Matrikulant sterf: ‘Hy was ons rugby-boerseun’

André Jordaan (Foto: Verskaf)

“Hy was goed in als. Hy het baie mense geken en boonop die mooiste hart gehad.”

Só sal André sr. en Mechelle Jordaan van Brandfort in die Vrystaat hul geliefde 18-jarige seun, André Jordaan, onthou nadat hy voor die naweek onverwags van hulle weggeneem is. André het Vrydag sy eie lewe geneem.

André was ʼn matriekleerder aan die Hoërskool Staatspresident Swart in Brandfort. Hy was die koshuishoofseun en die skool se onderhoofseun. Hy was ook ʼn kranige sportman.

André se ouers vertel hy speel al van kleuterskooldae af rugby. “Hy het sy hele lewe lank rugby geëet, speel en slaap,” vertel sy ouers aan Maroela Media.

André het eerstespanrugby gespeel en as flank, agsteman en soms stut uitgedraf. “Ons het altyd gegrap en gesê omdat hy so ʼn veelsydige rugbyspeler was, wou ons ʼn trui vir hom maak met al die posisienommers op,” vertel Mechelle.

Afgesien van rugby het hy goue medaljes in swem verower en ook in hamergooi uitgeblink.

André was ‘n kranige rugbyspeler (Foto: Verskaf)

André het in Januarie as deel van die o.18 A-Mangaung-Vrystaat-skaakspan aan die SAJCC-skaakkampioenskaptoernooi deelgeneem.

“Hy was ook lief vir perdry, bergklim en visvang. Daar is niks wat hy nie kon of wou doen nie,” vertel sy ouers.

André se ouers woon op ʼn plaas in die Brandfort-omgewing. André was baie lief vir die plaas. “Vandat hy ʼn trekker se pedaal kon bykom, wou hy net ry en boer. Hy was ons rugby-boerseun.”

André het ook in sy vrye tyd sy eie houtonderneming bedryf.

Sy ouers beskryf hom as vriendelik, gesellig, hulpvaardig en ʼn harde werker.

“Hy was ook gewild en het ongelooflik baie mense geken. Hy het graag by al die bure gaan kuier. Hy het altyd sy hoed afgehaal om mense te groet. Hy het met almal gesels en nooit kwaad in sy hart gedra nie. Hy het die breedste glimlag gehad met die mooiste skittering in sy oë,” vertel sy ouers.

André het ook presteer in skaak (Foto: Verskaf)

Hoërskool Staatspresident Swart het op sy Facebookblad sy medelye aan André se vriende en familie betuig. Boodskappe van medelye het ook op die skool se Facebookblad ingestroom.

“Dit is met groot hartseer dat ons een van ons matrieks Vrydag moes groet. André Jordaan was ʼn geliefde leerder onder personeel en leerders,” lui die inskrywing op die skool se Facebookblad.

Die skool gaan ʼn troosdiens hou om van André afskeid te neem.

“André is net 18 jaar geleen aan ons deur die Here se genade alleen. Hy gaan die grootste leemte hier laat,” sê sy ouers. André word oorleef deur sy ouers, ouer suster, Chandré, en jonger broer, Wian.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Ons harte is seer saam met julle. Pragtige kind. Mag jul berusting vind in die dae wat kom. Sterkte vorentoe.

Tanya ·

Dit breek altyd my hart, wat dryf die jong mense om hulle eie lewens te neem, veral as hulle so gewild is. Baie sterkte aan sy familie, dis bitter hartseer!

Pieter ·

Dis vandag ook presies 6 jaar gelede wat my broer selfmoord gepleeg het. Dit was ook op ‘n ongewone koue wintersoggend wat ons die boodskap gekry het. Ek wil net vir die Jordaan familie sterkte toe wens met die verlies van hierdie pragtige lewenslustige seun. Glo my die Here sal julle vertroos en die pyn draagliker maak vorentoe. Ry die golwe van goeie herinneringe wat Andrè deel was van julle gesin.

Riana ·

Ai hy is nog so jonk. Ons innige innge meegevoel vir die gesin. My hart bloei vir julle

Cindy ·

Die trane loop vir ‘n familie wat ek glad nie ken nie :( So bitter jammer vir julle verlies x

Daleen ·

My innige innige meegevoel aan die familie. Hierdie rou wond wat gelaat is heel nooit heeltemal nie maar bly naby aan Here want Hy is die enigste Ene wat julle in die hartseer tyd kan vertroos. Dit kon my seun gewees het wat julle beskryf het toe julle Andre beskryf het – my seun het ook bree wit glimlag, baie mense geken, uitblinker in rugby gewees en altyd glinstering in daai mooi oe gehad enigste verskil myne is in karongeluk op 19 van ons weggevat. 5 en half jaar later en die seer is steeds daar maar ek het geleer om te “cope”. Ek hou julle in my gebede.

minniemuis ·

My Hart huil saam met julle….my bruin oog vriendelik seun het ook op gegee die dag voor Kersfees 3 jaar terug. Nou nog wroeg ek met my gewete oor ek nie die seer agter sy glimlag raak gesien het nie. Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.