Matriekuitslae met gemengde gevoelens ontvang

Argieffoto

Argieffoto

Die minister van basiese onderwys se aankondiging, dat die matriekslaagsyfer vir 2016 hoër is as in 2015, is met gemengde gevoelens ontvang.

Minister Angie Motshekga het Woensdagaand aangekondig die slaagsyfer vir 2016 is 72,5%, vergeleke met 2015 se 70,7%. Indien sogenaamde ‘bevorderde leerders’, diegene wat gr. 11 twee keer gedruip het en na gr. 12 bevorder is, nie bygereken word nie, is die slaagsyfer 76,2%.

Volgens Motshekga het meer as 820 000 leerders vir die eksamen geregistreer, waaronder meer as 670 000 voltydse kandidate. Dit is die meeste matrikulante wat sedert 1994 vir die eksamen ingeskryf het. Altesaam 158 160 onderskeidings is behaal.

Matrieks kan van Donderdagoggend 06:00 af hul uitslae aanlyn, in koerante of by skole kry. Die uitslae sal hier op Maroela Media beskikbaar wees.

Die ANC het in reaksie op die uitslae gesê die toename in die aantal swart leerders, wat wiskunde en wetenskap geslaag het, is tekenend van die toename in gehalte-onderwys.

Die DA het gesê dit is tragies dat ʼn kind se akademiese sukses steeds bepaal word deur die provinsie waarin hulle bly en die skool wat hulle bywoon. Dit was met verwysing na die “slegte prestasies” in die drie groot provinsies, naamlik die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal.

AfriForum het intussen gesê hy neem met groot kommer kennis van die totale amptelike slaagsyfer. “Indien gekyk word na die aantal leerders wat in 2005 die eerste keer in graad een was en hul matriekjaar in 2016 suksesvol voltooi het, is die werklike slaagsyfer minder as 50%,” het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Bailey beklemtoon verstellings van standaarde en punte, ter wille van ’n hoër slaagsyfer, bewys die Suid-Afrikaanse jeug geen guns nie.  “Aangepaste punte is ’n kitsoplossing wat jongmense dalk help om nou deur te kom, maar hulle in die toekoms gaan pootjie weens ’n gebrek aan insig en kennis van vakke wat só geslaag is,” het sy verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Katvis ·

Was self in onderwys. Kinders se punte word in matriek al by skole opwaarts aangepas. Dit was voor 94. Indien kinders die punte kry wat hulle verdien, maw punte vir wat reg beantwoord is en geen punt vir wat verkeerd beantwoord is, dan sal die werklike slaagsyfer baie moeilik oor 50 % wees.

Voorlaaier ·

Stem saam….twyfel of di regte slaagsyfer ooit di 50% kerf oorsteek!

Dereck Le Roux ·

Diegene wat se punte kunsmatig aangepas word se vermoens word gewoonlik ontmasker op universiteit en wanneer die eerste oorbrugings toetse en kursusse gedoen moet word.

Jan ·

Ek verstaan nie. Wat het “die aangepastes ” wat graad 11 , 2 keer gedruip en bevorder is na graad 12, met die matriek uitslae te doen. Die berig gaan mos oor Matriek uitslae dan nie ?

Ria Naude ·

Die leerders wat in 2 jaar nie gr. 11 kon slaag nie, het ook vanjaar gr. 12 gedruip. As hierdie groot aantal leerders se lae punte nie in berekening gebring word nie, sal die gekroekte uitslae nog baie beter lyk. Ek was ook in die onderwys!!! ‘n Leeftyd lank!!!

Leonard van der Dussen ·

Dis natuurlik nie polities-korrek om die uitslae demografies te publiseer nie, en ook nie om daarop te wys dat daar dikwels in die sogenaamde bevoorregte skole harde werk en hulpbronne ingeploeg word deur gemeenskappe om ordentlike onderwys te lewer nie. Die Suid-Afrikaanse onderwys-uitdaging gaan bly rondmaal sonder oplossing as daar nie bereidheid is om parallelle onderwys, geskik vir verskillende omstandighede en vermoëns, te bedryf nie. Intussen gaan die land ekonomies agteruit, want die boonste akademiese laag word afgetrek in ‘n eenvormige onvoldoende onderwysstelsel.

John ·

Om van graad 0 af op ‘n drastoel soos ‘n antieke koning opgehef te word om die leuen, wat elke mens tog herken waar hy in jouself gesetel is, tot waarheid te wysig, is miskien kits plastiese rekonstruksie vir ‘n oomblik-se-goed-voel vir staat en individu, maar die skade is onberekenbaar verreikend…. bederf eis bederf op en gou verander dit (weens swak spelvaardigheid?) in verderf…

Jan maak n Plan ·

Ek stem volkome saam met Alana Bailey van Afriforum se standpunt. My kind is die jaar in matriek en vlogens die standaard van die werk in Gr11 sal baie leeringe verseker sukkel om van deurkom nie eens te praat nie. Erens moet hulle punte maar seker aangepas word.

Voorlaaier ·

Nu net op i ander nuusblad gelees.Volgens hulle moet di werklike syfer 44.8% wees.

Johann ·

Van wat ek ook elders lees, is die groot uitvalsyfer voor matriek die probleem. Alana is 100% reg.

jaco ·

820000 registreer vir eksamen en 72.6% daarvan slaag. Dit = 595320. Waar gaan hulle almal werk kry? Selfs dié met die “regte” velkleur en dus met regstellende aksie aan hulle kant, gaan sukkel. Ons ekonomie is te klein en in te n groot gemors dat hierdie groep almal geabsorbeer kan word vir werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.