Matrikulant sterf kort na sy laaste vraestel in hospitaal skryf

Hoewel Keishia Ruiters nie in 2017 haar matriekjaar kon voltooi nie, het sy wel daardie jaar saam met haar skoolvriende haar matriekbal bygewoon. Foto: Facebook

Die bekendmaking van die matriekuitslae verlede week was vir die ouers van Keishia Ruiters (19) beide ʼn trotse en ’n hartseer oomblik – trots omdat hul slimkopkind met universiteitsvrystelling en boonop ʼn onderskeiding geslaag het, maar hartseer omdat sy nooit haar droom om ʼn menslikehulpbronbeampte te word kon verwesenlik nie.

Keishia het kort nadat sy haar laaste matriekvraestel in die hospitaal geskryf het aan leukemie gesterf.

Haar ma, Lynette Ruiters, het vroeër vanjaar self haar dogter se rapport by die Hoërskool Marian gaan haal. “Sy het ʼn onderskeiding gekry vir geskiedenis wat nog altyd haar gunstelingvak was,” vertel sy trots. “Maar al haar uitslae was so goed. Sy het in al haar vakke goed gedoen, nie net geskiedenis nie.”

Leukemie is in Mei 2017, in Keishia se matriekjaar, vir die eerste keer by haar gediagnoseer ná talle toetse en hospitaalbesoeke om vas te stel wat presies fout is. Sy is destyds in die hospitaal opgeneem en moes intensiewe chemoterapiebehandeling ondergaan.

Lynette vertel dat die chemo vir Keishia bitter siek gemaak het en dat sy ʼn groot deel van die skooljaar gemis het. In November het dokters bepaal dat die kanker in remissie is. ʼn Beenmurgoorplanting is aanvanklik oorweeg, maar aangesien Keishia in remissie was, het dokters gemeen dit is nie nodig tensy sy weer siek word nie.

Keishia moes fyn dopgehou word en gereeld vir opvolgbesoeke gaan, maar vir alle praktiese doeleindes was haar lewe terug na normaal. “Sy het toe vir my gesê sy wil teruggaan skool toe om matriek klaar te maak en sy is in 2018 terug,” sê Lynette.

Sy vertel Keishia was heeljaar gesond en het begin planne maak vir verdere studies ná matriek. “Sy het heeljaar gesê sy wil ʼn maatskaplike werker word, maar so halfpad deur die jaar besluit sy wil eerder menslike hulpbronne studeer. Sy is toegelaat vir ʼn maatskaplike werk-graad by die Universiteit van Wes-Kaapland en voorlopig toegelaat vir menslike hulpbronne afhangend van haar matriekpunte,” verduidelik Lynette.

Indien sy aan die akademiese vereistes voldoen het, sou sy in Januarie vanjaar na menslike hulpbronne kon oorskakel. “Haar punte was op die ou end goed genoeg om menslike hulpbronne te gaan studeer; sy sou dit kon gedoen het.”

Keishia was reeds besig met haar matriekeksamen toe sy begin sleg voel en dieselfde simptome as in 2017 kop uitgesteek het. Sy is terug hospitaal toe waar daar weer toetse gedoen is. Dokters kon onmiddellik vasstel dat haar immuunstelsel baie swak was en kort daarna het verdere uitslae getoon dat sy ʼn terugslag gehad het – die leukemie het teruggekeer.

Daar was nie sprake van teruggaan skool toe of eksamen klaarskryf nie – Keishia moes onmiddellik in die hospitaal opgeneem word. “Sy het daardie dag vir my gesê, ‘Mammie, ek het net nog twee vraestelle oor. Ek wil dit skryf’,” sê Lynette.

Lynette het die skool gebel wat met die provinsiale departement van onderwys in gesprek getree het en vinnig is reëlings getref om Keishia toe te laat om haar laaste twee vraestelle – Afrikaans en Engels – in haar hospitaalbed te skryf.

“Sy was so excited dat sy mag skryf en die hospitaal was so nice met haar. Hulle het oral plakkate opgesit om te sê mense moet stil wees want ʼn eksamen is aan die gang. Ek het nog die oggend voor die eerste vraestel hospitaal toe gegaan om vir haar pap te vat, want sy moet eet voor sy skryf en toe ek daar kom het hulle klaar vir haar ontbyt gebring om seker te maak sy eet voor die vraestel begin.”

Twee dae nadat Keishia haar laaste vraestel geskryf het, het sy weer met chemobehandeling begin. Lynette vertel dat haar dogter deurentyd goed gelyk het en die behandeling redelik goed hanteer het tot 29 November toe Lynette kon sien daar is fout. Keishia het kouekoors gehad en het geruk van die koors.

