Matrikulant laat seldsame toestand haar nie onderkry

Martiné Gouws het tydens haar skool se meriete-aand ’n spesiale trofee vir deursettingsvermoë ontvang (Foto: Verskaf)

’n Matrikulant van Hoërskool Zwartkop in Pretoria verwag sowat vier onderskeidings vroeg volgende jaar wanneer die matriekuitslae bekend gemaak word, ten spyte daarvan dat sy haar hele skoolloopbaan lank nié op ’n swartbord kon sien nie.

Martiné Gouws (18) van Pretoria is by geboorte met subnormale gesigskerpte gediagnoseer. Dié seldsame toestand beteken dat sy byna blind is. Dit hou egter nie dié slimkop terug nie, wat nou tydens haar matriekvakansie die een na die ander leesboek met gewone lettergroottes verslind.

Gouws het Dinsdag aan Maroela Media verduidelik dat sy gewone lettergroottes kan lees indien sy dit rustig op haar eie tyd kan ontsyfer. “As ek tyd het, kan ek gewone lettergroottes lees, maar wanneer ek toets skryf, moet ek ’n vraestel met vergrootte skrif kry.”

Gouws se vakke het Afrikaans, Engels, hoërgraad Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Biologie en Rekeningkunde ingesluit waarvan al haar vraestelle tot A3 vergroot moes word. Haar onderwysers het ook hand bygesit om seker te maak dat dié slimmerd haar matriekjaar suksesvol voltooi. “Ek maak gewoonlik staat op my gehoor en my onderwysers help verder deur dit wat op die swartbord staan vir my af te skryf of ’n foto daarvan te neem,” verduidelik sy.

Martiné Gouws voor haar matriekafskeid. (Foto: Verskaf)

Sy dra ook permanent ’n bril, maar lag wanneer sy vertel dat sy al kort-kort ’n nuwe bril moet kry, soos haar sig voortdurend verander.

Op ʼn vraag of haar mediese toestand groot uitdagings bied, is haar antwoord eenvoudig: “As jy met só iets jou hele lewe lank leef, is jy maar gewoond daaraan. Dis vir jou normaal, jou elke dag.”

Já, dit neem haar wel langer as die gewone leerder om uit ’n handboek te leer, maar oor die algemeen glo sy sy het goed in haar eindeksamen gevaar. “Die eksamen was orraait, maar wiskunde was ’n riller!”

Gouws beplan om volgende jaar sielkunde deur Unisa te studeer. “Ek hou daarvan om iets nuuts te leer. Nou gaan my skoolvakke my nie meer beperk nie. Ek gaan iets van alles kan leer.”

Gouws het tydens haar skool se meriete-aand ’n spesiale trofee vir deursettingsvermoë ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gert ·

Martiné, jy is n voorbeeld, nie net vir my nie maar vir miljoene ander wat net kan kla en kla oor alles en nog wat. Ek wens jou alle sukses toe, jy is alreeds n wenner en gaan nog baie vêr kom.

IK ·

Pragtig meisiekind!! En dit gedoen sonder pampoenvakke!! Tussen die ore is wat saak maak. Voorspoed word jou toegebid.

Al ·

Baie geluk slim meisiekind. Jy laat menigte skaamkry met jou deursettingsvermoë.

vis ·

Go Zwarrie. As daar ‘n wil is is daar ‘n weg. Soos die skool leuse se: Dien en Glo

riana ·

Dit wil gedoen word. En die wat kan is nie bereid om hard te leer nie en vat als vanself in die lewe. Laat sy vir ons inspirasie wees.

Vraagteken ·

Martiné – indien jy hierdie lees, probeer om by ‘n Universiteit in te kom (anders as Unisa). Keuring vir nagraadse studies in sielkunde is baie moeilik, dus help dit om by jou tukkies, UJ, ens. ondergraads te doen. Sonder nagraadse studies kan jy nie as ‘n kliniesesielkundige registreer nie. Net iets om aan te dink…

Jem ·

Baie geluk Martine. Jou deursettingsvermoee is n voorbeeld vir baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.