Matriekuitslae: Gemengde reaksie ná beste slaagsyfer in jare

Die adjunkminister van basiese onderwys, dr. Regina Mahaule en die minister, Angie Motshekga wens 2019 se toppresteerder, Madeleine Dippenaar, geluk met haar prestasie. (Foto: Karen Sandison/ANA)

Die matriekgroep van 2019 het die beste slaagsyfer sedert die aanvang van die demokratiese bestel in Suid-Afrika behaal, maar daar was uiteenlopende reaksie op waarop die syfers werklik dui.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het Dinsdagaand aangekondig die slaagsyfer vir die 2019- nasionale matriekeksamen is 81,3%. Dit is meer as drie persentasiepunte hoër as 2018 se slaagsyfer van 78,2%.

Net meer as 616 700 voltydse kandidate het verlede jaar die eksamen afgehandel.

Ses uit die nege provinsies se slaagsyfer vir 2019 is 80% of hoër en geen provinsie het ʼn slaagsyfer van minder as 70% behaal nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het die uitslae ʼn “oorwinning en ʼn duidelike teken van die regering se beduidende belegging in onderwys-, leerder-, onderwyserondersteuning en infrastruktuur” genoem.

“Suid-Afrikaners kan trots wees dat onderwys, soos die meeste ontwikkeling in die land, op ʼn opwaartse kurwe is. Dit moet almal van ons aanspoor om saam te werk om uitnemendheid te bespoedig en te behou.”

Die president het ook die toename in spesialisskole, wat vakke soos landbou- of maritieme studies aanbied, asook die bekendstelling van vakke soos entrepreneurskap in die nasionale leerplan verwelkom.

“Dit is noodsaaklike vakke wat ons gaan toelaat om aan die vereistes van ons ekonomie te voldoen en ons jong mense voor te berei vir die werkplek van die toekoms. In dié opsig is die klas van 2019 baanbrekers.”

Hy het suksesvolle matrikulante aangemoedig om die uiteenlopende geleenthede in die hoër onderwysstelsel te gebruik, of in te skakel by programme vir die ontwikkeling van entrepreneurskap.

“Aan die klas van 2019: Julle kan trots wees op julself en was ʼn aanwins vir die belegging wat julle families, onderwysers, gemeenskappe en mentors in julle gemaak het.”

Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor basiese onderwys, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, het ook die uitslae verwelkom. Mbinqo-Gigaba het wel kommer uitgespreek oor die gebrek aan verbetering in prestasie in wiskunde, asook die toename in die getal skole wat ʼn 0%-slaagsyfer behaal het.

“Dit is kommerwekkend dat 16 skole ʼn 0%-slaagsyfer het, ʼn toename van vyf skole in vergelyking met 11 skole in 2018. Die komitee vra vir dringende en doeltreffende ingryping op alle vlakke van die stelsel om dié onaanvaarbare neiging om te keer.”

Die DA meen egter Suid-Afrika se wérklike slaagsyfer is ʼn skamele 38,9%.

Nomsa Marchesi, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, het gesê die uitslae is grootliks weens die “uitsonderlik hoë uitvalkoers, wat beteken honderde duisende leerders word die kans onteem om matriek te skryf, of nie eens te praat daarvan om dit te slaag nie”.

Marchesi het gesê dit is ʼn aanduiding van ʼn stelsel wat misluk en nié ʼn funksionele en suksesvolle een nie.

Die DA-geleide Wes-Kaap het op 33,4% die laagste uitvalkoers en die party sê die werklike slaagsyfer daar is dus 54,8%.

Marchesi sê die departement fokus nou al jare lank op die nasionale slaagsyfers omdat dit die fokus verskuif van die ANC-regering se klaaglike mislukkings.

Sy het gesê die getal leerders wat tussen graad 10 en 12 uit die stelsel verdwyn kalwe die toekoms van jong mense in die land weg.

“Elke kind het die reg op gehalte basiese onderrig. As ons op dié trant voortgaan, gaan meer as die helfte van leerders wat vanjaar met graad 1 begin, nooit die binnekant van ʼn nasionale senior sertifikaat-eksamenlokaal sien nie.”

Marchesi het gesê die duisende jong Suid-Afrikaners wat deur die stelsel in die steek gelaat is en waarskynlik nooit die formele arbeidsmag gaan betree nie, mag nie verwaarloos word nie.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor onderwys, het in reaksie op die uitslae gesê hoewel bemoedigend lê daar steeds baie uitdagings voor.

“Die VF Plus wil die matriekklas van 2019 gelukwens met die slaagsyfer van 81,3%. Wanneer ʼn mens in graad 1 by ʼn skool inskryf, is die doelwit om matriek te slaag. In Suid-Afrika is daar talle faktore wat hierdie prestasie moeilik maak. Skole wat nie goed toegerus is nie, onderwysers wat nie werklik toegewyd is nie en huislike omstandighede wat as gevolg van armoede of gebrek aan belangstelling nie bevorderlik vir leer is nie, is van die belangrikste hekkies. Boonop moet ʼn groot deel van die bevolking skoolgaan in ʼn taal wat hul tweede of selfs derde taal is,” het Boshoff gesê.

