Matrikulant verdrink toe hy boetie red

Brendon Ferreira [Foto: Facebook]

Die heldedaad van die 18-jarige Brendon Ferreira om sy klein boetie uit die Vaalrivier te red, het sy lewe geëis toe hy self in die proses verdrink het.

Die voorval het op 28 Desember in die Vaalrivier by die Weltevrede Country Resort buite Parys, Vrystaat, plaasgevind. Brendon het saam met sy gesin daar vakansie gehou.

Brendon se agtjarige boetie, Wian, het ’n rubberband in die rivier probeer terugkry, maar in die moeilikheid beland. Brendon is toe die water in om Wian te help.

Volgens kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het Brendon onder die water verdwyn weens die sterk rivierstrome.

“Sy pa het hom probeer red, maar dit was tevergeefs,” bevestig Myburgh.

“Die polisie se duikeenheid is na die toneel ontbied en het Brendon se liggaam uit die water gebring. Hy is op die toneel dood verklaar.”

Volgens Myburgh is ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Brendon sou Woensdag met sy matriekjaar by Hoërskool Hugenote in Springs, Gauteng, begin het.

Volgens Elri Kruger, ʼn sekretaresse by die skool, was Brendon “dierbaar, behulpsaam en vriendelik”.

“Dit was altyd lekker om jou gesiggie by die kantoorvenster te sien,” skryf Kruger op Facebook.

Een van Brendon se onderwysers, Jacoba Pretorius, skryf ook op Facebook hoe sy Brendon se skerp sin vir humor, sagte hart, goeie maniere en skaam glimlag sal mis.

“Jou plek in ons voogklas is leeg,” skryf sy.

Die skool het op sy Facebook-blad medelye met sy familie betoon.

“In die feestyd is dit veel erger om te verneem van iemand wat gesterf het. Daarom is dit met groot hartseer dat ons simpatiseer met die afsterwe van een van ons leerders, Brendon Ferreira. Baie sterkte aan sy familie en vriende. Mag God julle vertroos in ʼn bitter hartseer tyd,” lui die inskrywing op Facebook.

Maroela Media het Dinsdag die skool probeer kontak, maar was nie suksesvol nie.

Die begrafnis het reeds op 6 Januarie in die Ou Apostoliese Kerk in Selection Park plaasgevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Misky ·

Dis vreeslik hartseer. Innige simpatie met die familie en in besonder Brendon se kleinboet

Marlene ·

Seerste seer. Dink aan die ouers en veral aan die boetie.

Blomme ·

So seer om ń jaar so donker te begin. Sterkte aan die familie en vriende.

BOKKIEBEK ·

My hart word so seer as ek die dinge lees… Soveel mense verdrink in die proses om ‘n ander te help. Here, asb hou die familie styf teen U bors en vertroos hulle..

Cindy ·

ai my hart :( So jammer vir sy geliefdes, en dink veral aan kleinboet

madels ·

Ek kan my nie indink wat hierdie ouers en familie deurgaan nie :-). Ek sal van my kop af raak as so iets met my kinders moet gebeur

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.