Matriekuitslae sal ‘skade van pandemie weerspieël’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Alles wat oor die afgelope twee jaar tydens die Covid-19-pandemie skade gely het, sal waarskynlik in die 2021-matriekuitslae weerspieël word.

Só het die Vryheidsfront Plus Donderdag aan Maroela Media gesê in afwagting op die uitslae wat vanaand om 18:00 deur die departement van basiese onderwys bekendgemaak word.

Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-parlementslid en hoofwoordvoerder oor basiese onderwys, sê die party verwag ʼn daling teenoor die 76%-slaagsyfer wat die matriekklas van 2020 behaal het.

“Vanjaar se matriekgroep is die eerste groep wat twee jaar lank aan die afsonderingsregulasies van die Covid-19-pandemie onderwerp was, asook alles wat daarmee gepaardgaan.

“Die ergste inperking was boonop in dié matrieks se gr. 11-jaar, wat ʼn uiters belangrike skooljaar is. Om dié rede dink ek die uitslae gaan waarskynlik swakker lyk.”

Boshoff sê die slaagsyfer vir wiskunde en fisiese wetenskap het ook waarskynlik afgeneem – wat al jare lank die tendens is. Dié wat wel slaag, se punte sal ook nie noodwendig van so ʼn aard wees dat dit op ʼn hoë vlak bruikbaar is nie.

“Ek is nie een van daai mense wat glo jy kan niks doen sonder wiskunde nie, maar die realiteit is dat daar ʼn groter tekort in die arbeidsmark is aan mense met dié vaardighede.”

In 2020 het net 53,8% van matrikulante wiskunde geslaag. Dít beteken dat net sowat die helfte van matrieks bo 30% vir dié vak behaal het.

Hy verwag dat daar vanjaar ook weer ʼn groot aantal matrikulante sal wees wat nie vrystelling gaan hê om verder te studeer of onmiddellik in die werksplek opgeneem sal word nie.

“Baie gaan, soos vorige jare, weer tot die getal van die werklose jeug gevoeg word.”

Boshoff sê verder die departement sal hul aanbieding van FET-kolleges moet verbeter, wat sal help om leerders vinniger vir die arbeidsmark gereed te kry.

Slaagsyfer nié ʼn ware weerspieëling

Die drukgroep Equal Education (EE) sê ongeag of die tradisionele slaagsyfer verbeter of nie, bly dit ʼn swak aanduiding van die algemene welstand van die basiese onderwysstelsel.

“Die nasionale slaagsyfer neem nie leerders in ag wat skool moes verlaat voordat hulle hul matriekjaar bereik het nie, en bied min insig oor die talle uitdagings wat leerders tydens hul skoolloopbaan in die gesig staar,” sê EE Woensdag in ʼn verklaring.

“Wanneer ons die matriekuitslae ontleed, skets ander aanwysers, soos hoeveel leerders universiteitsvrystelling kry en die algehele prestasieneigings tussen verskillende provinsies, ’n meer genuanseerde beeld van die uitslae. EE hoop om ’n toename in die aantal universiteitsvrystellings te sien, veral van leerders in kwintiel een tot drie (die armste) skole.”

EE sê voorts dat verlore skooltyd ook ʼn enorme uitwerking op die 2021-matriekgroep gehad het.

“Die matrieks van 2021 het meer as die helfte van onderrigtyd in hul graad 11-jaar verloor omdat skole vir lang tydperke gesluit was en rotasieroosters [waar leerders net op sommige dae skool bywoon] vir skole ingestel is. Wanneer leerders nie elke dag skool bywoon nie, is hulle meer geneig om dit wat hulle voorheen geleer het te vergeet, wat dan die moontlikheid verhoog dat dié leerders uitsak.”

EE sê die uitwerking hiervan was ook erger op behoeftige leerders, wat nie dieselfde toegang tot leermateriaal en ander aanlyn hulpbronne tydens die pandemie gehad het nie.

  • Die matriekuitslae sal Vrydagoggend om 06:00 op Maroela Media by matriekuitslae.co.za beskikbaar wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SomeOne ·

moenie te veel verkonings soek nie, covid het ‘n groot aandeel aan die uitslae,
maar: daar is/was baie leerlinge wat hul nie laat onderkry het deur die verlore tyd op skool nie en tog goed doen,
waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg, om goed te doen, self dissipline
dan is daar ministers wat hul swak verstand gebruik het om die skoolgaan tye onnodig te be-invloed

Swerwer ·

Ag genode, hou tog op verskoning soek vir ‘n mislukte Onderwysdepartement. Hoekom doen privaatskole se kinders goed? Rede baie eenvoudig, Privaatskole stel gekwalifiseerde personeel aan en daar is nog dissipline in Privaat skole.

Jaco ·

Ek weet nie hoe die uitslae swakker kan wees nie, want standaarde van wat vir die leerders geleer word plus hoe hulle vraestelle gemerk word, is BAIE laer as in die ou SA. Gaan luister net hoe praat dié selfs “slim” leerders Afrikaans: dis deurspek met Engelse woorde en uitdrukkings soos “awesome” en “ek love dit”, plus dan ook die alewige “ek doen”. Gaan kyk ook na die matriek hersieningsprogramme op DSTV. Dis skokkend hoe maklik dit is in vergelyking met wat ek in die ou SA moes leer. Kortom, ‘n sogenaamde “onderskeiding” vandag is seker maar gelyk aan so 65-70% in die ou SA.

Johan ·

Koreksie skade agv “swak deurdagte regulasies” nie die pandemie nie. Die virus kan niks aan kinders doen nie, as hul die skole gelos het was daar baie minder ontwrigting met minimale “skade”.

DieKriek ·

Skade van ANC, nie van pandemie nie. Geen selfrespek of disipline nie.

Jacobus ·

Onder die omstandighede het die matrieks goed gevaar. Groot kudos vir onderwysers. Die magsbehepte regering het probeer briek aandraai (deel van groter plan!) en misluk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.