Matriekseun nog te swak vir operasie ná ongeluk

Antonio Hechter. Foto: Facebook

Antonio Hechter, die matriekleerder van Hoërskool Zwartkop wat Vrydagaand ernstige beserings in ʼn motorfietsongeluk opgedoen het, se toestand is nog te swak om hom te opereer.

Berna Seddon, ʼn Hoërskool Zwartkop-ouer wat as woordvoerder vir Antonio se familie optree, het Maandag gesê Antonio se longe is swak en dokters vrees dat sy longe kan platval as hy nou geopereer word. “Hy is tans op suurstof. Hulle toets gereeld sy suurstofvlakke en het weer vandag plate van sy longe geneem. Sodra die dokter met sy longfunksie tevrede is, sal hulle opereer,” sê sy.

Sy sê volgens Antonio se ouers val sy bloeddruk sodra die suurstofmasker verwyder word. “Sy ouers sê hy lyk vandag moeg en praat minder.”

Antonio is steeds in die Kalafong-staatshospitaal in Atteridgeville waar hy behandel word aangesien hy nie ʼn mediese fonds het nie.

Maroela Media het vroeër berig Antonio en Kylan Kunzmann, ʼn gr. 10-leerder in Hoërskool Zwartkop, was saam op ʼn motorfiets toe hulle Vrydag omstreeks 22:00 in ʼn ongeluk op die Ou Johannesburg-pad betrokke was. Daar word beweer ʼn motor het ʼn U-draai in die middel van die pad gemaak en die motorfiets het die motor getref. Albei kinders is van die motorfiets af geslinger.

Kylan se bekken is op twee plekke gekraak en sy word tans in die hoërsorgeenheid van ʼn private hospitaal behandel. Antonio het albei sy arms gebreek, ribbebene gebreek en het hy erge skade aan een been opgedoen.

Seddon het intussen ʼn fondsinsameling van stapel gestuur om Antonio se ouers te ondersteun en Antonio se mediese onkoste, veral nasorg-koste, te dek. Seddon hoop om minstens R30 000 in te samel om die Hechter-gesin mee by te staan. Teen Maandagoggend is R4 500 al ingesamel.

Enige persoon wat tot die fondsinsameling kan bydra, word versoek om Seddon te kontak by 079 492 2916 of [email protected].

Maroela Media het navraag gedoen oor Kylan se vordering en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pratig ·

Aai toggie… so ‘n pragtige seun. Ek glo en vertrou dat alles sal goed gaan. :)

Corné ·

Dis so jammer. Sou die persoon nie voor hul ingery het nie, sou hul spoed verminder het, sou sou sou. So onnodig…

Elsa ·

Ons gebedes is om die seun en die dogter, en hul familie…ons vertrou vir ‘n Wonderwerk in beide se lewe…voorsiening en totale herskep in hul liggame

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.