Matrikulante ‘geniet’ eerste Afrikaanse vraestel

Stephan Buys, Karla Müller en Simoné van Heerden, matrikulante aan die Hoërskool Garsfontein was heeltemal gemaklik met die eerste Afrikaanse huistaal-vraestel wat Donderdag afgelê is. Foto: Verskaf.

Die meisies van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in die Jakarandastad het glimlaggend by die eksamenlokaal uitgekom nadat hulle Donderdag die eerste Afrikaans huistaal-vraestel afgelê het.

Volgens hulle Afrikaans huistaalonderwysers, Marguerite Swanepoel en Sandra Norval, was die leesstuk en visuele teks wat die matrikulante se leesbegrip in dié vraestel getoets het, relevant en die vrae regverdig. Dit het alles daartoe bygedra dat die leerders die vraestel – in hulle eie woorde – “geniet” het.

Hoewel die vraestel beslis nie noodwendig maklik was nie, behoort die leerders wat bereid was om deur die jare hard in Afrikaans te werk en die belangrikheid van die taal insien, baie goed te vaar.

Swanepoel en Norval meen die taalvrae was op ʼn pragmatiese vlak gestel terwyl die begripsleesstuk insiggewend oor Suid-Afrika was. Boonop het die leesstuk leerders aangemoedig om ʼn “groeimentaliteit” te ontwikkel. “Dit is mos pitkos vir ʼn matrikulant tydens ʼn matriekeksamen,” het die onderwysers gesê.

“Die vraestel is op standaard. Matrikulante sou egter die opdrag wat handel oor die opsomming mooi moes lees om die regte feite weer te gee. Die taalafdeling was ook regverdig met ʼn paar uitvangplekke,” het Karina Maré, Afrikaans huistaalonderwyser aan die Hoërskool Garsfontein, wat in die ooste van Pretoria geleë is, gesê.

Stephan Buys, ʼn leerder aan dié skool, het saamgestem: “Die begripstoets sowel as die taal was vir my relatief maklik, maar die opsomming was uitdagend.”

“Die vraestel was vir my baie billik en ek het dit makliker as die rekordeksamen se vraestel gevind. Die taalafdeling was die maklikste vir my,” het Karla Müller, nog ʼn matrikulant aan die Hoërskool Garsfontein, gesê.

“Die vraestel was lekker om te skryf. Teenoor die Junie- en rekordeksamens het dit vir my beter gevoel om te skryf,” het Simoné van Heerden gesê.

Hannie Viljoen en Marié Gräbe, taalspesialiste by Solidariteit Helpende Hand se Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT) meen ook die vraestel was beslis op peil.

“Die rekordeksamen het die leerders meer op hulle hoede gestel om deeglik vir die eindeksamen voor te berei.

“Ons het groot verwagting vir die tweede vraestel se inhoud, veral gesien in die lig van die nuwe voorgeskrewe roman, Onderwêreld, wat in dié vraestel onder die kollig sal kom,” het Viljoen en Gräbe bygevoeg.

  • Matrieks van 2017 kan nou registreer om ‘n kennisgewing te ontvang sodra die matriekuitslae gratis op Maroela Media beskikbaar is. Ons wil ook graag van jou hoor as jy verwag om agt of meer onderskeidings te verwerf. Sterkte met die eksamen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.