Matriekslaagsyfer daal, sê minister van onderwys

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys op 5 Januarie 2015 tydens die bekenstelling van die nasionale en provinsiale matriekuitslae (Skermskoot: eNCA-beeldsending)

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys op 5 Januarie 2015 tydens die bekenstelling van die nasionale en provinsiale matriekuitslae (Skermskoot: eNCA-beeldsending)

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandag tydens ʼn mediakonferensie aangekondig dat die matriekslaagsyfer vir 2015 laer is as in 2014.

Die nasionale slaagsyfer vir 2015 is 70.7%, in vergelyking met 2014 se 75,8%.

2015 was die tweede keer wat leerders volgens die nuwe kurrikulum en assesseringsbeleidsverklaring (Caps) die matriekeksamen afgelê het.

Byna 800 000 leerders het aan die eksamen deelneem. Dit is die meeste matrikulante wat sedert 1994 vir die eksamen ingeskryf het.

“Ons het gefokus op uitnemendheid en goeie gewoontes,” het Motshekga gesê. “Die 13 jaar wat kinders skoolgaan is nie naellope nie, maar ʼn marathon.”

Sy het gesê die matriekeksamen is vry, regverdig en geloofwaardig verklaar.

Die provinsies se slaagsyfer sien soos volg daarna uit:

Oos-Kaap: 56.8%
KwaZulu-Natal: 60.7%
Limpopo: 65.9%
Noord-Kaap: 69.4%
Mpumalanga: 78.6%
Noordwes: 81.5%
Vrystaat: 81.6%
Gauteng: 84.2%
Wes-Kaap: 84.7%

Geen distrik in die Wes-Kaap se slaagsyfer is minder as 80% nie.

Altesaam 63 348 onderskeidings is behaal.

Die individuele matriekuitslae is nou beskikbaar! Klik hier om jou uitslag te sien (gebruik jou eksamennommer om in te teken)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Edd ·

Ehehehh, hoe geloofwaardig kan dit wees as daar vraestelle gelek het???

En weereens trek die Oos Kaap aan die agter speen, die departement Is die probleem.

Johann Marx ·

Twintig jaar terug: As die slaagsyfer nie so goed was nie, kon jy die apartheidsregering blameer. Tien jaar terug: As die slaagsyfer nie so goed was nie, kon jy die apartheidsregering en moedertaal onderrig en swak onderwysers blameer. Vyf jaar terug: As die slaagsyfer nie so goed was nie, kon jy die standaarde verlaag sodat al jou syfertjies mooier kon lyk. Hierdie jaar: As die slaagsyfer nie so goed is nie? Dan moet jy begin erken dat die meerderheid leerders nie oor die potensiaal beskik om enigsens ‘n matriek van enige noememswaardige standaard te slaag nie…………Eish!!

DPJ ·

Dit is mos te verstaane dat ienand wat nie sy/haar kant bring nie, nie die resultate bring wat daar van die persoon verwag word nie.

Tania ·

Dit is tyd dat die leerders wat onder presteer die erns van studie besef. Gereeld skoolbywoon, ouers nie skole dreig met prokureurs as hulle nie hul sin kry nie en nie deelneem aan stakings nie. In 85% van SA se skole vind uitstekende onderrig plaas. Dit is net jammer dat hardwerkende leerders onder dieselfde kritiek deurloop as die res. As leerders hulle besig hou met die dinge van ‘n kind, dan sal SA beslis nog meer mededingender as die res van die wêreld wees. Die leerinhoud is nie so swak en onvoldoende

Shannon ·

Tsja nee kyk, hier vind Adonis homself toe nou weer aan die hange van die ‘bell curve’.

GES ·

Aan die verkeerde hang van die ‘bell curve’. Dit is tog so verkeerd !!

Kaspaas ·

Hoop nie hulle bring slaagsyfer af van 30 na 20 % volgende jaar om weer die prestasies beter te laat lyk nie.

Loon ·

Johann….ja wys jou net wat tyd n mens leer. Een of ander tyd gaan die appartheid verskoninkie nie meer kan werk nie, maar gaan ons kan erken dat ons nie so goed is wat ons dinks ons is nie…..nee ons sal n ander plan maak soos om die standaard weer te laat sak… ons is nie te vêr van hunter gatherer status af nie!

