‘Matriekuitslae bevredigend ondanks ontwrigtings’

(Foto: Maroela Media)

Die matriekslaagsyfer van 76,4% is werklik bevredigend te midde van die groot ontwrigtings wat dié leerders weens die Covid-19-pandemie die afgelope twee jaar moes trotseer.

Dit was die mening van verskeie vakbonde en organisasies ná die uitslae van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS) Donderdagaand amptelik deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, bekendgemaak is.

Maroela Media het vroeër berig die matriekgroep van 2021 het ’n algehele slaagsyfer van 76,4% behaal. Dit is 0,2% beter as die matriekslaagsyfer van 76,2% in 2020.

Die Vrystaat het met ’n slaagsyfer van 85,7% die beste gevaar, gevolg deur Gauteng (82,8%) en die Wes-Kaap (81,2%), Noordwes (78,2%), KwaZulu-Natal (76,98%) en Mpumalanga (73,6%).

Volgens die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van Suid-Afrika (Naptosa) getuig die matriekuitslae van deursettingsvermoë en veerkragtigheid ondanks die pandemie se uitdagings.

Volgens Chris Klopper, uitvoerende direkteur van SAOU, en Nkosipendule Ntantala, die president van Naptosa, moes die matrieks van 2021 ’n veel steiler bult klim aangesien hulle gedurende hul gr. 11-jaar (tydens 2020) groot ontwrigtings weens die Covid-19-pandemie beleef het.

Hy sê leerders moes ekstra hard werk om ’n aanvaarbare vlak van eksamengereedheid te kon bereik. Hierdie toegewyde voorbereidingswerk is gegrond op ekstra klasse, verlengde skooldae, onderrig op Saterdae en die opoffering van skoolvakansies.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, benadruk dat die emosionele trauma vir die leerders – waaronder siekte en sterftes, werksverliese, armoede en ander uitdagings wat die pandemie meegebring het – ook in gedagte gehou moet word.

Deacon en Ntantala het ook die onderwysers geprys vir hul toewyding.

“Hierdie toegewyde onderwysers het dieselfde uitdagings as die leerders gehad. Die fisieke en emosionele uitdagings van die pandemie is ook ʼn werklikheid vir hulle. Tog het hulle uit hul pad gegaan en ekstra werk, tyd en moeite ingesit om seker te maak die leerders kan hul skoolloopbaan voltooi,” het Deacon gesê.

Ntantala moedig leerders wat nie aan die vereistes vir die NSS voldoen het nie, aan om nie moed te verloor nie en te belê in hul toekoms deur alternatiewe roetes te verken, soos om matriek vir ʼn tweede keer aan te pak.

“Gemeenskappe en ander belanghebbendes word aangemoedig om ondersteuning aan hierdie leerders te bied. Volharding is die sleutel tot sukses,” het Ntantala gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Erik ·

Baie trots op die Vrystaat. Weereens die top provinsie! Skole soos Grey, Eunice, Oranje, Jim Fouche en St Andrews se uitslae is altyd uitstekend. Welgedaan!

Erik ·

Bygesê, dit is almal staatskole wat meeste ‘gesogte’ privaatskole in die land klop wat hul uitslae betref.

Chris ·

Hi baie geluk aan al die matriek leerlinge julle het twee moeilike jare agter die rug. Net jammer om te sien die department is nie so skerp soos julle nie. Kyk agter op die sertifikaat alle datums is 2020 en 2021. Vir die wat dalk moet herskryf sien dit is Maart 2021 good luck

Marius ·

Die leerders is nie deur covid ontwrig nie maar wel die regering se maatreëls en die toemaak van die skole. Wat het hulle gedink die uiteinde gaan wees ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.