Matrikulant ‘vlieg deur lug’ toe bakkie bromponie tref

Larochell Maidment (17) is beseer toe sy van haar bromponie afgery is. (Foto:Verskaf)

ʼn Matrikulant van Hoërskool Warmbad in Limpopo moes Woensdag haar lewenswetenskappe-rekordeksamen in pyn en ʼn rolstoel aflê, nadat sy Maandagoggend van haar bromponie afgery is.

Larochell Maidment (17) kan in dié stadium glad nie loop nie, aangesien sy ʼn haarlynfraktuur aan haar heup opgedoen het. Sy is glo ook erg getraumatiseerd en skrik saans huilend wakker.

Volgens haar pa, Maurice, was Larochell omstreeks 07:20 op pad skool toe om haar lewensoriëntering-rekordeksamen te skryf, toe ʼn bakkie versuim het om by ʼn stopteken stil te hou en sy kind se rooi bromponie getref het. Die voorval het by ʼn oorgang op die hoek van Robertsonweg en Gilfillanstraat plaasgevind.

“My kind is sowat drie meter ver geslinger,” sê Maidment.

Die bestuurder het glo ná die voorval uit sy voertuig gespring en Larochell “hardhandig uit die pad geruk” en gesê hy “wil nie moeilikheid hê nie”.

Byron de Beer, ʼn ooggetuie, sê hy het ʼn entjie verby die stopteken langs die pad gestaan om ʼn oproep te neem toe hy “bande hoor fluit”.

“Ek het in my truspieëltjie gesien hoe die kind deur die lug vlieg.”

Larochell Maidment (17) is sowat drie meter ver geslinger. Die bestuurder van die bakkie het haar glo hardhandig uit die pad gesleep. (Foto: Verskaf)

De Beer het ook gesien hoe die man die meisie glo na die kant van die pad probeer sleep aangesien sy ná die trefslag in die middel van die pad beland het.

“Dit is ʼn baie vreemde ding om te doen. Sover my wete strek, mag jy nie aan iemand raak wat in ʼn ongeluk beseer is nie.”

Volgens De Beer het twee ander mense in die omtrek hulle ook vinnig na die toneel gehaas.

Hy meen die bestuurder van die bakkie het beslis nie stilgehou nie en dat die skuurmerke op die pad daarvan getuig.

Die bromponie is glo ook ʼn ent verder gesleep.

Maidment sê hy was kort ná die voorval op die toneel waar hy sy beseerde kind langs die pad aangetref het.

“Dit was verskriklik om haar so te hoor gil en in pyn te sien. Ons kon boonop niks doen om haar te help totdat die ambulans opgedaag het nie.”

Maidment sê die polisie was in dié stadium ook op die toneel, maar het weinig aandag aan die bestuurder van die voertuig gegee.

“Hulle het sy nommer gevat en hom laat gaan.”

Die motoris het glo versuim om by ʼn stopteken stil te hou. (Foto: Verskaf)

Intussen het Maidment nog niks van die polisie gehoor nie.

“Die polisie het gesê hulle sal Larochell se verklaring in die Warmbad-hospitaal gaan afneem, maar het nooit opgedaag nie. Hoewel hulle my nommer geneem het, het hulle nog glad nie met my kontak gemaak nie. Ons het dus nog nie eens ʼn saaknommer nie.”

Hy sê voorts dat die gemeenskap lankal vir meer spoedhobbels in dié omgewing vra, aangesien daar gereeld ongelukke hier gebeur. Boonop versuim motoriste glo gereeld om by dié betrokke stopteken stil te hou.

Van die Warmbad-hospitaal het Maidment en sy vrou, Sonja, hul dogter na die private Phodoclinic vir x-strale geneem.

Larochell sterk tans by die huis aan, maar is volgens Maidment erg getraumatiseerd en verduur baie pyn.

“Sy skrik in die aande huilend wakker.”

Maidment sê hy is intussen druk besig om reëlings te probeer tref sodat Larochell haar eksamenvraestel wat sy misgeloop het, kan skryf. Sy sal die res van haar eksamenvraestelle waarskynlik in ʼn rolstoel aflê.

“Haar gewrig is erg geswel en baie seer en dus kan sy nie eens met krukke loop nie.”

Maidment sê Larochell is ook hartseer oor haar bromponie, waarvoor die gesin lank gespaar het.

