‘Matriekuitslae wys falende onderwysstelsel is in ʼn groef’

Argieffoto

Die matriekuitslae is met gemengde gevoelens ontvang deur politieke partye en ander organisasies.

“Suid-Afrika se basiese onderwysstelsel met sy verlaagde standaarde is bloot te gebrekkig om leerlinge na behore voor te berei vir naskoolse opleiding, en dit plaas ʼn demper op die uitslae vir die 2017-matrieks wat pas aangekondig is,” het adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter, en dr. Wynand Boshoff, VF Plus-leier in die Noord-Kaap, gesê.

Volgens adv. Alberts en dr. Boshoff is daar veral drie groot leemtes wat leerlinge van die huidige stelsel benadeel. “Matriek is vir die meeste leerlinge die kwalifikasie waarmee die beroepswêreld betree word, maar tog word daar nie op beroepsvaardighede gefokus nie. Onderwys word ook toenemend gesentraliseer om die ANC ideologies te dien. Dit marginaliseer almal wat na beter strewe. In die plek van die Gautengse onderwysminister se voorstel van groter sentralisering in die aanbieding van matriekeksamens, stel die VF Plus groter keusevryheid voor.”

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hand meen die uiteenlopende prestasie van skole volgens taallyne, dui daarop dat Suid-Afrika ʼn taalprobleem het, eerder as ʼn onderwysprobleem. “Afrikaanse skole (waar meeste kinders in hul moedertaal onderrig ontvang) het aansienlik beter presteer as 80% van die skole waar leerders in Engels, eerder as hul huistaal, onderrig is. Afrikaanse skole het landwyd ver bo die nasionale gemiddeld van 72,57% presteer, ongeag moeilike sosio-ekonomiese omstandighede van sommige skoolgemeenskappe. Verskeie Afrikaanse skole behaal selfs ʼn 100%-slaagsyfer.”

AfriForum het gesê die afgelope aantal jare word sogenaamde voortdurend verbeterende matriekslaagsyfers telkens gevier.  Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, fokus haar organisasie egter op die groep leerlinge wat nooit eens matriek gehaal het nie.

“Die fenomenale groei in leerlinge in die privaatsektor is enersyds die gevolg van die toename in privaat onderriginstellings die afgelope jare, maar wys ook op Suid-Afrikaners se stygende wantroue in die land se openbare onderrigstelsel.”

Bailey het gesê dit bly dringend noodsaaklik dat die departement van basiese onderwys aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om probleme soos ʼn gebrek aan moedertaalonderrig, ondoeltreffende kurrikulumopsies, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers, aanvegbare onderwyswetsontwerpe, disfunksionaliteit van skole en dissiplineprobleme die hoof te bied.

Die Forum vir Dienslewering (F4SD) het gesê gegewe die aantal leerders wat deurgesit is, was daar geensins bestendige groei in die slaagsyfer nie. F4SD het geëis dat Angie Motshekga, minister van onderwys, in die pad gesteek word.

Volgens die DA het die gehalte van onderwys in Suid-Afrika skaars verbeter ondanks Motshekga wat 2017 se uitslae geloof het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Eish ·

Uiteindelik n artikel wat die uitslag in perspektief stel en die woordgimnastiek van die politici vermy.
Soos te wagte dus, is die department van onderwys se bestuur gelykstaande aan dié van die res van die regering. Kleptokratiese kaderontplooing ten alle koste.

Disselboom ·

Verstaan iets nie so lekker nie: is dit ‘n goeie ding dat ons Afrikanerkinders deel is van hierdie onderwysstelsel wat so uitgewys word as vrotsig en nie betroubaar nie? Disselboom voel jammer vir matrieks wat hard gewerk het, met wat ook al vir hulle daargestel word, maar intussen moes daar eintlik beter en betroubaarder onderwysgeleenthede vir hulle gewees het. Dit voel of ons op twee stoele tegelyk wil sit, om die staatsbestel maar te benut, maar terselfdertyd sê ons dis vrotsig.

