wat gedruip het en gedros het in die laaste 2 jaar by reken nie.

Chantel ·

Is jy 100% seker almal het gedros, jou woorder? Oorweeg dalk moes van hierdie kinders inspring en ‘n werk soek.

Samuel ·

Wat is waarheid? Alles wat die ANC kwytraak moet jy met ‘n knippie sout neem.

Kobus ·

Slaag persentasie is 33% maar op UV 50%. Studente word toegelaat en sak eerste semester uit. Dis vernederend maar niemand gee ‘n duit om vir hulle nie. Waarom word standaarde aangepas om mense gelukkig te hou?

Johan ·

Met slaagsyfer van 30% word ons land net dommer.
Waar kom water vandaan? By die kraan
Waar kom kos vandaan? By die winkel
Waar kom medisyne vandaan? By die kliniek
Waar kom geld vandaan? By die bank
Die geslag wat opgelei word vir die toekoms het nie die vermoë om te regeer en te organiseer nie. Kan dit nou nie eers regkry nie

Nie Verbaas ·

Kyk bietjie hoeveel leerlinge het geslaag met 45% en hoër. Hoe kan jy met n slaagpunt van 30% dit eers waag om verder te gaan studeer? Die ANC is werklik n grap. In plaas daarvan om onderwysstelsel te verbeter, verlaag hulle net die slaagpunt. Hoe kan n regering so vertraag wees om te dink die 30 presenters kan tot voordeel van die ekonomie strek?

Heinrich ·

Onderwys val vêr te kort agv verskeie uiteenlopende omstandighede in SA. In plaas van BEE en ander korrupte beleide, asook om mense te betaal om kinders te kry, stel eerder ‘community colleges’ bekend wat mense (ongeag van ras) die geleentheid gee tot gratis aandklasse of Saterdag klasse met ‘n finansiële bydrae (vir dié wat klasse bywoon en vakke slaag) wat dalk ‘n dagloon moet mis om klas by te woon. Bied matriek oor twee of drie jaar aan. Skep interskappe om hierdie persone (wat dan wys dat hulle ernstig is om te leer maar dit nie kan bekostig nie) geleenthede te gee (weereens ongeag ras).

Harley Davidson ·

Die land se jeug sal dommer word soos die jare aanbeweeg met hierdie primitiewe sisteem tot almal weer onder ‘n boom bly en net vir homself sorg.

quartus ·

Die matriek sertifikate is nie meer die papier werd waarop dit gedruk is nie. En die matrikulante wat nie verder gaan studeer gaan nou weer waar werk kry?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.