Matriekuitslae dán bekendgemaak

Angie Motshekga tydens 'n vorige geleentheid. Foto: DOC

Angie Motshekga tydens ‘n vorige geleentheid. Foto: DOC

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het Woensdag die finale datum waarop die 2015-matriekuitslae bekendgemaak sal word, bevestig.

Motshekga het gesê die departement sal die uitslae op 5 Januarie bekendmaak, wat beteken leerders kan hul uitslae die oggend van 6 Januarie by hul onderskeie skole of eksamensentrums afhaal.

Sy het ook Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, se uitspraak dat die eksamen regverdig en geloofwaardig afgeloop het, verwelkom. “Ons verwelkom die bevestiging van Umalusi ná die beduidende verbetering in die maatreëls om die integriteit van die eksamens te beskerm na die groepkopiëringskandaal van 2014,” het sy gesê.

Vanjaar se eksamens is gekenmerk deur vraestelle wat in Limpopo uitgelek het en uiteindelik oorgespoel het na Gauteng en Mpumalanga. Die uitlek van die vraestelle is egter grootliks beperk en die leerders in die betrokke gebiede moes die lewenswetenskappe-vraestelle weer skryf.

Umalusi het vroeër Woensdag gesê na aanleiding van die onverwerkte punte van die matriekvraestelle van 2015, word swakker uitslae as in 2014 verwag. Professor John Volmink, voorsitter van die Umalusi-raad, het gesê die beleid om leerders sonder voldoende punte na ʼn volgende graad deur te sit om te verhoed dat hulle meer as vier jaar lank in dieselfde skoolfase bly, is een van die sleutelfaktore wat tot die verhoging in druipelinge bygedra het.

Hy het egter bygevoeg dat die eksamens in die geheel regverdig, geldig en geloofwaardig was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elmarie Gerber ·

Ek wonder net hoekom moet ons altyd so lank wag vir die uitslae. Dit maak net jou senuwees klaar en geen mens kan sy vakansie geniet totdat die uitslae uit is nie.

Johann Marx ·

In 1979 was die laaste vak geskryf op 27 November, en by 12 Desember het ons almal ons uitslae gehad, en geweet wat ons planne vir die volgende jaar was. AL die “leerlinge” (ja, ons was toe nog almal leerlinge) het skool gegaan TOT OP die laaste dag van die jaar (wat gewoonlik in die omgewing van die 12-15 Desember was (en ek onthou dit want ek het elke blerrie jaar IN die eksamen verjaar)….en teen 10 Januarie was ons almal terug op die skoolbanke vir die volgende jaar.

Jan maak n Plan ·

Elmarie – dit vat so lank omdat die punte eers by sekeres by gesit word en by anderes weg gevat word, jy weet om alles te balanseer. Jy moet darem besef dat dit baie sleg vir die land sal lyk as net 40% van die leerlinge deurkom. Sterkte tannie Angie se jy sal volgende week jou punte kry.

CHRISTA ·

Dit vat so lank, want hulle moet EERS die mense wat die vraestelle merk, leer LEES EN SKRYF!!!

Elmarie ·

Weet iemand dalk waar om uit te vind as mens belangstel om vraestelle te gaan merk nadat die kinders klaar geskryf het?

chrisna robertson ·

Dis vandag die 4de. Wanneer sal Maroela media die sms’se stuur vir die kinders wat by julle geregistreer het om vroeer uitslae te kry? Asb dankie(net n navrae)

Sune van Heerden ·

Dagsê Chrisna

Die SMS word gestuur sodra die uitslae op Maroela Media beskikbaar is.
Dit sal na verwagting Woensdagoggend om 06:00 beskikbaar wees.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.