Matrikulant sterf tragies

Hein Swart (18) (Foto: Verskaf)

“Hy het baie omgegee vir mense en het hom ontferm oor al die afvlerkvoëltjies.”

Só sal Sandra van Reenen haar geliefde seun, Hein Swart (18), onthou nadat hy Vrydag in ’n bromponie-ongeluk (scooter) in Reitz in die Vrystaat omgekom het. Hy was saam met ʼn vriendin op pad om geld te trek toe ʼn motor klaarblyklik op hulle afgepyl het. Hein sou nou aan die einde van die jaar aan Hoërskool Reitz gematrikuleer het.

Sandra vertel Hein het die middag saam met ’n groep vriende ’n melkskommel by Poelanies-gastehuis in Reitz gaan drink. Toe hulle moes betaal, het sy bankkaart nie gewerk nie. Hy het besluit om saam met sy vriendin, Christelle Cilliers, op haar bromponie na die naaste kitsbank te ry en kontant te trek.

“Hy het my 15:07 gebel en my vertel sy bankkaart werk nie en dat hy saam met Christelle ry om kontant te trek. Hy sukkel al ’n geruime tyd met sy bankkaart. Ek het die oggend nog ’n geldjie vir hom inbetaal,” vertel Sandra.

Sandra sê die ongeluk het ’n paar meter van die gastehuis, op die hoek van Sarel Cilliers- en Middletonstraat in Reitz plaasgevind.

“Volgens ooggetuies het ’n silwer Volkswagen Polo van Betlehem se kant af met Sarel Cilliers-straat teen ’n hengse spoed aangekom en my seun-hul direk getref. ’n Ooggetuie wat die ongeluk vanuit sy erf gesien het, sê die slag was só hard, die bromponie het hoër as sy huis se afdak deur die lug getrek,” vertel Sandra.

Sandra sê Hein het agterop die bromponie gesit en is volgens ooggetuies aan sy regterkant getref. Die trefslag het Hein en Christelle se valhelms van hul koppe afgeslinger.

“My kind het klaarblyklik op die teerpad geval. Hy was bewusteloos. Ek hoor Christelle het toe die heeltyd langs hom gesit totdat paramedici daar aangekom het.”

Hein is later in die Mediclinic Bethlehem aan veelvuldige breinbeserings dood.

Sandra en haar man, Tinus van Reenen, en ook Hein se stiefpa, vertel Hein het veral akademiese presteer. Sy gunstelingvakke was huishoudkunde en toerisme.

“Hy was pligsgetrou en hardwerkend. Hy was ʼn perfeksionis; altyd netjies, georden, opgeruimd, agtermekaar en het geweet wat hy wil hê. Hy het als in sy lewe haarfyn vooruit beplan. As ons die huis omkrap en vuil maak, sou Hein dit daarna skoonmaak,” vertel Sandra en Tinus.

Hulle sê wat veral van Hein opgeval het, was sy omgee vir ander mense en hul swaarkry. “Ek het nooit besef hy het so baie vriende nie,” sê Sandra.

Hein sou na skool eers ʼn jaar afvat om te besluit wat hy verder wil studeer.

Volgens Sandra is Christelle reeds Saterdagoggend uit die hospitaal ontslaan. Sy is die Vrydagaand ná die ongeluk in die Mediclinic in Bethlehem opgeneem.

Hoërskool Reitz het Saterdag op hul Facebookblad hul medelye aan Hein se familie, vriende, medematrikulante en personeel betuig.

“Ons as skool en gemeenskap is in rou gedompel, maar berus in die wete dat ons Here nie foute maak nie. Só bemoedigend is die heerlike wete dat Hein sy Skepper geken het. Hein is lief vir die Here en die Here is lief vir sy kind,” lui die inskrywing.

Sandra sê die ongeluk gaan ondersoek word omdat die motoris klaarblyklik die spoedgrens ver oorskry het. ’n Inwoner van die dorp het ook aan Maroela Media gesê dié einste hoofstraat in Reitz moet dringend spoedhobbels kry omdat motoriste so vinnig deur die straat jaag en gereeld stopstrate ignoreer.

Hein se begrafnis vind Vrydag 21 Augustus om 11:00 by die NG Moederkerk Reitz plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Magda ·

Ai dis so tragies- Baie sterkte en hoop die skuldige(s) sal gou opgespoor word

Magda ·

Het die motoris stil gehou wat die oorsaak vd ongeluk was MAroela??

Megan Swart ·

Dagsê Magda
Dankie vir jou kommentaar. Die inligting is nog nie aan ons bekend nie aangesien die ongeluk nog ondersoek word.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

johanf ·

Ek ry an 1978 motorfiets, sekere motors gee nie ń duit om nie, ek het verlede jaar gestop…. Daardie motorbestuurder sal maar sy pak moet vat, Simpatie aan die familie, en naasbestaandes, sterkte met jou verlies en gesesing Christelle.
Tragies….!!

JohanR ·

Baie tragies en my innige meegevoel met die famile van die seun. Baie gevaarlik op ‘n fiets of ‘n motorfiets in SA. Partykeer sien motoriste jou nie eers raak nie. Ek het ophou die fiets op die pad vat, want ek is al amper twee keer bokveld toe. Nou oefen ek op die fiets in die gym. en ry dan in reisies waar die paaiens veilig gemaak is, en afgesper is.

lollapot ·

Ek hou julle in my hart en in my gebede Sandra en Christelle . . .

Fae Fubar ·

Ai, afwys duimpie. Ek sien dat jy oral vertroostende boodskappe met ‘n Christelike ondertoon afkeur. Unto each his own, nè.

popsa ·

Ag nee… Sy ouers, geliefdes en vriende is in ons gedagtes en gebede. Mag julle alle troos ontvang van Bo.

Piet ·

Dis lewensgevaarlik om motorfiets of fiets te ry op SA paaie. Motoriste sal jou van die pad af ry en definitief nie vir jou voorrang gee nie (fietse).

Mariaan ·

En so verander jou lewe in n oogwink…nou bly net hartseer en verlange oor…ek as n ma..sal dit nie oorleef nie…
My innige simpatie met die familie..so n mooi seun

LANA is ELANè ·

Hartseer en ek kan net dink dat sy ouers se vertroosting daarin lê dat Hein sy Maker by die naam geken het. Ek dink dit is al wat mens kan troos as iemand se lewe so voortydig kortgeknip word. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.