Matriekuitslae: Meer slaag, maar gehalte pla steeds

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gedurende Dinsdagaand se funksie. (Foto: Elaine Krige/Maroela Media)

Meer as 80% van matrieks het vanjaar vir die eerste keer die nasionale matriekeksamen geslaag, ʼn nuutjie in Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Dinsdagaand aangekondig die slaagsyfer vir die 2019- nasionale matriekeksamen is 81,3%. Dit is meer as drie persentasiepunte hoër as 2018 se slaagsyfer van 78,2%. Net meer as 616 700 voltydse kandidate het verlede jaar die eksamen afgehandel en die uitslae is Dinsdagaand by ʼn spoggeleentheid in Midrand, Gauteng, bekendgemaak.

Ses uit die nege provinsies se slaagsyfer vir 2019 is 80% of hoër en geen provinsie het ʼn slaagsyfer van minder as 70% behaal nie. Die provinsies se slaagsyfers is soos volg:

  • Vrystaat: 88,4%
  • Gauteng: 87,2%
  • Noordwes: 86,8%
  • Wes-Kaap: 82,3%
  • KwaZulu-Natal: 81,3%
  • Mpumalanga: 80,3%
  • Oos-Kaap en die Noord-Kaap: 76,5%
  • Limpopo: 73,2%

Die Oos-Kaap se slaagsyfer het met 5,9% toegeneem, die grootste toename van alle provinsies. Gauteng is die enigste provinsie wat ʼn daling in die slaagsyfer getoon het. Dié slaagsyfer is 0,7 persentasiepunte laer as verlede jaar.

Tien distrikte oor die hele land het ʼn slaagsyfer van meer as 80% behaal. Tshwane-Suid (Centurion) het die beste landwyd gevaar, met ʼn slaagsyfer van 93,3%.

Minder leerders het egter minstens 40% in ekonomie, lewenswetenskappe en wiskunde behaal. Net 35% van leerders wat wiskunde in 2019 geskryf het, kon daarin slaag om meer as 40% vir dié vak te behaal. Net 39,9% kon meer as 40% vir ekonomie behaal.

Matriekleerders gedurende Dinsdagaand se funksie (Foto: Elaine Krige/Maroela Media)

Die getal voltydse leerders wat jaarliks matriek skryf, het ook effens afgeneem van 674 600 in 2016. Die getal leerders wat sleutelvakke soos wiskunde, wetenskap en rekeningkunde in matriek skryf, neem ook stelselmatig af. Volgens die departement bekom 60% van voltydse matrikulante hul kwalifikasie binne 12 jaar. Die res is soms tot 26 jaar oud wanneer hulle uiteindelik matriek skryf.

Daarom is onderwyskenners skepties daaroor of die verbeterde slaagsyfer werklik ʼn verbetering in die gehalte van onderwys in Suid-Afrika beteken.

Die drukgroep Equal Education het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die uitslae is nie ʼn werklike weerspieëling van die toestand van onderwys in Suid-Afrika nie. “Die jaarlikse viering van die nasionale slaagsyfer het al amper ʼn klug geword en elke jaar vra onderwyskenners dat die minister groter klem plaas op die aantal graadtwees wat uiteindelik 11 jaar later matriek slaag. Die verskil in die slaagsyfer, wanneer die aantal druipelinge sedert graad twee in ag geneem word, is skrikwekkend,” sê die organisasie se woordvoerder, Jay-Dee Cyster.

AfriForum betwyfel dit ook of matrikulante werklik behoorlik voorberei is vir ʼn toekoms in die werksplek.

“Die hoë slaagsyfer in elke provinsie wek die indruk dat daar talle kundige jong mense beskikbaar is vir verdere opleiding en indiensneming in die arbeidsmark, maar in werklikheid het talle leerders matriek geslaag weens die lae slaagvereistes. Dié leerders beskik steeds nie oor waardevolle lees-, skryf- en begripsvaardighede wat hulle in staat moet kan stel vir indiensneming nie,” sê Carien Bloem, AfriForum se koördineerder vir onderwys.

