Matriekuitslae: Kommer oor dié wat uitval

(Argieffoto/Unsplash)

Politieke partye en organisasies het 2022 se matrieks gelukgewens met hul prestasie ondanks vele uitdagings in die onderwyssektor, maar ook hul kommer uitgespreek oor die vroeë skoolverlatingskoers.

“Die regte matriekslaagsyfer is egter net 54,6%, ’n toename van 2021 se 50,4%. Dit is baie kommerwekkend,” het Baxolile Nodada, DA-LP en woordvoerder oor onderwys, gesê.

Volgens die DA bereken hy die “werklike matriekslaagsyfer” deur die aantal leerders wat uitgeval en nooit matriek gehaal het nie, in ag te neem.

“Tensy die departement die tweeledige kwessie van die hoë uitvalsyfer en die ondoeltreffende kurrikulumaanbieding aanpak wat nie daarin slaag om kennis en vaardighede ten volle te ontwikkel om toegang tot ekonomiese geleenthede te verkry nie, sal die meerderheid van matrikulante se toekoms baie beperk wees.

“Die hoë uitvalsyfer en die land se swak gehalte van onderwys is die eerste van vele struikelblokke wat daardie ideaal belemmer. Om te skuil agter misleidende slaagsyfers sal net meer skade veroorsaak.”

AfriForum het gesê die afgelope aantal jare word sogenaamde voortdurend verbeterende matriekslaagsyfers telkens gevier.

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, wys egter daarop dat statistieke van die departement van basiese onderwys se verslag, Education statistics in South Africa 2011, daarop wys dat 1 177 089 leerders hulle in 2011 in graad 1 van sogenaamde normale skole bevind het. Daarvan was 1 133 806 leerders in openbare skole en 43 283 in onafhanklike skole.

Daarteenoor het 752 003 voltydse en 168 631 deeltydse matrikulante in 2022 die matriekeksamen afgelê, van wie 13 525 in onafhanklike skole was.

“Dit is uiters kommerwekkend dat 256 455 van die leerders uit die stelsel verdwyn het. Dit is ’n tendens wat jaarliks gesien word. In die eerste plek bewys dit dat die verlaging van slaagvereistes leerders nie oortuig om aan te hou om tot matriek skool te gaan nie. Tweedens, selfs met matriek is ’n groot aantal jongmense nie werklik indiensneembaar nie, weens die swak gehalte van onderwys wat hulle ontvang het en hierdie lae standaarde wat gestel word vir leerders om te slaag.”

In sy uiteensetting van die tegniese aspekte van die eksamen, het die direkteur-generaal van basiese onderwys, Mathanzima Mweli, verklaar dat die probleem nie die uitvalskoers is nie, maar druipelinge en diegene wat grade herhaal.

“Dit bly dringend noodsaaklik dat die departement van basiese onderwys aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om probleme soos ’n gebrek aan moedertaalonderrig, ondoeltreffende kurrikulumopsies, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers, ’n tekort aan infrastruktuur, aanvegbare onderwyswetsontwerpe soos die Bela-wetsontwerp, wanfunksionaliteit van skole en dissiplineprobleme die hoof te bied,” het Bailey gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

annie ·

Ons leef in SA in twee wêrelde: Die ware en die valse. Die valse is baas. Die waarheid is nie gewild, aanvaarbaar of nuttig nie: Wat jy wíl glo en vir jou aansien en status en geld inbring is die ware waarheid want kyk dit werk. Hoekom kan vals nie as waar verklaar word nie? Kyk net hoe goed gaan dit in SA. Stry?

gatgogga ·

Absoluut, Annie. Alles is al so vals, ons weet nie eers meer wat die realiteit is nie. En dit alles om die onnosel, integriteitlose kaders te laat oorleef, waar evolusie hulle eintlik wil afskryf.

OW ·

Jy is heeltemal reg.Die valse is baas.Dit is hoekom daar ‘n geld hongerte in SA is,tot sulke vlakke dat mammon aanbid word,en dit is hoekom bykans niks normaal werk nie.Al word die valse waar verklaar sal dit in ewigheid nie uitwerk nie,want mammon is baas.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

ANC regering is meesters daarvan om iets pateties, goed te laat lyk. Meeters van misleiding.

Marius ·

Die regering het en sal ook nooit gepla wees oor enige iets of iemand behalwe hulle self nie.
Die werkloosheid syfer van verlede jaar wat gedaal het is beslis nie nou meer so rooskleurig nie , want agv beurtkrag het dit op gegaan en gaan dit nog meer opgaan.

Die kaders moet bykom .

Peter ·

Baie Geluk aan die wat dit verdien het en daarvoor gewerk het

Nettie ·

Die infrastruktuur probleme is blykbaar volgens die minister van onderwys die skuld van die Apartheid regering.

Ek is nie seker of sy bedoel ons het dit nie goed genoeg gebou, sodat dit geen-onderhoud van 30 jaar beter of langer kon weerstaan nie?

Of dat ons te min gebou het nie! Natuurlik is dit nie hulle wat bykans geen nuwe skole gebou het in 30 jaar se skuld nie.

Of die korrupsie by tenders by skole. Of die totale gebrek aan ‘n kultuur van bewaar en onderhou eerder as afbrand en afbreek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.