Matrikulant het ‘nog baie pyn’ ná bromponie-ongeluk

Larochell Maidment (17) was op pad om ’n eksamenvraestel af te lê toe sy van haar bromponie afgery is. (Foto: Verskaf)

Larochell Maidment (17), die matrikulant van Hoërskool Warmbad in Limpopo wat op 6 September van haar bromponie afgery is, het nog baie pyn.

Sy kan egter al kort entjies met krukke loop.

Maroela Media het vroeër berig dat Larochell op pad skool toe was om haar lewensoriëntering (LO)-rekordeksamen vraestel te skryf toe ’n bakkie glo versuim het om by ’n stopteken stil te hou en haar getref het.

Sy het nie net haar eksamen misgeloop nie, maar moes ook die res van haar vraestelle, wat Donderdag tot ʼn einde gekom het, in pyn en in ’n rolstoel aflê.

“Ek het darem al met my krukke begin loop, maar dis nog steeds baie moeilik en verskriklik seer,” sê Larochell, wat ’n haarlynfraktuur aan haar heup opgedoen het.

“Ek is egter baie dankbaar dat ek my LO-vraestel op 13 Oktober kan gaan skryf en dat ek nie tot volgende jaar hoef te wag nie.”

Larochell sê haar oorblywende eksamenvraestelle was ’n uitdaging aangesien sy gesukkel het om te konsentreer.

“Ná die ongeluk het ek gesukkel om te fokus. Dit wys ook in my punte, veral my biologievraestel wat ek die dag ná die ongeluk moes skryf. Ek is ’n onderskeiding-kind en my punte is altyd goed.”

Larochell sê sodra sy konsentreer, self tydens vraestelle, kry sy terugflitse van die ongeluk.

“Ek kry ook nagmerries en kan steeds die geluid hoor wat die bakkie gemaak het toe hy my tref.

“Ek is nou skrikkerig om in enige voertuig te ry en raak vinnig angstig.”

Sy is ook hartseer oor haar bromponie, waarvoor haar ouers lank gespaar het.

“Ek was gewoond aan my eie vervoer en ’n bietjie onafhanklikheid.”

Larochell sê sy is egter dankbaar vir ’n goeie ondersteuningsnetwerk van mense wat haar ondersteun en deur hierdie moeilike tyd dra.

“My skool en onderwysers was ook baie akkommoderend.”

Sy beplan om volgende jaar regte deur Unisa te studeer terwyl sy werk, aangesien sy nie kan bekostig om heeltyds te studeer nie.

Die gesin oorweeg nie in dié stadium enige verdere stappe teen die bestuurder van die voertuig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jasper

Die padreels word nie meer gehoorsaam nie omrede die wetstoepassers dit nie meer polisieer nie en dan moet onskuldige kinders soos Laroshell dit ontgeld.

Stephanus

Ken nie die omstandighede nie maar dit is verblydend om te sien dat daar nog mense is wat nie die goed wat met hul kind gebeur, gebruik om hulself te verryk nie. Hierdeur probeer ek nie om padvarke se gedrag goed te praat nie.

Chris dupreez

Dapper meisiekind, hoop daar is n samaritaan wat jou sal help met jou studies volgende jaar

Swerwer

Dit is so tragies dat ‘n onskuldige jong mens deur soveel trauma en pyn moet gaan omdat sekere bestuurders nie hul padreëls/padtekens gehoorsaam nie. Hy/Sy moet aan die pen ry vir die daad.