Die matriekuitslae is Dinsdagaand aangekondig. (Foto: Elaine Krige/Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het ook in ʼn verklaring gesê hy is bekommerd dat meer as ʼn derde van leerders nie matriek binne 12 jaar voltooi nie. “Die skoolstelsel faal leerders wat in hul 20’s is en steeds sukkel om matriek te slaag,” sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU. “Die afname in die persentasie leerders wat meer as 40% vir sleutelvakke behaal, is ook kommerwekkend.”

Intussen het Akademia, ʼn Afrikaanse instelling van hoër onderwys, Dinsdag aangedui dat matrikulante nog hier kan aansoek doen om in 2020 te studeer.

“Akademia het spesiaal laat studie-aansoeke in 2020 verleng tot 29 Januarie om aan die 2019-matrieks vergunning te bied om steeds verder te kan studeer,” sê Paul Vogel, operasionele bestuurder by Akademia. “Talle matrieks is nog onseker oor hulle toekomsplanne en daarom is dit belangrik vir Akademia, as gemeenskapsinstelling, om hierdie matrieks in ag te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Theresa ·

Die uitslae beteken niks. Dis niks werd nie. Almal word gestoot om deur te kom en dan dink hulle dis great. Daardie kinders se lewens beteken niks en hulle sal nerens kom nie.
Dis ‘n klap in die gesigte vir die kinders wat werklik hard werk.

Avokado ·

Geen mens se lewe beteken niks nie. As jy ‘n vis gaan beoordeel aan sy vermoë om boom te klim sal hy sy lewe glo hy is nutteloos.

Vranet? ·

Natuurlik sal meer slaag, want die standaarde word verlaag. Hoeveel van die wat geslaag het en nou aandring op gratis universiteit, het die ou universiteitstoelatingvereistes gehaal? Al is dit teen vandag se lae standaard? Hoeveel moes al jare gelede skool verlaat het omdat hulle nie die vermoë het om te slaag nie, maar deurgesit word? Hoe is die jaar se slaagsyfers aangepas om dit goed te laat lyk?

Spoor ·

Ironies hoe hierdie minister die land belieg met vals resultate. Sy het ook seker wiskunde met onderskeiding geslaag

B ·

Toe my kinders met 9 onderskeidings geslaag het, het hulle eerstehands ervaar hoe sulke foto’s ‘opgestel’ word, met verwysing na groepfoto in die artikel.

(As ek reg onthou, dis nou al ‘n paar jaar terug, is hulle eenkant toe geskuif en laer presteerders is bygevoeg. Slegs enkele van die ware top presteerders het verskyn op die foto’s)

Anoniem ·

Ai dit is nou regtig nie n prestasie om matriek te slag nie. Kyk maar na die voorbeelde om ons van hoe mense wat matriek het en in poste aangestel word en verder geleer het hoe swak is hul denke hul werksvermoe. Vat byvoorbeeld die verkeersbeampte in Vanderbijl wat n dame n boete gegee het oor haar hond wat saam in die motor was en voor op die sitplek gesit het en ook die een van Pretoria wat n boete gegee het vir n motoris wat se bande die paaie gaan beskadig. Dit is lagwekkend. Gaan kyk maar in jou eie werksplek dan sien jy hoe dit daar gaan, dit is n gesukkel van die more tot die aand. Jy kan n pappegaai ook al hierdie leer as jy ure en ure spandeer aan een ding op n slag en hy sal n beter slaagsyfer gee as die meeste matrieks.

Naas ·

Ek wonder hoeveel van hierdie wat vakke met 20% geslaag het kan lees en skryf?

Rinkhals ·

Lyk my die anc leierskap en syfers werk nie so lekker saam nie. Maar nou ja sou ons anders gedink het ?

Retha ·

My vraag is wat van die 35 % wat wel gewone wiskunde deurgekom het, wat NIE opwaarts aangepas is nie, maar net net hul kursus vereiste van 60 % mis. Dus die 35 % top kinders wat wel wiskunde kon deurkom en reeds voorlopig goedgekeur is om te gaan studeer. Hul word geensins verder gehelp nie. Selfde met wetenskap. Maar ander vakke word opwaarts aangepas? Dus die Top kinders kry swaar en die massas word bevoordeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.