“Terselfdertyd moet leerders wat nie geslaag het nie, moed hou en aanstaande jaar weer probeer. ʼn Terugslag is tydelik, op voorwaarde dat ʼn mens dit self so sien.”

Boshoff het gesê matriek is nie as beroepskwalifikasie bedoel nie en leerders moet verdere onderriggeleenthede aangryp. “Dit is belangrik dat 80% van die matrikulante met toelating tot graad-, diploma- en hoër sertifikaatstudie geslaag het. Dit beteken dat hulle wel die kennis en vaardighede kan aanleer wat hulle in staat sal stel om ʼn beter toekoms vir hul eie kinders te skep.”

Hy het gesê terwyl die departement krediet verdien vir die vordering wat reeds gemaak is, is daar steeds ruimte vir verbetering. Hy meen dit is onaanvaarbaar dat geld wat vir die bou van skole bedoel is, aan die tesourie terugbetaal moes word.

“Verder moet die aanslag op onderrigtaal by veral Afrikaanse skole beëindig word. Die onderwysstelsel sou bes moontlik beter kon presteer indien alle kinders in hul moedertaal kon studeer. Dit help nie om dié wat reeds die voorreg geniet, daarvan te ontneem nie. Die een taal of skool word nie gebou deur die ander af te breek nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

48 Kommentare

Deloris ·

N opwaartse ontwikkeling? Pffffft. Gee my nou nog krag vir 2020????

Lou ·

Jammer Deloris daar is nie krag nie want Eskom werk nie meer so lekker nie.
Hulle goete is meestal stukkend.

LD ·

@Lou – en hulle almal daar in die hoë poste by Eskom het seker ook hul matriek geslaag……

Petro ·

Ek wil sê dis ‘n grap, maar nie eintlik snaaks nie. Dis ‘n klug. En sy klop haarself op die skouer en dink ons is onnosel. Sterkte aan die 30% slaag syfer om werk te kry…

Attie ·

Propaganda-foto…gee ‘n wanvoorstelling van die deursnee presteerders.

Lalie ·

Is omdat die slaag syfer per vak se persentasies afgeskaal is. Seker iets te doen met die inflasie koers. Ha ha

lh ·

Attie, ABSOLUUT!
Die foto laat my in baie feite twyfel hier. . .

Kenner ·

Die blatante waninterpretasie van die statistieke is skokkend.
In realiteit is dit die swakste ooit.

Johanna Botha ·

Dalk kan die skole begin waardes leer want die ouers self doen dit gladnie …ek is so geskok wat ek die vakansie gesien het in jbay waar 2 seuns van die twnship agter 2 voeltjies wat uit n nes geval het hardloop en hulle dood skop ….so jy het matriek maar dit is wat in jou kop draai !

bolla ·

Sommige wit kinders doen dit ook net soos sommige swart kinders ook sulke dinge doen. Jou opmerking is rassisties.

Avokado ·

Ek het die vakansie 2 seuns uit die ooste van Pretoria in ‘n sloot sien lê en kots van dronkenskap. Wat is jou punt?

pan ·

Hoekom is alles rasisties,ek het 2 pakestaniers voor die winkel gesien dagga rook is ek nou ook rasisties oor ek nog nie n chinees voor die winkel sien dagga rook nie ,hou asb op met die alewige ras dit en ras die dit is in elk geval net verskonings vir swakkelinge net soos die alewige apartheid verskoning.

Stier ·

Vir sekere mense is als rassisties meestal omdat hul die wereld self as rassiste sien.

Gert du Plessis ·

Met die huidige slaagvereiste is dit verstaanbaar, jy het amper net nodig om jou vingerafdruk te kan gee om matriek te kan slaag…

W H School ·

Wel , dit moet val , dit is een van ons ” hoe plekke”

ouer ·

Hierdie resultate praat nie die waarheid nie selfs die 100% spaagsyfers by Afrikaanse skole asook IEB skole. Wat ek wil weet is hoeveel leerders is teruggehou in graad11 en hoeveel leerders het begin met graad12 in 2019. Baie skole hou die leerders terug om n goeie slaagsyfer te behaal.

Alexz ·

Vir die leerders wat skouer aan die wiel gesit het met die swottery, VEELS GELUK! Julle het dit verdien! Al het van julle nie onderskeidings verwerf nie, so what, julle het hard gewerk en het die wedloop voltooi.

Martie ·

Almal is nou so trots op hoe die matriekslaagsyfer gestyg het sedert 1995…. ek sal graag die slaagsyfer vanaf die 80’s tot vandag wil sien

Oom Koos ·

Is dit waar dat matrieks in staatskole aansoek moet doen om te druip? Jislaaik ons kan seker aanstaande jaar verwag dat die slaagsyfer 90 persent sal wees!!!!

