Matriekseun dood in bad gevind

Brandon Roux (18). Foto: Facebook.

Die gemeenskap van Upington is geruk deur die dood van ʼn geliefde matriekleerder.

Brandon Roux (18) is Maandagaand dood aangetref in ʼn bad water in ʼn werkershuis op ʼn soutpan naby Askham in die Noord-Kaap.

Kapt. Jacques September, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê sy liggaam is omstreeks 18:00 deur ʼn gesinsvriend gevind.

“Sy pa werk op die soutpanne en het bekommerd geraak omdat hy hom nie in die hande kon kry nie. Hy het ʼn gesinsvriend gevra om te gaan kyk, en dit is toe dat hy op die seun se liggaam afgekom het,” het September gesê.

Sy hondjie is ook dood voor die badkamerdeur aangetref. “Die vermoede dat die geisergas gelek het, word ondersoek. Dit is egter nog nie in dié stadium bevestig nie.” Roux was alleen in die huis ten tyde van die voorval.

Roux is op die toneel dood verklaar. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen om die oorsaak van sy dood te bepaal. “Ons kan nie bevestig of hy verdrink het of nie, daar was wel water in die bad.”

Riaan Kotze, skoolhoof van die Hoërskool Upington waar Roux ʼn matriekleerder was, het gesê die skool is baie geskok en hartseer. “Hy was regtig geliefd, veral onder die koshuiskinders. Die koshuiskinders ken mekaar mos op ʼn ander manier as die dorpskinders,” het Kotze gesê.

Volgens Kotze is Roux sedert gr. 9 in die skool. “Hy het regtig met sy glimlag ʼn verskil in ander se lewe probeer maak. Hy was ʼn stil rustige seun. ʼn Pragtige kind.”

Hy was ook ʼn kranige rugbyspeler en het vir die skool se tweede span uitgedraf.

Ouers van die die skool is via sosiale media óf die skool se interne kommunikasiestelsel van Brandon se dood in kennis gestel.

Daar is glo nog nie begrafnisreëlings getref nie. “Ons kan nie nou al sê of ons vir hom ʼn gedenkdiens sal hou nie omdat dit skoolvakansie is, sy maats gaan dit nie kan bywoon nie. Ons sal kyk sodra die kwartaal weer begin,” het Kotze verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anre ·

Ai… dis tragies!! :(

(Ek wil net noem, ek het die woordjie “gas” gemis die eerste keer en as jy dit so lees klink dit darem maar baie verdag en vreemd. Ek dog nogal nou hoe gaan jy dood van ‘n geyser wat lek…? Hoekom is die hondjie dood en hoe het hy verdrink as hy by was ens ens. Wys net hoe vinnig iets misverstaan kan word…). :(

10 uit 10 ·

Maroela Media BAIE DANKIE vir julle puik dienste. Ek wou vanoggend die berig lees op NETWERK 24 maar kon ongelukkig nie want hulle soek mos betaling. Maar Maroela Media bied gratis nuus aan sy volk. VIVA Maroela Media

Poplap ·

Die pa is ‘n werker op die soutpanne – daarom bly hulle in ‘n werkershuis.

Vra maar net ·

Is dit nie moontlik dat dit ‘n gas geyser was nie? Ons het so een op die plaas gehad. As die vlammetjie dood is en die geyser nog oopgedraai is, sal die gas ontsnap.

Emma ·

Last my dink aan die dame wat so paar jaar terug by Klerksdorp, Faan Meintjies ook so dood is. Gas geyser in die badkamer wat gelek het. Sy het n naweek wou wegkom van die stad se gewoel en haar lewe in die bosse verloor, baie hartseer. Gas is n pes. Baie sterkte aan die ouers.

Rika G ·

Ai so hartseer sterkte aan die familie… dis hoekom ek gas verpes wil nie eers n gas stoof he nie.

Dawie du Plessis ·

Mense nee, ek werk met gas geysers en dit werk soos volg; enige geyser het ‘n veiligheids meganisme nl engelse bewoording” thermal couple”. Die skakel die gas vloei af na so 20 sekondes sou die vlam vir een of ander rede doodgaan. Maar as die gas gelek het by die gas koneksie waar dit op die eenheid koppel, dan is daar geen salf te smeer. Dit is hoekom dit absoluut van kardinale belang is om ‘n ge-akkrediteerde gas installeerder te kry om die installasie te doen, hy gee dan vir jou ‘n sertifikaat en dan is jou versekering ook reg. Mense probeer kostes spaar ongeveer R2300.00 en dan gebeur dit. LET WEL, ek se nie dit is wat hier gebeur het nie!!!!!!!!!

Deon ·

Seker nog die ou tipe gasverwarmers!! Die nuwe tipe is fantasties en word buite opgesit, en mens weet nie eers dat dit gas is nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.