LODEWYK ·

Die antwoord is CVO Skole, maar mense verkies om hul kinders deel van die swak onderwysstelsel te hou. Party afrikaanse mense sal nie met ‘n tang raak aan ‘n CVO skool nie. Daar sal ‘n tyd kom, nie ver van hier, wanneer onderwysers volgens demografie van die land aangestel sal word by elke skool, dan sal daar nie meer ‘n keuse wees nie. Afrikaans sal ook uitgefasseer word, dit is die enigste faktor wat nog hoe standaarde handhaaf. Wanneer Engels dan as enigste taal van onderrig in werking tree is standaarde by die venster uit.

dr Sakkie van der Merwe ·

Ldewyk, Jy slaan die spyker op sy kop. Kyk na die CVO uitslae, 100%. Maar ouers WIL kinders laat sosialiseer, hul moet aan sport deelneem. Intussen veloor hul hul identiteit, kultuur en geskiedenis word geminag. CVO die enigste oplossong in hierdie multi-kulturele opset.

Kat ·

Ek skat die slaagsyfer moes omtrent 30 % gewees het.Daar is gekook met die uitslae . Ongetwyfeld.Hierdie lot wat nou jaar vir jaar deurgesit is wil nou universiteit toe.Is ek reg?

jaco ·

maroela het eergister berig dat CVO-skole se slaagsyfer 100% is. dit beteken AL hulle matrieks het geslaag. is dit REGTIG moontlik? Is die standaarde daar nie ook bietjie aan die lae kant nie?

dr Sakkie van der Merwe ·

Kyl na CVO leerlinge wat Universiteit toe gaan, vele voorbeelde van goed voorbereide kinders. Standaard defnitief nie laag nie. Personeel toegewyd en leerstof word vanuit ‘n Christelike oogpunt aangebied.

jaco ·

vreemd dat CV0-skole se 100% slaagsyfer geloof word, maar dat staatskole se 75% as ‘n skande, te hoog, gekook, deurgesit ens ens veroordeel word?
nou wonder ek maar net: speel ras dalk n rol by die feit dat die een geloof en die ander een veroordeel word???

jaco ·

almal veroordeel die 75% slaagsyfer van staatskole se matrieks met allerhande lelike opmerkings en daar is redelike consensus dat die standaarde te laag is.
Terselfdertyd word kinders wat 7, 8, 9, 10 en meer onderskeidings behaal het, egter geluk gewens. Dis nie so n groot prestasie nie. dis die lae standaarde wat hierdie baie onderskeidings veroorsaak.
geskiedenis was my sterk vak op skool, maar ek moes bitterlik hard werk om onderskeiding te kry. dit was 32 jaar gelede. ek het onlangs n konsep-vraestel vir huidige matriek geskiedenis gesien. ek was verbaas oor hoe maklik dit is. selfs die langvrae sou ek uit my kop uit kon beantwoord, sonder om eers weer te leer.

Anton ·

Die enigste tale van vooruitgang is wiskunde en die fisiese wetenskappe. Daar is n ongesonde en kortsigtige fokus deesdae op die sosiale wetenskappe. Drama, dans studies ens. Ek het twee kinders deur skool wat n A gemiddelde vanaf graad 8 tot in graad 12 behaal het in ELKE toets en eksamen met vakke regte Wiskunde, Wetenskap, Biologie, Rekeninkunde ens. Elkeen het ses onderskeidings behaal Elke jaar. Uit die top 20 van elke jaar is/was daar hoogstens vyf leerders wat In Wiskunde en Wetenskap presteer het die res drama en so aan. Raai, raai nie een van my kinders is op die ererol van die skool nie. Drama dans sport skoolsaal uitvee is op die ererol. Hoe bou mens n brug, n pad, n dam met dans? Dit is so dat die skole net wil druk vir A simbole al is dit vir die hoof se kar was! Asons wil vinger wys oor verlaagde standaarde moet ons eerste voor ons eie deur vee!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.