Piet ·

Ek dink die slaag syfer is nog stees pateties. Een uit 5 druip! Vir die wat geslaag het, BAIE geluk.

Humor ·

As hul tog maar net op skool will leer die laagste vlak van intelegensie is wanneer n leuenaar homself glo. Dan sal die regering die land aan die gang kry8

KO ·

Hierdie is uitstekende nuus, bou so voort hierdie uitslae vergelyk met die beste lande te wereld.
Oor vyf jaar gaan ons n slaag syfer he van 100%.
TOPS MAN, die kinders in hierdie land is darem slim.

Spike ·

Wat ñ klug. Net ñ derde van 2019 se klas wat saam graad 1 begin het, het matriek geskryf. Dan het 2 derdes geslaag met verlaagde vereistes. Nag vir sa met sulke talent.

JohanR ·

Die Minister lyk darem in haar skik. Ek wag vir die jaar dat aangekondig word dat daar ‘n “pass rate” van 107% was!

RYAN ·

30% Ha…. Hoe moeilik. Dis soos om vir jou kind ‘n legkaart te bou en dan vir hom/haar te gee om die laaste blokkie in te sit en hom/haar toe te juig en al die krediet te gee. Ek wens almal geluk wat bo 60% gekry het.

Petro ·

En ons moet die nuus glo, hoekom? Nee kyk met slaagsyfers in vakke wat slegs 30 % is, i sdit ‘n wonder dat die end resultate nie 100% is nie.

Wolf Cilliers ·

Met die hedendaags verlaagde 30% minimum vereiste om ‘n vak te slaag is dit te verstane dat daar 81% van die matrikulante geslaag het. Maar wat beteken daardie matriekserifikaat regtig?
Die regering doen die kinders ‘n groot onguns aan deur hulle so swak toegerus die lewe in te af stuur.

Madeliefie ·

Dis g’n wonder NZ aanvaar nie meer die Diploma in Onderwys vanuit SA nie….lankal nie meer goed genoeg nie want die standaard is lankal nie meer wat dit was nie….

Piet ·

Baie bly vir die werklikke super presteerders.
Weet net dat as jy verkeerd gemelaniseerd is moet jy ‘n orde groter presteer om aan te hou presteer.
Wat my net grensloos irriteer is advertensies van opleidings instansies wat die verwagting skep van ‘n persoon met ‘n graad sommer toga en al by ‘n raadsaal instap en “in charge is”.
Die uitslae toon ook dat met statistiek jy enigiets kan bewys.

JP ·

Sy gaan so tekere op TV, so al asof sy namens die matriekulante die eksamens afgelê het

jaco ·

Nou moet net 1 wit leerder 12 onderskeidings kry, dan JUIG almal hierbo en dan is al julle kritiek vergete. Onthou net dat ‘n onderskeiding vandag seker gelyk is aan so 65-70% in die ou SA.

LHS ·

Direkte opdrag aan skole. Geen leerder ma4g druip nie, dit is waarop dit basies neerkom. Grootste klug om beelde te poets. Is reg ANC gaan net so aan, die ontwikkelde lande elders lag openlik vir julle uitstekende vernuf en kennis.

Hanlie ·

Ek sal ook slaag as ek net 33% van die werk hoef te ken. Ek wonder wie dit hulle bluf hulle.

Andrea ·

Hanlie, die keiser is kaal en dié wat dit besef, mag dit nie sê nie. Die oorgrote meerderheid sien dit egter nie raak nie!

Wilma Hanekom ·

Een groot KLUG. Tweederdes van hierdie sg matrieks sou nooit verby die eertydse (1970’s) se st 6 gekom het nie.

Jannie ·

Baie geluk aan almal wat geslaag het en ook aan die wat hul bes probeer het maar dit nie gemaak het nie.
Moet julle asb. nie steur aan al die negatiewe kommentaar nie julle kan met reg trots wees op jul self.

Kootjie ·

Ja Wilma! En as jy enige iets
daaromtrent se!! Dan is jy ‘n RASIS! Dit het met my gebeur!! En dis onwaar!! Ek is nie!!

Professor ·

Om 30% te kry is net algemene kennis. Om n 100% slaag syfer te kry moet die minimum vereiste na 20% verlaag word. Wie weet dalk slaag net 95% dan.

pan ·

Die punte word so aangepas dat die uitslae so ver van die waarheid is soos dag en nag vra enige onderwyser wat betrokke was by die merk van vraestelle,die probleem is dat die kinders wat nie verdien om op meriete deur te kom nie verlaag die standaarde van die land en so gaan ons meer en meer af.

Bokkom ·

En om te dink dat 19% nie eers die 30% slaagsyfer kon haal nie! Een, twee, drie – blok myself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.