Matrikulante moet R20 opdok vir eksamenrooster

Argieffoto

Argieffoto

Die Demokratiese Alliansie in Noordwes eis ʼn dringende ondersoek na bewerings dat matrikulante van Setumo High School in Mafikeng R20 moet betaal voordat hul die eksamenrooster ontvang.

Tutu Faleni, provinsiale woordvoerder vir onderwys, het gesê ʼn aantal ouers het dit by die DA aangemeld ná hulle tevergeefs probeer het om die saak op te los.

“Dit is nie net onwettig nie, dit is ook baie nadelig vir leerlinge uit behoeftige gesinne,” het Faleni gesê. “Die DA veroordeel ten sterkste die uitbuiting van leerlinge en ouers.”

Hy het verduidelik enige fondse wat die skoolbestuur insamel, moet deur die skool se beheerliggaam goedgekeur word en ooreenstem met aanvaarbare fondsinsamelingsprosedures binne die openbareskool-sektor.

“Skole moet nie roosters, uitslae of enige ander vereiste hulpbronne van leerlinge weerhou weens wanbetaling van skoolfonds nie,” het Faleni bygevoeg. “Maatreëls moet ingestel word om skoolgelde deur behoorlike kanale in te samel, eerder as om hulpbronne te weerhou en kinders te verhinder om te kan leer.”

Die party gaan Wendy Matsemela, provinsiale LUR vir onderwys, kontak om ʼn dringende ondersoek te eis en om seker te maak dat leerlinge en ouers terugbetaal word.

“Onderwys is die sleutel tot die bevordering van lewe. Dit bied aan individue die geleentheid om ʼn pos te vul en die kringloop van armoede te breek,” het hy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

GES ·

Dit kan net ‘n slinkse plan van korrupte onderwysers wees. Die geld gaan nie in die skool se koffers beland nie.

ELSABE ·

Is dit die begin van die terugbetaling van die universiteite se gelde wat deur ander mense betaal moet word? en dan breek en plunder hulle nog die verdomde plekke wat hulle gratis wil he.

Lizanne ·

My seun is ook in Gr 12 en het sy rooster gratis en verniet ontvang. Wat se bog is hierdie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.