Keishia Ruiters. Foto: Facebook

Teen Sondag het sy met haar asemhaling begin sukkel, voortdurend gehoes en gekla dat dit voel asof sy nie asem kry nie. Die aand het Lynette by haar dogter in die hospitaal geslaap. “Hulle het mos nou baie pasiënte daar en kan nie heeltyd na haar kyk nie. Wat as iets met haar gebeur? Ek kon haar nie los nie, ek moes by haar bly,” sê sy hartseer.

Maandagaand het Lynette weer by Keishia gebly en sê dat sy deur die nag gekla het van pyn op haar bors. Sy het al hoe swakker geword en Lynette het haar aangeraai om nie te praat nie en haar kragte te spaar.

“Dinsdagoggend het ek die verpleegsters gehelp om haar bed skoon oor te trek voordat ek haar gewas en vir haar skoon nagklere aangetrek het. Ek is toe gou huis toe om net ʼn bietjie te rus en te gaan skoon aantrek. Toe ek by die huis kom, het ek net op die kooi geval. Ek was so moeg. Toe bel die hospitaal en sê ek moet kom.”

Lynette sê met haar terugkeer na die hospitaal, was Keishia aan verskeie masjiene gekoppel en het sy nie meer reageer nie. Sy het om 18:00 gesterf, met haar naaste familie by die hospitaal.

“Dit het so vinnig gebeur,” sê Lynette met ʼn sug. “Ek het dit nie verwag nie. Ek het gedink sy sal weer gesond word, ek het nie gedink sy is só siek nie. Ook nie dat dit so vinnig sou gebeur nie.”

Sy beskryf haar dogter as ʼn saggeaarde mense-mens wat mal daaroor was om te lag. “Sy sou comedies oor en oor kyk net om te lag – al het sy dit al gekyk, dan kyk sy dit weer en lag van voor af asof sy dit nou vir die eerste keer sien. Sy was lief daarvoor om te lag,” sê sy.

“Sy was ʼn huis-kind. Ja, sy sou uitgaan, maar het nie gekuier of laat uitgebly nie. Sy wou eerder by die huis wees. Sy was ʼn verantwoordelike kind wat geweet het wat is goed vir haar.”

Keishia se begrafnis het op 15 Desember plaasgevind en Lynette vertel die saal was stampvol familie, vriende en gemeenskapslede wat almal gekom het om hulde aan die blinkoog meisie te bring. “Daar was so baie mense, want sy was so loved. Sy was die wonderlikste kind, soos my beste vriendin met wie ek alles kon deel. Sy was die beste kind waarvoor enige ouer kon vra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Nettie ·

“All the Good die young” ….. So, so, so hartseer. ‘n Jong dame in die fleur van haar lewe wreed weggeneem deur die wrede Groot K. Mag die Here u en u gesin troos, mev. Ruiters.

Trudels ·

Dit is so hartseer, baie sterkte aan die mamma en jy kan met reg trots op jou dogter wees en al die mooi herinneringe in jou hart dra.
Mag julle vertroosting vind in die hartseer tyd.

Abel ·

Alle liefde en sterkte vir haar ouers en geliefdes, ons bid julle God se vertroostende Hand toe. Julle kan voorwaar trots wees op jul hardwerkende dogter xx

Naomi Berger ·

Sterkte aan die familie.
Mag julle herinneringe net die van liefde wees.
Mag jullle vertroosting vind in Jesus.

Nadia ·

Dis nou ‘n baie hartseer verhaal… sterkte mama en famielie en vriende. En well done Keishia met jou prestasie ek glo jy juig van trots saam die engele,

Colleen ·

Dit is so hartseer. Mag God haar ouers en familie vertroos in hierdie hartseer tyd.

IK ·

Ek sukkel om die berig te lees, tog het ek vanoggend nie uie geëet.
Eerder ‘n standbeeld VAN haar VIR die jeug as hierdie andere.

Jo ·

So mooi storie maar so hartseer. Die mamma het soveel om op trots te wees. Sy was pragtig en goeie inspirasie vir baie. Goeie mamma, saam haar die pad geloop.

Sterkte aan die familie.

Landie ·

Ek stuur soveel liefde vir die mamma en gesin, so jammer om te hoor van julle groot verlies.

Elsa ·

Ek sit en huil sommer nou, want dit voel vir my so onregverdig dat so ‘n pragtige kind en so ‘n wonderlike voorbeeld vir ons jeug, sommer net so weggeneem is. Sterkte aan die Ruiter gesin met jul groot verlies.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.