“Dit sal glad nie herstel kan word nie.”

Die polisie het nog nie op Maroela Media se navraag in verband met die voorval gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Misky ·

Indien dit my dogter was, sou daai motoris nie net wegstap van die toneel nie en nog minder as ek hoor hy het hardhandig geraak na hy die oorsaak van ongeluk was. Sterkte poplap

Jean ·

As dit jou dogter was dan het sy jou nodig gehad by haar en nie in die tronk as jy iets aan die man sou doen nie.

Elinette ·

Ek stem … hy sou OOK die hulp van paramedici en ‘n ambulans nodig gehad het – dis nou as hy nie ‘n ander tipe “vervoer” nodig gehad het nie; d.m.v. forensiese dienste van die SAPD.

Kirst ·

Word gou beter meisie. Hopelik kan die gemeenskap help om die skuldige aan die pen te laat ry. Haar ouers moet by die padongelukke fonds aansoek doen vir vergoeding vir haar. Hulle sal vir seker suksesvol wees.

VaalDonkie ·

Nee o jitte. Die manne in die bakkies is amper net so erg soos die taxibestuurders. Snaaks genoeg kry jy meer hoflikheid by ‘n taxi as jy nie self ongeskik is nie.

Onnie ·

Jy is bietjie fyngevoelig Sarel. Nie net boere ry bakkies nie. Bouers, elektrisiëns, loodgieters, konstruksiewerkers en Janalleman!

Helene ·

In ons dorp ry die meeste wit mans in bakkies baie meer onverskillig as die taxi bestuurders. Hulle is by vêrre die mees arrogantste bestuurders in ons dorp wat dink dat die pad net aan hulle behoort.

Kobus ·

As ek so na die voertuig kyk , lyk dit asof dit aan ‘n welgestelde man kan behoort wat vroeg by die veiling wou kom want daar is mos gewoonlik verversings (solied en vloeibaar) en hoe kan ‘n bromponie tog nou die oorsaak wees dat hy uitmis op die geleentheid?

Kaptein67 ·

Vat die bestuurder sommer ook vas omdat die voertuig nie ‘n nommer plaat voor het nie.

Meisie ·

Dit kan dalk ‘n nuwe voertuig wees of dat dit afgestamp is.. of dat dit afgehaal is vir gebruik van die foto, dit is ongelukkig steeds persoonlike inligting.

Robert ·

Nie in die geval van ‘n ongeluk nie… dan is die nommerplaat bewyse.

Elmarie ·

Tensy dit afgeval het in die ongeluk het bakkie ook nie nommerplaat op nie. Hoop daar word gróót geraas gemaak dat die ding sy straf kry

Nellie ·

Gaan sien ‘n prokureur en dien ‘n eis by die Padongelukkefonds in. Ek werk by prokureurs wat sulke eise hanteer, alhoewel sulke eise lank neem om af te handel, sy is nog jonk en die skadevergoeding kan groot wees. Daar kan ook opgetree word teen die bestuurder van die voertuig dmv ‘n prokureursbrief wat na sy versekering gestuur word. So kan die blikskade vergoeding ook teruggegkry word. Moenie wag vir die polisie nie, die ongeluk is aangemeld, gaan vind uit of dit aangemeld is, en kry die ongeluksverslag en dossier. Doen dit liewer self, moet nooit vir die polisie wag nie, jy gaan lank wag.

Ek kan ·

Ek werk nou nie by ‘n prokureursfirma nie, so my verskoning as ek verkeerd is. Ek dink egter al wat in hierdie geval by die Padongelukkefonds geeis kan word, is die mediese onkostes wat haar ouers aangaan, asook moontlike toekomstige mediese uitgawes. Ek sou graag wou weet waarvoor sy ook skadevergoeding kan eis van die fonds?

Heleen ·

Jy is verkeerd jammer. Jy kan daar eis selfs al word jy net raakgery langs die pad

Nellie ·

Sy kan vir die mediese uitgawes eis, toekomstige mediese uitgawes, toekomstige verlies aan inkomste en algemene skade (pyn en lyding). Sy kan heelwat geld ontvang, indien sy by die regte prokureurs land wat bietjie ekstra moeite doen. Enige persoon kan eis, dit maak nie saak of jy versekering het of nie het nie. Daardie tipe voertuig wat hy ry, kos baie geld, natuurlik het hy versekering. Toyota landcruisers is duur voertuie, so sy versekering sal moet hoes. Sy nommerplaat is dalk uitgehaal vir die foto omdat dit gepubliseer word in die koerant.

