Matriekuitslae wys ‘veerkragtigheid’ van leerders

(Argieffoto)

Die onderwysvakbond SAOU sê die matriekuitslae vir 2020 wat Maandag bekend gemaak is, is ʼn “uitsonderlike” prestasie.

“Alhoewel die leerders gelukgewens moet word, is dit veral die opvoeders wat werklik standbeelde verdien. Hierdie opvoeders het onteenseglik ʼn bomenslike poging aangewend om leerders voor te berei, maar bowenal om hulle die nodige vertroue te gee om met moed die eksamenlokale in te stap,” sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU.

Hy sê dit sal egter verkeerd wees om net hulde te bring aan gr. 12-onderwysers, omdat dié jaar ʼn kulminasie van ʼn skoolloopbaan is. “Die gr. 12-opvoeders kon net die leerders suksesvol voorberei indien die voorafgaande skooljare ʼn vaste basis gelê het.”

Klopper het verskeie syfers uitgelig as belangrike rigtingwysers vir die suksesvolle toetrede tot verdere studie en die arbeidsmark. Dié syfers sluit in:

  • Rekeningkunde: 95 864 kandidate het die eksamen afgelê. Klopper sê dit is ʼn baie lae syfer teen die agtergrond daarvan dat rekeningkunde die taal van entrepreneurskap en die sakewêreld is. “Dit sal Suid-Afrika loon om meer klem op hierdie vak vir die toekoms te lê.”
  • Wiskunde: 241 013, oftewel 15 325 minder kandidate, het vir die eksamen geregistreer. Dit is ʼn kommerwekkende dalende tendens die afgelope paar jaar. Klopper sê dit dui ongetwyfeld daarop dat die standaard van onderrig in veral primêre skole besondere aandag sal moet geniet en dat vakspesialiste dit moet onderrig.
  • Fisiese wetenskappe: 179 415, oftewel 6 951 minder kandidate, het vir die eksamen geregistreer en Klopper sê dit is eweneens kommerwekkend en toon ʼn soortgelyke daling in vergelyking met vorige jare.

Die SAOU sê dit sou verkeerd wees om net op verlede jaar se matrieks teen die agtergrond van Covid-19 te fokus omdat hulle ʼn volledige gr. 11-jaar ter voorbereiding van die eksamen agter die rug gehad het.

“Die klas van 2021 geniet nie dieselfde voordeel van ʼn volledige gr. 11-voorbereidingsbasis nie weens die talle onderbrekings wat gedurende 2020 beleef is. Skole sal werklik gefokus en hard moet werk om die klas van 2021 van dieselfde voorbereiding te voorsien,” sê Klopper.

Die burgerregtegroep AfriForum het matrikulante wat geslaag het gelukgewens en onderwysers bedank wat dit ten spyte van moeilike omstandighede moontlik gemaak het.

Hy gee die skuld vir die daling van sowat 5% in die slaagsyfer vir die departement van basiese onderwys se “swak hantering” van die Covid-19-pandemie.

Volgens Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum, was die gedurige sluit van skole vir onnodige lang tye, gebrekkige voorsiening van veiligheidsmiddels, die departement se vermorsing van miljarde rande, asook die onsekerheid oor die herskryf van twee uitgelekte vraestelle, enkele van die faktore wat hiertoe bygedra het.

AfriForum het ook die departement hof toe gesleep om sy besluit dat die vraestelle wat uitgelek het oorgeskryf moet word, te betwis. Die hof het in die organisasie se guns beslis.

“Dit is tyd dat die departement groter erns maak met die toekoms van Suid-Afrika se kinders, aangesien daar talle openbare skole is wat nie voldoende veiligheidstoerusting ontvang het nie. Voorts behoort die departement onder meer op te tree teen politici soos Panyaza Lesufi [LUR vir onderwys in Gauteng] wat toelaat dat sy departement miljoene rande mors om kwansuis skole te ontsmet, terwyl kinders se behoeftes ontoereikende aandag geniet,” sê Venter.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê die uitslae dui op leerders se veerkragtigheid ten spyte van die uitdagings.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, sê Afrikaanse skole het vanjaar hul uitstaanprestasies van vorige jare volgehou en selfs beter presteer tydens die 2020-matriekeksamen as in 2019.

“Die meeste Afrikaanse skole kon vinnig reageer met ʼn behoorlike digitale strategie en in die meeste gevalle kon daar net op uitgebrei word. Dié daarsonder kon ook op ander maniere vinnig reageer. Hierdie skole bewys telkemale dat enigiets moontlik is met goeie leierskap, toegewyde onderwysers en betrokke ouers.”

Buys het ook verwys na die afname in leerders wat wiskunde as vak geneem het en sê hulle moet aangemoedig word om ten spyte van die moeilikheidsgraad daarvan steeds sogenaamde welvaartskeppende vakke soos wiskunde, fisiese wetenskappe en rekeningkunde te neem.

“Moenie net fokus op goeie punte nie, maar rus leerders toe om innoverend en probleemoplossend te dink, sodat hulle hul plek in die werkplek van die toekoms kan vol staan. Dit bepaal die voorspoed van ʼn land,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Patat ·

Skole moedig kinders aan om nie die vakke soos wiskunde te neem nie….Hartseer. Dit maak hul keuses vir vorentoe soveel minder.

Francois Le Cochon ·

Indien jy na matriek in ‘n ry wil staan om werk te kry, kan jy maar 30% kry en vakke soos godsdiens en geslagsgelykheid vat. As jy egter eendag ‘n werkskepper wil wees, dan vat jy wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskappe, en sorg dat jy ten minste 75% kry.

Debby ·

Stem saam en sit jou kind in n ordentlike tegniese skool waar hy nog n N3 in matriek kan kry

Gato ·

Nog beter, sit jou kind in ‘n skool waar hy of sy die IEB eksamen skryf. Dit is die enigste skool kwalifikasie wat iets beteken. Die Nasionale Senior sertifikaat is lankal so afgewater dat omtrent niemand dit meer wil erken nie. Umalusi en die depatement is kop in een mus om die resultate te manipileer en hulle probeer tog so hard om die swart skole en provinsies wat meer swart skile het te laat goed lyk. Daar is geen manier hoe die Vrystaat se algemene slaag syfer beter as die Wes-Kaap kan wees nie.

Lionel ·

Gato ek dink jy moet ook maar jou feite ook heeltemal agter mekaar kry. Die Vrystaat en Bloemfontein spesifiek het van die beste skole in die land wat akademie aanbetref wat die provinsie se slaagsyfer single-handed dra.

Chantel ·

Onthou net, nie alle kinders is akademies sterk soos die een langs hom of haar nie. Ek weet van BAIE mense wat nie so goed gevaar het op skool, wat baie beter gedoen het as die van hulle maats wat onderskeidings gekry het. Dis goed en wel jy kry onderskeidings, maar dit maak nie dat jy VERSEKER is van ‘n goeie werk nie.
Deursettingsvermoë tel ongelukkig in my boekie veel meer as jou akademiese prestasie. Ons werk daagliks met mense wat werklik hard werk om dit wat die lewe vir hulle gooi te oorkom en dis juis hulle wat nie so GOED gevaar het op skool nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.