Matriekseun sterf in ongeluk

(Argieffoto: ER24)

ʼn Matriekleerder aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark het Saterdag in ʼn motorfietsongeluk gesterf terwyl nog ʼn leerder ernstig beseer is.

Die ongeluk tussen ʼn motorfiets en ʼn ligte voertuig het in President Steynstraat plaasgevind. “Paramedici van ER24 het omstreeks 17:20 op die toneel aangekom. Twee kinders het in die middel van die pad gelê,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, gesê.

Shelby van Wyk het noodlottige beserings in die ongeluk opgedoen en hy is op die toneel dood verklaar.

Volgens Hoërskool Driehoek is Jané Vorster ernstig beseer in die ongeluk en sterk sy tans in die Netcare Unie-hospitaal, Alberton, aan.

Meiring het gesê die bestuurder van die motor is nie in die ongeluk beseer nie, maar was erg getraumatiseer.

Die skool het Van Wyk se vriende, onderwysers en familie sterkte in die tyd toegewens en gebede gevra vir Jané. “Bid asseblief vir vertroosting vir elke persoon. Mag ons Vader met elkeen wees.”

Die Hoërskool Driehoek is in Februarie 2019 geruk deur die dood van vier leerders nadat ʼn loopbrug by die skool ineengestort het.

Roydon Olckers, Jandré Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel het in die voorval gesterf en 29 ander leerders is beseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.