Heleen ·

Ja jy kan baie eis by die padongelukke fonds of jy nou versekering het of nie! Ek weet van n vrou wat miljoene gekry het omdat sy raakgery was langs die pad. Hulle se ook daar dit is omtrent net swart mense wat daar eis..dis asof ons dink ons kan nie

melW ·

Was die bakkie se nommerplaat weg ten tyde van die ongeluk of net verwyder voor die fotos? Die bestuurder moet verantwoording doen, wag en kyk of dit gebeur.

SjN ·

n Stopstraat word deesdae soms gebruik as n toegee teken, sien dit daagliks gebeur.

Sarel ·

Kan fie VFPlus die saak opvolg asb. Die Bevelvoerder is nie geskik vir die pos nie

Onnie ·

Wat ek ook gedink het… wonder of hy (en die polisie) dan nog so non chalant sou wees. Hierdie kon n baie tragiese verhaal gewees het, ek dink die ou moet eintlik sy sterre dank.

JohanR ·

Oe my gooiste polisie in die land is vrot vrot vrot. Se nie almal nie. Aan die wat nog elke dag omgee se ons dankie. Maar vra ook dat julle die vrot eiers uitwerk. Die meisie kon haar been verloor het sooe Natalie du Toit. Lyk my die man in die bakkie drink bier saam met die polisie?

Natasha ·

Ek sien nie dat daar ‘n nommerplaat of lisensie skyf op die bakkie is nie? Wat word van die mensdom dat jy ‘n onskuldige kind omry en hardhandig hanteer en dan nog wegstap sonder om op te volg hoe dit met haar gaan? Het niemand meer ‘n gewete nie? Sterkte aan die familie.

marius ·

Nee . Hierdie goed het nie . Nog minder die polisie en nog minder die verotte spul in die howe .

MT ·

Ignoreer ‘n stopstraat en veroorsaak amper die dood van ‘n onskuldige kind!

Waarom moet onskuldiges altyd die hoogste prys betaal, en die kriminele gaan voort om rustig te lewe?

Wat kan aan die kriminele bakkiebestuurder gedoen word sodat hy nie weer hierdie kriminele optrede in die toekoms sal herhaal nie?

Taxis is vir lank nie meer die enigste padvarke op SA paaie nie.

Dirk ·

Iemand sal iets moet begin doen aan die patetiese polisie van hierdie land. Dit kan mos nie so werk nie. Kan Afriforum nie begin om n tipe police watch te stig nie om polisie dop te hou en polisiemanne wat nie hul werk doen nie vas te vat en hulle aan te kla

Onnie ·

Geen lisensieskyf in voorruit nie, geen nommerplaat – ou tyres?? So pas gaan optel by 2de handse motorhandelaar of onwettige onpadwaardige voertuig??

Duck ·

Partykeer wonder ek of dit nie dalk ‘n beter idee is om glad nie ‘n bromponie vir jou kinders te koop nie, dis so gevaarlik as hul val, geen beskermende klere aan nie, net helmet en miskien handskoene. Dalk ‘n ou karretjie wat darm die meeste ongelukke (ek sè meeste) sal die nodige beskerming gee. maar my 2c
By the way, ja, ‘n Landcruiser soos daardie is ‘n paar honderd duisend. Beslis ‘n geld gat, wat geen respek het vir ander padverbruikers nie.

Carlene ·

By daai stop is dit baie gevaarlik, ek ry ook n bromponie en die karre is baie geneig om net oor te jaag en te maak of hul men’s nie sien nie. Eintlik gaan dit so by al die stopped in Warmbad.

Marthinus ·

Hy kry nie pluimpie in sy hoed nie, want dogter het oorleef.Dankie Vader vir U beskermende hand.Ek hoop ouers neem gou regstappe

Darts girl ·

En dis die SAP vir ons, land wat nie eens hul werk behoorlik kan doen nie. In die naam van die Here spreek ek dit uit dat sy volkome sal herstel

Charl ·

Daar bestaan nie meer ‘n polisiemag nie, net ‘n mag van onbekwame luigatte en kriminele.

Quina ·

ja nee kyk, as dit my dogter was sou hy die een in die rolstoel gewees het. Cruisers mag mos ry soos hulle wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.