Kellies ·

Dit is verregaande!!! Pateties as jy in ag neem dat die slaag persentasie maar n skamele 30% is. Waar in jou lewe het jy gesien dat as n persoon 31% kennis het is hy/sy reg vir die arbeidsmark? Derde werelds?

rietrot ·

As mens in-ag-neem die onderwys skandaal op die nuus waar poste te koop is, en ook in ag neem dat die fasiliteite geweldig swak is. Is mense regtig verbaas? Kinders moet skool gaan ja en hulle moet leer ja. Baie jong mense leef in erge kondisies ongeag hul ras… Hoe moet hulle leer? Maak julle oë oop, jong mense word elke dag aangeval deur bendes, verslawing en onrus. Stabiliteit en veiligheid is noodsaaklik en baie skole het dit nie, selfs sommige privaat skole met hoe slaag syfer is eintlik “uitgesoekte hoe prestasie studente” en reflekteer nie die werklikheid nie. Dis hartseer maar waar.

NEL ·

Skande, wat verwag ons as die president van die land net in std 2 was , dit is onduidelik of hy dit deurgekom het. So die slaagsyfer is hopeloos te hoog vir Suid-Afrika standaarde. Vra my self af hoe ver wil hulle kom op Uninversiteit met sulke patetiese punte.

Leonard van der Dussen ·

Dis vernederend dat heelwat hardwerkende leerlinge en onderwysers in die proses van die groot oorhoofste matriekstatistieke ingesluit is, terwyl baie van hulle as skole en as kultuurgroepe besonder goed presteer en ‘n skaflike slaagsyfer handhaaf op gesonde vlakke vir verdere studie, wat waarskynlik goed met die IEB-uitslag vergelyk.

Terwyl die “Model C-skole” dus goed doen (slaagpersentasies) moet besef word dat hulle statisties goed presteer binne ‘n stelsel met lae vereistes en swak struktuur, of anders gestel, hulle presteer in ‘n ongeloofwaardige meetproses en daar moet ernstige kommer wees oor die waarde van die onderwys: die fokus is te veel op die matrieksertifikaat, en daar word maar min gepraat oor die intrinsieke waarde en relevansie van die onderwys en die leerproses self.

Dis amper soos die VW-storie met dieselenjins se uitlaatgasse, waar die stelsels so geprogrammeer was dat die regte resultate op die toetsbank wys, maar dieselfde uitlaat-kragleweringprestasie op die oop pad (in die werklikheid) nie behaal word nie.

‘n Ander klein statistiek wat nie bespreek word nie, is dat die BCVO se leerlinge in die IEB-eksamen gemiddeld ongeveer drie persentasiepunte laer as die oorhoofse slaagsyfer gevaar het.

Moenie dat die ANC-regering wegkom sonder kritiek op die onderwysramp wat onder hulle plaasvind oorhoofs nie; maar moenie daar bly vassteek nie. Ons Afrikaners het werk om te doen om ons eie sokkies op te trek om eerstens die Afrikanerkind uit die sosialistiese indoktrinerende en onder-standaard onderwys uit te haal en vir hom ‘n behoorlike akademiese onderwys aan te bied waar hy ordentlik uitgedaag word en leer om boontoe te presteer, en tweedens om daar waar die pogings vir eie onderwys reeds aan die gang is, te sien dat daar nog baie werk is om behoorlik op standaard te kom.

Dit help die een deel van die Suid-Afrikaanse bevolking nie om “apartheid” te blameer nie. Dit los nie hulle probleme op nie.

Maar net so min held dit die Afrikaner (en die hele beskaafde element in Suid-Afrika) om “die regering” te blameer en dit as handige verskoning te gebruik om nie in te klim nie met volle daadkrag, belegging en opoffering om self te sorg vir ons volk se opleiding dat ons byhou by die eerste wêreld en nie saam in die Afrika-moeras wegsink nie.

Leonard van der Dussen ·

Tikfout in laaste paragraaf: “held” moet “help” wees: “Maar net so min help dit die Afrikaner…”

Liza Opperman ·

Dis waar wat jy se Leonard, maar kyk nou toe Akademia begin het hoeveel moeilikheid het hulle gekry omdat hulle dit in Afrikaans wil aanbied. Ons kinders moet besef dat die dae waar ons vir pappa se besigheid gaan werk verby is, of dat daar n pos sal wees in die weermag of staatsdiens. Al hoe mens dalk iewers gaan kom in ons land is as jy verder gaan leer en daarvoor MOET jy leer. En hoop en bid jou ouers met hulle salarisse kan dit betaal, want glo my ALMAL gaan nie gratis universiteits opleiding kry nie.

