Matriekuitslae: Goeie nuus vir Wes-Kaapse skole

(V.l.n.r.) Skoolhoof Henry Hockey, minister Schäfer en Metro-Oos-distriksdirekteur Landeka Diamond (Foto verskaf)

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, het Vrydagoggend besoek afgelê aan Scottsville Secondary School om die vrystelling van die individuele uitslae van die 2021 nasionale senior sertifikaat te vier.

“Dié skool het reg oor die provinsie die beste verbetering getoon wat slaagsyfer vir verlede jaar betref,” sê Schäfer. Die skool se slaagsyfer het van 29,5% in 2020 tot 64,0% in 2021 gestyg met ʼn soortgelyke getal matrieks wat die eindeksamen afgelê het. “Dit is ʼn verbetering van 34,5%! Hulle het ook ʼn 22,5%-universiteitstoelatingsyfer behaal – dubbel soveel as die vorige jaar.”

Schäfer het skoolhoof Henry Hockey en sy span gelukgewys en gesê sy sien uit na selfs ʼn groter verbetering hierdie jaar.

Nog ʼn paar skole het ook indrukwekkende toenames in slaagsyfer beleef:

  • Range Secondary School: 77,4% (+29,6)
  • Y2K College: 95,2% (+27,7) – onafhanklik
  • Silverstream Secondary School: 62,5% (+27,5)
  • Manenberg Secondary School: 57,3% (+27,3)
  • Steenberg Secondary School: 92,7% (+26,2)
  • Brandvlei Youth Centre: 94,7% (+25.9) – onafhanklik
  • Mandlenkosi Secondary School: 80,0% (+25,8)

“Die getal onderpresterende skole wat ʼn slaagsyfer van minder as 60% het, het vanjaar ook afgeneem van 52 in 2020 tot 40 in 2021. (Ons gebruik die 60%-slaagsyfervlak om te bepaal watter skole ons aandag nodig het, eerder as die 40%-vlak wat die departement van basiese onderwys gebruik.) Dit is ʼn groot verbetering en indrukwekkend omdat dit tydens ʼn pandemie gebeur het. Ons wens al die skole geluk wat onder uitdagende omstandighede baie goed gevaar het,” voeg Schäfer by.

Haar departement onderneem om nou saam met die onderpresterende skole te werk sodat hulle ook hul uitslae kan verbeter.

Distriksprestasie

Angie Motshekga, nasionale minister van onderwys, het Donderdag aangekondig dat twee Wes-Kaapse distrikte, Metro-Noord-onderwysdistrik (MNED) en Eden en Sentrale Karoo-onderwysdistrik (ECKED), die top-10 in die land gehaal het. “Ek wil graag direkteur Wendy Horn van MNED en direkteur Jewel Jonkers van ECKED gelukwens met dié besonderse prestasie. ECKED het ook die grootste toename in slaagsyfer beleef van al ons distrikte.”

Die distriksuitslae is soos volg:

  • Kaapse Wynlande: 76,31% (-2,15)
  • Eden en Sentrale Karoo: 84,33% (+5,26)
  • Metro-sentraal: 82,76% (-0,01)
  • Metro-Oos: 77,14% (+3,90)
  • Metro-Noord: 85,87% (+0,76)
  • Metro-Suid: 79,66% (+1,41)
  • Overberg: 81,55% (+1,11)
  • Weskus: 80,68% (-1,54)

Kwintiel prestasie

Vir die eerste keer sedert die aanvang van die nasionale senior sertifikaat het kwintiel 3-skole ʼn hoër slaagsyfer as kwintiel 4-skole behaal. Hulle het ook ʼn hoër persentasie universiteitstoelatings ontvang, sê Schäfer.

Kwintiel 3-skole het in 2020 ʼn slaagsyfer van 75,8% behaal met universiteitstoelating van 32,5%, in vergelyking met kwintiel 4 met ʼn slaagsyfer van 74,7% en ʼn universiteitstoelating van 30,2%. “Ons sal deur die loop van die jaar met die kwintiel 4-skole werk om seker te maak dat hulle ook verder verbeter.”

Sy sê die vernouing in die ongelykheidsgaping tussen die kwintiel 4 en 5-skole en kwintiel 1 – 3-skole is beduidend. “Ons het baie hard daaraan gewerk om dié gaping kleiner te maak en nou werp dit vrugte af. As ons kyk na prestasie uit 2008, toe die eerste nasionale senior sertifikaat geskryf is, tot vandag, het ons armer skole baie goed gevorder. Die gaping tussen die slaagsyfer van kwintiel 1 – 3-skole en kwintiel 4-skole het van 12,4% afgeneem tot 1,6%. En die gaping tussen kwintiel 1 – 3-skole en kwintiel 5-skole het van 31,5% tot 16,9% afgeneem.

“Dit is ons visie om gehalteonderrig aan elke leerder, in elke klaskamer, in elke skool, in die provinsie te bied. Hierdie statistiek is ʼn bewys daarvan – met volgehoue toewyding is ons op pad om dit te behaal. Baie geluk aan die kwintiel 1 – 30-skole vir dié besonderse prestasie.”

Hermerk en aanvullende eksamens

Diegene wat nie na wense presteer het nie, het verskeie opsies. “Ek moedig alle leerder aan wat nie hul eksamen geslaag het nie, om nie moed op te gee nie, maar voort te gaan en alles in hul vermoë te doen om graad 12 af te handel.”

Daar is maatreëls in plek om berading te ontvang vir enigiemand wat teleurgesteld is met sy of haar uitslae: jy kan die skool nader wat jou in aanraking sal bring met die betrokke mense by die distrikskantoor, of jy kan die Safe Schools-hulplyn kontak by 0800 45 46 47.

Diegene wat vir aanvullende eksamens kwalifiseer moet voor 18 Februarie 2022 daarvoor aansoek doen. Aansoekvorms sal by skole en op die Wes-Kaapse departement van onderwys-webwerf beskikbaar wees.

Leerders kan ook aansoek doen vir ʼn hermerk (R104 per vak) tot 4 Februarie 2022. Gebruik die volgende skakel: http://www.eservices.gov.za/

Klik hier vir meer inligting oor dié opsies.

“Weereens baie geluk aan ons klas van 2021 – dit is ʼn fantastiese prestasie en ons kan alma baie trots wees!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johanna

Het leerders dalk meer tyd gekry om aan studies te spandeer nadat buitemuurse aktiwiteite soveel minder aadag van hulle geverg het???

Marius

Berading ? Wat van volgende keer bietjie meer leer en minder speel.