Matriekuitslae: Vrae oor getal ‘onderpresterende’ skole

(Argieffoto)

Die lyk of die departement van basiese onderwys Suid-Afrikaners “doelbewus mislei” oor die getal onderpresterende skole.

“Die matriekuitslae wat gisteraand bekend gestel is, wys ses skole in Suid-Afrika onderpresteer beduidend, maar ʼn dieper ontleding deur die DA wys daar is inderwaarheid 12 sulke skole,” het Nomsa Marchesi, DA-woordvoerder oor basiese onderwys, gesê.

Marchesi sê dié syfer is belangrik, omdat die betrokke provinsiale departemente ingevolge wetgewing binne drie maande ʼn omkeerplan vir die skole aan minister Angie Motshekga moet voorlê.

“As skole nie op die departement se lys van onderpresterende skole verskyn nie, word daar nie van hulle verwag om só ʼn plan in te dien nie.”

ʼn Onderpresterende skool is een wat ʼn slaagsyfer van minder as 40% vir vyf agtereenvolgende jare het.

Ses skole wat tydens die 2019-matriekeksamen onderpresteer het, word vanjaar op die Nasionale Senior Sertifikaat-skoolprestasieverslag as onderpresteerders aangedui. Ál die skole is in KwaZulu-Natal.

Ses van die skole wat in 2018 op die lys was, het wéér onderpresteer, wat beteken hulle moet steeds op die lys verskyn. Dié skole is almal in Limpopo. Een van die skole, Mahlaba Secondary School, onderpresteer al 11 jaar lank.

Die DA sê hy gaan aan die minister skryf om ʼn verduideliking vir die teenstrydigheid te vra.

“Het die departement Suid-Afrika doelbewus mislei, of het hy bloot moed opgegee met die skole wat van die lys weggelaat is? Ons gaan ook ʼn oorsigbesoek aan die skole bring omdat dit lyk of die departement die skole in die steek laat.

“Ouers wat nie kan bekostig om hul kinders na ander skole te stuur nie, moet dié nalatigheid, wat hulle kinders se toekoms skade berokken, verduur,” het Marchesi gesê.

Motshekga het Dinsdagaand aangekondig die slaagsyfer vir die 2019- nasionale matriekeksamen is 81,3%. Dit is meer as drie persentasiepunte hoër as 2018 se slaagsyfer van 78,2%.

Marchesi het vroeër in reaksie hierop gesê volgens die DA is die werklike slaagsyfer 38,9%.

Sy het gesê die syfer is grootliks weens die “uitsonderlik hoë uitvalkoers, wat beteken honderde duisende leerders word die kans ontneem om matriek te skryf, laat staan nog om dit te slaag”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Duncan Potgieter

`N groot bohaai word gemaak met die slaag syfer van81% vir 2019. Wat skokkend is dat die standaard om matriek te slaag slegs vereis dat jy 30% gemiddeld behaal vir jou ses vakke Amper 115,000 (19%) matrieks het gedruip – dit beteken hulle het nie eens die 30% behaal nie. Die standaarde om matriek te slaag het vanaf 1995 gedaal en dit is vir vandag se matrieks soveel makliker om Matriek te behaal. Nog meer skokkender is dat duisende matrieks maklike vakke neem om te kan slaag wat hulle nerens in die beroepswereld met vrug ksan gebruik nie – kyk… Lees meer »

André André

Niks het mos nou verander nie, Eskom onderpresteer al jare, maar hul werkers kry bonusse.

Christo

‘N mens hoef skaars te leer om 30% te kry…..as jy deur die jaar goed opgelet het in die klas.

A Mac

Teen die tyd weet elke regdenkende Suid Afrikaner dat ons regering die geneigdheid het om dinge maar goed te verdraai. Maar ook pleinweg alles wat hulle sê nie net te glo nie. Soos met alle departemente is die een ook maar nie vry van ongeloofwaardige stellings nie. En elke jaar is die verklarings dieselfde, net in ander sins- en woordorde. Net jammer dat daar jong mense met sterre in hul oë die wêreld ingestuur word en dat van daardie sterre in die oë nie op eerlike, harde werk maar met aanpassings vir die kinders gegee word. Vroeg-vroeg leer hulle al… Lees meer »