Realis ·

‘n Afrika sprokie:
Lank lank gelede het ‘n man die wiel ontwerp met die gevolg dat die toestel die gang van die wereld vooruitgang totaal in ‘n ander rigting gestuur het.
Die mensdom kan nie sonder die wiel klaarkom nie.
Twee en twintig jaar gelede kry ‘n klompie “mense” ‘n volkome funksionele wa persent met blink wiele. Hulle besluit op grond van hulle herkoms dat die wiele moet waai en ontwerp hul eie wiel. Alles word op die nuwe wa gelaai met die nuwe wiele maar toe hulle wou vertrek wil die wa nie beweeg nie. Daar kom toe ‘n persoon aan wat sopas gestort het en stel voor dat hulle die wa na die anderkant (maw “reverse”) trek en jou wragtig, daar gaat hy. Sedertdien gaan alles in “reverse”. Onderwys, gesondheidsorg, polisie, plaaslike regering, die regstelsel, die ekonomie,landbou en al die ander bagasie wat op die wa was. So madam Angie, gaan soek asseblief die fout by die ontwerpers van die nuwe “reverse” wiel en moet asseblief nie absurde verskonings voorhou nie want die (wit) mense glo julle nie meer nie. Dit is ook nie meer apartheid wat moet pa staan vir die blapse nie.

Leonard van der Dussen ·

Liza Opperman het ‘n helder siening op sake en ons stem saam dat hoe ook al, ons self verantwoordelikheid moet neem.

Daar is parallelle lyne in die onderwys nodig: een om die gehalte-probleem aan te spreek en selfstandig te raak, en ‘n tweede een om intussen met die regering se kommunistiese wetgewing en die huidige beskikbare opsies rekening te hou (bv gaan ingenieurswese nie sommer skielik anders as by die huidige staatsuniversiteite aangebied word nie). Hierdie verdiskontering gaan bv meebring dat Afrikanerkinders vir ‘n tyd lank hulle universiteitsopleiding in Engels gaan moet doen – dit gebeur reeds, en is onafwendbaar terwyl die eie instellings nog nie op dreef is nie; en dis nie verkeerd van die indiwidu om sy opleiding voort te sit en homself te bekwaam met wat beskikbaar is terwyl die stryd vir die regte en ideale opleidingsmilieu gevoer word nie.

Daar moet eie instellings gevestig word met die oog op vryheid en die toekoms, om nie verslaaf te bly nie, met die voorwaarde dat hulle van meet af gehalte en uitnemendheid moet nastreef om markaanvaarding te kan verwerf en sodoende van die regering se voorskrifte en vereistes te kan vry word. Hierdie instellings sal vir tyd en wyl die regering se inmengerige en belemmerende wette moet verdiskonteer, maar daar moet intussen so gewerk word dat die instelling nie vir sy “geregistreerde” status bekend is en homself daarop bemark nie, maar bekend is vir sy waarde, sy uitnemendheid en dat die mark (die werkgewers) sy kwalifikasies verkies.

Ons moet byvoorbeeld tans meer bekommerd wees en vrae vra oor Akademia se besonder kort akademiese jaar (sommige studente het vanjaar blykbaar al in September eindeksamen geskryf) en die moontlike aanduiding van ‘n gehalteprobleem in die omvang van die opleiding, as presies hoe dit met Afrikaans in die opleiding gesteld is al dan nie.

Dit sal sake natuurlik verder gemaklik as die stryd elders op die ekonomiese front ook gevoer word met eie ondernemings, wat weer die eie instellings se gekwalifiseerdes in diens kan neem – en in staat sal wees om voorkeure uit te oefen vir wie hulle aanstel en dus nie noodwendig hulle as werkgewers aan staatsregistrasie en -akkreditasie steur om kwalifikasies te beoordeel nie; maar dan moet daardie vrye kwalifikasies uitnemend en waardevol wees en nie maar net nog ‘n politieke stelling nie.

Die Afrikaner is egter nog te bang hiervoor; nog te gewoond aan die valse konsep dat die staat die reg het om onderrig te akkrediteer en registrasie af te dwing vir hoe die kwalifikasies en opleiding saamgestel is. Die Afrikaners is so bang en so gewoond hieraan dat hulle selfs predikante vir die Afrikaanse susterskerke se graadkwalifikasies gewilliglik aan die kommunistiese owerheid se akkreditasie onderwerp. Dis onlogies, want wat keer ‘n werkgewer soos ‘n kerk(verband) om mense wat opgelei word om uitdruklik in sy diens te staan, volgens sy eie gewoontes, norme, metodes en eie gehaltebeheer op te lei? Niks. Behalwe ‘n gewoonte om die staat toe te laat om ons voor te skryf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.