Matriekuitslae in koerant ‘is tradisie’ – matrikulant

Anlé Spies. (Foto: Verskaf)

“Dis tradisie om die aand voor die uitslae uitkom tot middernag wakker te bly en die koerant te koop of aanlyn te kyk wat jou matriekuitslae is. My ma het dit gedoen en my broer en suster het dit gedoen nadat hulle matriek geskryf het. Daar is soveel tradisies wat tydens die pandemie verlore gegaan het dat ons nie die een óók kan verloor nie.”

Só sê Anlé Spies (18) oor waarom sy besluit het om betrokke te raak by die hofsaak teen die departement van basiese onderwys, nadat dié besluit het dat vanjaar se matriekuitslae nie in die media gepubliseer mag word nie. Die departement voer aan dat dit ʼn oortreding van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) sal wees.

Spies, AfriForum en Maroela Media betwis dié besluit nou op ʼn dringende basis in die hof. Spies het verlede jaar matriek geskryf en hoop om vier onderskeidings te kry. “Ek het regtig hard gewerk vir die matriekeksamen en sien die publisering van die uitslae as ʼn soort beloning. Ek was regtig hartseer toe ek hoor dit mag nie meer gepubliseer word nie,” sê Spies.

Sy gaan in Pretoria skool en kuier tans by haar ma in Port Elizabeth. Sy sal dus ook nie self Donderdag skool toe kan gaan om haar uitslae te ontvang nie. “Om jou uitslae te kry voordat jy skool toe gaan, gee mens ook kans om jou emosioneel reg te ruk indien jy nie presteer het soos wat jy gehoop het nie. Dis beter as om jou punte voor almal by die skool te kry.”

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het intussen ook hul teleurstelling met die departement se besluit uitgespreek, wat hulle meen op die laaste minuut aan die media oorgedra is.

“Die besluit om nie die media toe te laat om die 2021-matriekuitslae te publiseer nie, is nie net betreurenswaardig nie, dit kom ook as ʼn verrassing vir Sanef, aangesien daar vooraf geen waarskuwing of oorlegpleging met mediahuise was nie,” lui die forum se verklaring. “Sanef ondersteun die werking van die wet ten volle, maar die gebrek aan kommunikasie van die departement se kant het ʼn negatiewe impak op mediahuise, wat reeds koste aangegaan het om die resultate te kan publiseer.”

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het ook in haar beëdigde verklaring voor die hof aangedui dié besluit hou verwoestende gevolge vir media-instellings in, wat beplan het om die matriekuitslae te publiseer met gepaardgaande inligting, advertensies en bemarkingsveldtogte van voornemende werkgewers, universiteite, tersiêre onderwysinstellings, beursfondse en instellings wat finansiële ondersteuning aan studente bied.

Die hofsaak word Dinsdag aangehoor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Die onderwysdepartement kan ook in die moeilikheid kom met die inwerkingtreding van die Popi wet.As ‘n leerder verkies om nie sy of haar inligting in die koerant te laat plaas nie dan is dit teen hulle wil om die inligting te plaas.Hy of sy moet eers toestemming verleen voor inligting geplaas kan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.