Matriekuitslae: ‘Ons sal by hof se besluit berus,’ sê departement

(Foto: Maroela Media)

Die departement van basiese onderwys het gesê hy sal in die lig van die jongste verwikkelinge rakende die bekendmaking van die 2021-matriekuitslae en dreigende litigasie by die beslissing van die hof berus.

Maroela Media het Vrydag saam met die burgerregteorganisasie AfriForum en Anlé Spies, ʼn matrikulant van die 2021-matriekklas, hofstukke aan onder meer die minister van basiese onderwys beteken. Die saak is reeds op die hofrol geplaas en word die week, waarskynlik Dinsdag, aangehoor.

Die aansoek is om die departement van onderwys se onlangse besluit om nié die matriekuitslae vanjaar in die media te publiseer nie, op ʼn dringende grondslag in die hof teen te staan.

Die besluit is vroeër vandeesweek geneem ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) wat op 1 Julie verlede jaar in werking getree het.

Die departement Sondag in ‘n verklaring gesê hy het voorleggings van ʼn groot verskeidenheid van organisasies en individue ontvang na aanleiding van sy besluit en is hy onder meer in gesprek met die Inligtingsreguleerder en die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef).

“In die hantering van die aangeleentheid word die departement gelei deur die behoefte om aan al die wetlike verpligtinge te voldoen, maar uiteindelik beveel die Grondwet die departement om in die beste belang van die leerder op te tree.”

Willie Spies, direkteur van die regsfirma Hurter Spies wat namens die partye optree, het gesê dit is ʼn positiewe verwikkeling dat die departement nie teenstand teen die aansoek gaan bied nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ook gesê die burgerregte-organisasie verwelkom die besluit van die departement om hom by die hof se uitspraak te berus.

“Ons hoop dat ons Dinsdag in die hof kan verseker dat vanjaar se matrieks ook hul uitslae op mediaplatforms sal kan bekom soos wat in die verlede die gebruik was,” sê Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het ook in haar beëdigde verklaring voor die hof aangedui dié besluit hou verwoestende gevolge vir media-instellings in, wat beplan het om die matriekuitslae te publiseer met gepaardgaande inligting, advertensies en bemarkingsveldtogte van voornemende werkgewers, universiteite, tersiêre onderwysinstellings, beursfondse en instellings wat finansiële ondersteuning aan studente bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Darts girl ·

Ek stem saam dis tradisie om die uitslae te publiseer, en nou as gevolg van die besluit moet die matrieks nog langer wag om uit te vind of hul geslaag het of nie. Ek verstaan dat hul persoonlike inligting wil beskerm, maar dis nie as of doe kind se hele pedigree daarin gesit word nie, as ek reg onthou was dit net die toelatings nommer en jou naam en van

Riana ·

Versttaan nie die boo haa nie. Dis die kinders se Eksamen nommer wat in koerant verskyn is dit nie….

Nie Verbaas ·

Die ANC wil natuurlik nie hê dat Jan alleman moet somme maak en sien in watter haglike toestand die land se onderwysstelsel is nie.

Bushy ·

Catch 22. Die besluit is nie so eenvoudige as wat dit mag lyk nie. Pandora’s Box. Wette kan nie eenvoudige net aangepas word om by die situasie te pas nie aangesien dit toekomstige hofsake kan bevoordeel of selfs benadeel.

Marcello ·

Wat van die matriekulante wat nie in hul tuisdorp is om dit by die skool te gaan afhaal nie, dit was in die verlede maklik, bv. as hulle met vakansie is.

Jaco ·

Die standaarde is nou so laag, dat 10 onderskeidings seker maar gelyk is aan so 65-70% in die ou SA. Gaan luister net hoe praat dié “slim” leerders Afrikaans: dis deurspek met Engelse woorde en uitdrukkings soos “awesome” en “ek love dit” en die alewige “ek doen”
As ek vandag in matriek was en ek het geweet hoe laag die die standaard van my 10 onderskeidings eintlik is, sou ek skaam gewees het dat dit in die koerante versprei word.

Swerwer ·

Naturlik wil hul dit nie publiseer nie, want hul is bang die publiek sien die korrupsie wat plaasgevind het.

Jaco ·

Dis seker baie edel van Afriforum om by dié saak betrokke te wees, maar 1 ding pla my wel:

Wat van sake van ons eie mense? Eendag wen Afriforum dalk dié saak en kry al die verering en “limelight”, maar dan is hulle geld ook op en dan is Afriforum magteloos om te help met sake waar regstellende aksie en BEE en ander vorms van diskriminasie en rassisme ons eie mense al hoe meer benadeel.

Vergeet nou eers die prestige en die “limelight” en konsentreer NET op dit wat ons eie mense regtig raak. ‘n Klomp name in ‘n koerant, eenmaal per jaar, van leerders wat ‘n uiters lae standaard eksamen geslaag het, is niks in vergelyking met die diskriminasie en slegte behandeling waaronder ons eie mense elke dag gebuk gaan.

SjN ·

Popi wet verbied dit wel, net jammer die money laundring wet word nie toegepas op sekeres nie.

madels ·

Ek dink dis sommer nonsens dat alles in die koerante moet wees. As n kind nie geslaag het nie, hoe moet daai kind voel dat almal weet. Ek hoop dit word regtig geskrap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.