Matriekuitslae: Pak die druk só aan

Argieffoto (Foto: JESHOOTScom/Pixabay)

Oor net meer as ʼn week word die uitslae vir die 2019-matriekeksamen aangekondig en matrikulante kan nou behoorlik die spanning voel knyp. Sommige wonder of hulle gaan deurkom en ander bekommer hulle of hulle genoegsaam presteer het om keuring te kry vir ʼn bepaalde kursus. Matrieks sal teen 8 Januarie vrae op dié antwoorde hê.

Nola Payne, ʼn onderwyskenner verbonde aan die Instituut vir Onafhanklike Onderwys, verskaf ʼn paar wenke aan ouers en matrikulante oor hoe om die spanningsvolle aanloop tot die aankondiging van die matriekuitslae te hanteer.

“Angstige ouers en voogde het dit nodig om ʼn tree terug te neem en verseker dat hul kommer oor wat mag kom, nie spanning in die huis veroorsaak nie,” sê Payne. “Dis belangrik om te onthou dat matriekuitslae nie ʼn persoon vir ewig definieer nie en dat baie mense sukses behaal ondanks swak resultate. Van dié wat fantasties presteer het, vaar weer nie te waffers nie omdat hulle nie op die goeie resultate voortbou nie.”

Sy sê ouers en leerders moet onthou dat dit nie die einde van die wêreld is om matriek te druip nie. Leerders kan steeds die volgende roetes volg om matriek te slaag of hul punte te verbeter:

  • Lê aanvullende eksamens later in die jaar af.
  • Keer terug skool toe, al is dit ʼn ander skool of instansie, om matriek oor te skryf.
  • Voltooi matriek deur afstandsleer.
matriekuitslae koerant

Argieffoto

Dié leerders wat wel geslaag het, maar nie die nodige punte behaal het om aan ʼn universiteit te studeer nie, kan inskryf vir ʼn hoër sertifikaat of diploma aan ʼn hoër instelling vir onderwys, wat jou uiteindelik toegang gee tot ʼn graadkursus. “Dít is veral ʼn goeie opsie vir dié wat nie kans sien om weer matriek te skryf nie, maar graag vir ʼn graad wil studeer,” sê Payne.

Dié opsie is beskikbaar vir enigiemand wat matriek slaag met vrystelling vir ʼn hoër sertifikaat.

Payne sê dit is egter noodsaaklik dat leerders wat dié roete volg, seker maak dat die instelling waar hulle inskryf, behoorlik geregistreer en geakkrediteer is om die kursus aan te bied.

Sy sê dat ʼn hoër sertifikaat in onder meer besigheidsbeginsels en -praktyk, inligtingstegnologie en ondersteuningsdienste óf geleentheidsbestuur kandidate toegang tot ʼn BCom- of BA-graadkursus kan bied.

“So, terwyl jy wag vir die uitslae, neem tyd om jou opsies te oorweeg. Onthou, dit maak nie saak wat gebeur nie, jy is steeds in staat tot sukses,” sê Payne.

  • Die Instituut vir Onafhanklike Onderwys is een van die grootste instellings vir privaat onderwys in Suid-Afrika en deel van die ADvTECH-groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.