Matriekuitslae: Wiskunde en wetenskap swakker

Argieffoto

Argieffoto

Die 2014-matriekuitslae vir wiskunde, wiskundige geletterdheid en fisiese wetenskappe is swakker as in 2013.

Prof. John Volmink, voorsitter van Umalusi, het gesê daar was groot veranderinge rakende die inhoud van wiskunde met die insluiting van Euklidiese meetkunde en waarskynlikheid. Hy het gesê die kurrikulum was ‘n uitdaging vir meeste leerlinge. Volgens Volmink het leerlinge in 2014 ook “aansienlik slegter” gedoen in wiskunde geletterdheid as in vorige jare.

Volmink het gesê die uitslae vir wiskundige geletterdheid is op alle vlakke opwaarts aangepas. Die uitslae in wiskunde is in die boonste vlak effens afwaarts aangepas. Hy het gesê daar is ook ʼn opwaartse aanpassing gemaak in die uitslae vir fisiese wetenskappe terwyl lewenswetenskappe afwaarts aangepas is.

Volgens Volmink is die uitslae vir besigheidstudies die swakste nog en is dit opwaarts aangepas. Hy het gesê daar is vanjaar meer leerlinge wat wiskunde druip maar daar is ook meer onderskeidings. “Om eerlik te wees, ons het gedink die resultate sou veel erger gewees het omdat groot dele van die wiskunde-kurrikulum nie verlede jaar bestaan het nie.”

Volmink het ook bekend gemaak dat daar ongerymdhede by 58 eksamensentrums in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal was. Hy het gesê daar is ʼn nuwe tendens waar ’n groep leerlinge by mekaar afgeskryf het. Die leerlinge se antwoorde, hetsy reg of verkeerd, was presies dieselfde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.