Matriekuitslae: Wes-Kaap span die kroon

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Van al die provinsies het die Wes-Kaap die beste matriekresultate vir 2015.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys vir die Wes-Kaap het gesê sy was “baie bly en trots” toe sy uitvind dat die Wes-Kaap die hoogste slaagsyfer, 84,7%, in die land getoon het. Dit is 2,5% hoër as in 2014.

Saam met haar blydskap het sy ook haar kommer uitgespreek dat die Wes-Kaap die enigste provinsie is wat ’n verbetering in sy matriekresultate getoon het. Sy het dié feit as ’n “kommerwekkende ontwikkeling” beskryf.

Die persentasie leerlinge wat met universiteitsvrystelling geslaag het, het toegeneem tot 41,7% – die hoogste in die land. Die res het almal geslaag met vrystelling om vir ’n diploma of ’n sertifikaat te studeer. Die Wes-Kaap het volgens Schäfer ook weer ’n verbetering getoon in die skole met heelwat voorheen benadeelde leerlinge.

Sy het bygevoeg dat daar ook ʼn toename is in die aantal kandidate wat wiskunde en fisiese wetenskappe geskryf en geslaag het. “Dit is belangrik om kennis te neem dat dit nie net in persentasie is nie, maar ook in die getal leerlinge”.

Sy skryf die Wes-Kaap se sukses toe aan ’n sterk fokus op kwaliteit. Sy meen die kwaliteit van die onderrig is net so belangrik as die aantal leerlinge wat slaag.

Volgens Schäfer is dít slegs moontlik deur deurlopende ingrype in skole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kobus ·

Baie geluk aan al die Wes Kaap Matrieks en -Onderwysdepartement met die mooi slaagsyfer! Ek glo dat die berekening reg is en nie soos die Minister van Onderwys se berekening dat 455000 wat “geslaag” het 70% van die byna 800000 matrieks is nie. As ek die berekening doen kom ek op 57%. Ja ek plaas “geslaag” tussen hakkies want die werklike syfer was baie laer voordat die aanpassings gemaak is om dit beter te laat lyk.

Ek deel die LUR vir onderwys se kommer oor die feit dat slegs die Wes Kaap ‘n verbetering getoon het in die slaagsyfer. Dit gaan meebring dat nog meer mense uit die Oos Kaap en die ander provinsies waar die onderwys so swak is, na die Wes Kaap stroom en sodoende net meer druk op die Wes Kaap se goeie infrastruktuur gaan plaas. Daar moet eerder gekyk word waar die probleem lê. Die probleem sal net reggestel word as die ANC uitgestem word en die goeie werk wat die DA in die Wes Kaap doen, in plek gestel word.
Staan saam, stem die ANC uit en ons sal weer mense aan bewind kan stel wat werklik omgee vir ons land en al sy mense.

elmarie swart ·

Dag maroela. Wil net graag weet hoekom kan ons nie die matriek uitslae kry in die Wes-Kaap nie, maar eers môre. Ons kan dit wel by die skool kry middag. Ek het by julle geregistreer.

Sune van Heerden ·

Dagsê Elmarie

Die departement van basiese onderwys het bepaal dat die uitslae vir die Wes-Kaap eers op 7 Januarie beskikbaar gemaak mag word.
Dit sal môreoggend om 06:00 op Maroela Media beskikbaar wees.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Sarie ·

Die WKOD verifeer eers al die uitslae en indien daar navrae is oor sekere uitslae waarmee kandidate nie saamstem nie word daarna gekyk.

Griki ·

Ek is glad nie verbaas nie – ek dink nie enigiemand is nie. Hartlik geluk aan al die matrieks wat so fluks gestudeer en die Wes-Kaap trots gemaak het. Vat so Ehrenreich en Fransman!!

Rina Kotze ·

VEELS GELUK aan al die Matrieks wat geslaag het landswyd!
Veral hulle in moeilike omstandighede wat gekies het om te werk en nie tou op te gooi nie!

Spesiale Woord van geluk aan alle Matrieks in die Weskaap!
Wys jou wat harde werk en dissipline kan doen!

Doen so voort in 2016!

alida ·

Wys jou net waar die DA regeer is daar nie probleme nie. Dienslewering is goed – ag sommer alles is beter waar daar disipline toegepas word.

Henry ·

Volgens berigte was Gauteng se slaagsyfer 84.2% teenoor die Weskaap se 84.7%
Mynsinsiens ‘n bitter klein verskil.
Waarom word hierdie feit nêrens in u berig genoem, of welverdiende krediet aan die Gautengelengers gegee nie?

Sune van Heerden ·

Dagsê Henry

Dankie vir jou navraag.
Ons het wel die provinsiale statistiek bekend gemaak: http://maroelamedia.co.za/blog/nuus/sa-nuus/matriekslaagsyfer-daal-se-minister-van-onderwys/

Die Wes-Kaap word in hierdie geval uitgesonder omdat dit die enigste provinsie is wat ‘n verbetering in sy matriekuitslae getoon het. Sonder leerlinge wat bevorder is, het die Wes-Kaap ook 88% gehaal teenoor Gauteng se 85.9%.

Ons het ook oor ‘n hele paar toppresteerders in Gauteng individueel berig, saam met die ander provinsies se toppresteerders:
http://maroelamedia.co.za/blog/tag/matriek/

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Henry ·

Kon u nie ook aan die Gauteng matrieks krediet gegee het nie???
Indien u nie daarvan bewus is nie – Gauteng se slaagsyfer was 87.2% teenoor Weskaap se 87.5%.
Bitter klein verskilletjie. Of hoe???

Henry ·

Weens die afwesigheid van ‘n redigeringsfunksie, wys ek graag langs hierdie omslagtige paadjie daarop dat die ‘teen’ in die eerste lyn van my 3de poging aan u, ‘n tikfout is wat toe allie tyd ‘toon’ moes gewees het.
snik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.