Matrieks vaar effe beter in 2021

skole matrieks matriek matriekeksamen onderwys

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Ondanks die vele uitdagings wat die Covid-19-pandemie teweeggebring het, het die matriekklas van 2021 ʼn algehele slaagsyfer van 76,4% behaal.

Dit is 0,2% beter as die 76,2% wat matriek in 2020 geslaag het.

Die getal onderskeidings en matriekvrystelling (wat leerders universiteitstoelating gee) wat verwerf is, het ook toegeneem.

Die uitslae van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen is Donderdagaand amptelik deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, bekendgemaak. Sy het die 2021-groep vir hul volharding te midde van uiters uitdagende omstandighede geloof.

Sou leerders wat oorgeplaas is sonder om gr. 11 te slaag, by die 76,4%-slaagsyfer ingesluit word, sou 79,8% leerders geslaag het. Dit is net onder die 80%-doelwit waarna die regering sedert 2019 streef.

Uit die 700 604 leerders wat verlede jaar die matriekeksamen afgelê het, het 256 031 (36%) met matriekvrystelling geslaag. Dit verteenwoordig ’n toename van 21,4% vergeleke met 2020.

“Dit is boonop die hoogste aantal leerders om in die geskiedenis van matriekeksamens met vrystelling te slaag,” het Motshekga gesê.

Altesame 177 572 (25%) leerders het met diplomavrystelling geslaag, wat ʼn verbetering van 17,8% teenoor die vorige jaar verteenwoordig.

Dié wat in 2021 met toegang tot ʼn hoër sertifikaat geslaag het, staan op 103 859, terwyl 103 leerders (0,01%) met ʼn nasionale senior sertifikaat geslaag het.

Altesame 61,6% van leerders wat met universiteit- of diplomavrystelling geslaag het, kan nou hul studie aan tersiêre onderriginstellings voortsit.

Die matriekklas van 2021 het ook altesame 211 725 onderskeidings losgeskryf. Dit dui op ʼn toename van 19,3% teenoor 2020. Die provinsies wat tot die meeste onderskeidings bygedra het, was KwaZulu-Natal (61 887), gevolg deur Gauteng (47 399), die Wes-Kaap (29 542), die Oos-Kaap (24 174) en Limpopo (17 751).

Só het die provinsies gevaar

Die Vrystaat het met ’n slaagsyfer van 85,7% die beste gevaar, gevolg deur Gauteng (82,8%) en die Wes-Kaap (81,2%), Noordwes (78,2%), KwaZulu-Natal (76,98%) en Mpumalanga (73,6%).

Die Oos-Kaap het ’n slaagsyfer van 73% behaal, wat ’n 4,5%‑verbetering teenoor verlede jaar verteenwoordig.

Die Noord-Kaap, met 71%, het egter die grootste verbetering getoon (5,4%). Limpopo het ’n slaagsyfer van 66,7% behaal – die enigste provinsie in die land met minder as 70%.

Die toppresterende distrikte is onder meer Tshwane-Suid, die Motheo- en Fezile Dabi-distrik in die Vrystaat en Johannesburg-Wes. Al vier distrikte in die Vrystaat is onder die top‑10‑ presterende distrikte.

Die Wes-Kaap het ook die topleerder vir 2021 opgelewer.

Ulrich le Roux, wat verlede jaar aan die Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer het, is as die topleerder vir 2021 aangewys.

‘Stabiliteit bereik’

Motshekga meen die onderwysstelsel het nou begin om die nodige stabiliteit te bereik.

Sy het die matriekklas van 2021 vir hulle veerkragtigheid tydens die Covid-19-pandemie geprys, en leerders wat nie so goed gevaar het nie, bemoedig.

Sy het ook skoolhoofde, onderwysers, steunpersoneel en ouers vir hul ondersteuning bedank, wat gehelp het om die indrukwekkende matriekuitslae moontlik te maak. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tubac

Bereik stabiliteit deur die slaagsyfer van 50% na 30% te bring. Wonder watter besighede gaan n persoon met n 30% slaagsyfer in diens neem. Seker maar die staatsinstellings.

tweeling

Hoe kan ek dit glo as wyd verkondig is dat punte aangepas is