Matrieks verlig oor vraestel twee se lang vraag

Argieffoto

Matrieks het ’n sug van verligting geslaag oor die lang vraag in lewenswetenskappe se tweede vraestel.

Dié vraag, wat meermale oor evolusie handel, is gewoonlik die grootste struikelblok. “Die lang vraag was baie beter as wat ons almal verwag het,” sê Jennifer Wilson, ’n matrikulant aan die Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit.

Anina Kruger, nog ’n matrikulant aan dieselfde skool, sê sy was tevrede met die lang vraag en dat die vraestel geen vangplekke bevat het nie.

“Dit is ’n groot verligting dat matrieks vanjaar die lang vraag maklik gevind het,” sê Hugo Vermeulen, onderwyskenner verbonde aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS).

“Hierdie vraag is dikwels die rede dat leerders nie ’n onderskeiding behaal nie of selfs die vak kan druip.” Vermeulen sê omdat die vraag gewoonlik oor evolusie handel, val dit dikwels buite leerders se verwysings- of selfs geloofsraamwerk.

“Menige matrikulant blaai heel eerste na die lang vraag en verloor maklik moed nog voor hulle begin skryf het indien die vraag ingewikkeld of uitdagend lyk. So verloor hulle dan kosbare punte, aangesien die lang vraag 20 punte tel.”

Vanjaar het die vraag egter oor RNS en proteïensintese gehandel en die meeste leerders kon dit met gemak beantwoord.

Matrikulante het ook die eerste lewenswetenskappevraestel, wat Vrydag geskryf is, heel billik gevind. Jeanine de Beer, ’n lewenswetenskappe-onderwyseres aan Hoërskool Erasmus, het vroeër gesê dat leerders ook tevrede was met die lang vraag van 17 uit 150 punte. Dié vraag het hul kennis in graad 11-omgewingstudies getoets en gehandel oor die invloed van temperatuur.

De Beer het gesê dat matrikulante gewoonlik meer met die tweede vraestel sukkel. Dié vraestel handel oor DNS en genetika.

Matrikulante het nog sowat drie weke van eindeksamen oor met tale soos Afrikaans-huistaal, Engels-huistaal en Sesotho wat voorlê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan Brand ·

Die matrikulante sukkel met ‘n vraag oor evolusie! Hoe is dit moontlik? Sal hulle ook sukkel met ‘n vraag oor die sonnestelsel met die son as middelpunt? Sal hulle ook sukkel met ‘n vraag oor twee mense in ‘n paradys met ‘n slang wat praat? Iemand maak hulle koppe deurmekaar! Evolusie is ‘n wetenskaplike teorie net soos teorieë oor swaartekrag, elektromagnetisme, die atoom, chemiese binding en duisende ander. En hulle kan vrae oor proteïensintese beantwoord! Die werking van DNA en RNA in lewende selle (wat deur evolusie ontstaan het) is van die groot teorieë in biochemie.
Ag nee, leer ons leerders op skool tog asseblief die waarheid. Moenie bewese wetenskaplike teorieë met ongegronde dogma besoedel nie.

Susan de Alckher ·

Vraestel 2 is veel minder en makliker leerwerk as Vraestel 1. Maar elke jaar merk Vraestel 2 heelwat swakker uit as vraestel 1 in die eindeksamen wanneer ons onderwysers gaan merk.

Die kinders onderskat hierdie vraestel en sê altyd “Ja dit was maklik” tot hulle uitvind hulle het beter in vraestel 1 gevaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.