‘Matrieksertifikaat nie genoeg vir goeie werk’

eksamen 4 matriek toets uitslag

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het Woensdag gesê die verwerwing van ’n matrieksertifikaat is onvoldoende om ’n goeie werk te bekom.

Dit volg nadat 2015 se matriekresultate gister deur die departement van onderwys bekendgemaak is.

In sy jongste verslag oor werkvooruitsigte vir matrikulante benadruk die Solidariteit-navorsingsinstituut die feit dat die moderne ekonomie veel meer kennis van jong mense vereis as dit wat deur ’n matriekkwalifikasie gebied word.

“Die verslag dui daarop dat die besit van ’n matrieksertifikaat nie ’n baie groot invloed het op ’n persoon se kans om werk te kry nie,” sê Francois Redelinghuys, woordvoerder van Solidariteit.

“Onder werkende mense met matriek as hoogste kwalifikasie het slegs sowat 30% in 2011 meer as R6 400 per maand verdien terwyl van die groep werkende mense wat oor matriek, asook ʼn sertifikaat of diploma beskik, meer as 50% ʼn inkomste van meer as R6 400 per maand verdien het. Wanneer persone egter oor ’n graad beskik, verhoog die persentasie tot bo 80%,” het Redelinghuys verduidelik.

“Luidens die verslag word Suid-Afrika se arbeidsmark reeds dekades lank oorweldig deur ’n groot ooraanbod van mense met geen of min opleiding. Hoewel die eng werkloosheidskoers in Suid-Afrika op 25,5% staan, is dit meer kommerwekkend dat die werkende groep nie eens 44% van die totale getal mense van werksouderdom uitmaak nie. In ʼn welvarende land moet hierdie persentasie nader aan 65% wees,” sê Redelinghuys.

“Dit gaan waarskynlik moeilik wees vir diegene wat hul matrieksertifikate in 2016 ontvang het en dadelik wil begin om werk te kry – veral ʼn werk wat goeie vergoeding bied. Natuurlik word niemand hiermee afgeraai om wel vir werk, énige werk, aansoek te doen nie. Die beste opsie bly egter verdere opleiding,” het Redelinghuys gesê.

Klik hier om die volledige verslag te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

DPJ ·

Verdere opleiding is nie altyd die een en al nie. Dit gee die werrsoeker net meer geleendheid om ondervinding op te doen.

Christine ·

Opleiding….waar begin jy? Hoekom so duur? Hoekom nie ook verblyf beskikbaar? Daar kan klasse aangebied en bygewoon word,maar waar is die akkomidasie,kos,ens? Hoekom so ver? En laastens, hoekom word jy nie goedgekeur?

Leendert van Oostrum ·

Dit is waar dat die hedendaagse ekonomie meer kennis vereis. En dit is waarom die matrieksertifikaat nie nuttig is om werk te kry nie – mens kan die sertifikaat kry met bitter min kennis.

Maar ‘n ander belangrike verskynsel is dat die kennisbasis van baie beroepe vandag so vinnig verouder dat die sertifikaat verouderd is die dag as hy uitgereik word. Die antwoord word toenemend gesoek in indiensopleiding en kortkursusse vir “just in time training”.

Daarom is dit ook waar dat werkgewers toenemend nie meer kyk na die sertifikaat nie, maar na die CV. En dikwels nie eens meer ‘n sertifikaat vereis nie.

Ja, sommige grade het nog waarde – daardie soliede outydse BA’s en BSc’s wat ‘n behoorlike begrondig in fundamentele denkgreedskap gee, waarop later gebou kan word met korttermynkursusse.

Solidariteit se verouderde vakbondonderrok hang ver uit met hierdie berig – die idee dat kennis noodwendig met kwalifikasies verbind moet word, en die implikasie dat enige kwalifikasie (ongeag die jare wat dit neem en die skuld wat opbou om dit te verwerf) beter is as geen kwalifikasie nie. Hierdie idee word elke dag toenemend ongeldig.

Frans ·

Die verkryging van kennis en die erkenning daarvan in ‘n sertifikaat hetsy matriek of graad is die eerste stap.Die tweede stap is natuurlik die praktiese toepassing daarvan dus van teorie na praktyk.

Ek was versom dat selfs ouditeure van belangrike ouditfirmas en stringe grade nie eers ernstige stelselfoute kon opspoor nie wat veral ingetree het nadat munisipaliteite van hand en kaartstelsel na rekennaarstelsel oorgeskakel het.

Begrotings van bedryfsdepartemente het nooit geklop nie en was veral die arbeidskomponente gedurig oorskry en moes baie amptenare lang verslae skryf om dit te verduidelik.Omdat ek gatvol vir die storie geraak het,het ek besluit om na ure op my eie tyd ondersoek in te stel.

Die antwoord was verstommende eenvoudig .Die rekenaarstelsel was so geprogrameerd dat dit alle loon en -salarisbetalings in ‘n afwagrekening geplaas het wat dan in ‘n redelik ingewikkelde koste berekeningstelsel verwerk is en die arbeidskomponent op grond van ingediende tydstate na werksopdragte toegewys het.

Maar niemand het nooit daaraan gedink dat ‘n klerk met ‘n dik joernaalboek presies dieselfde doen en ook deur middel van joernaalinskrywings die salaris en lone rekening
‘skoonmaak’ na dieselfde afwagrekeninge.NIemand het daaraan gedink om by die inwerkingtreding van die rekenaarstelsel ,handstelsels af te skaf en die klerke vir ander werk te gebruik.

Daar was dus duplisering van talle insette, jarelank en niemand ,nie die O&M later werkstudiedepartemente het dit opgemerk nie.Ja daar was baie rooi gesigte in die Tesouriersdepartement en is dit stilletjies en vinnig reggemaak.

Groot was my verbasing dat ‘n vriend van my presies dieselfde probleem in ‘n bank ondervind het.

Griet ·

Wonderlik!! Almal het baie hoë IKs en almal kry universiteitstoelating! Ek het nuus vir julle – ongelukkig is daar kinders wat nie universiteitstoelating kry nie, kinders wat nagte omsit met huiswerk en leer, kinders wat nie die verstandelike vermoë het nie. Baie van hulle het matriek sonder universiteitstoelating of vrystelling. Wat van hulle? Dink asseblief aan hierdie kinders en mense ook!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.