Mazda-herroeping: ‘Eienaars moet kennis neem’

Mazda (Foto: Mazda)

Mazda Suid-Afrika het Dinsdag gesê die meeste eienaars van Mazda-voertuie wat vroeër herroep is weens foutiewe lugsakke, het nog nié hul motors na handelaars geneem vir ʼn vervanging van dié meganiese fout nie.

Die vervaardiger het in Julie verlede jaar gesê die lugsakke van alle Mazda 2-, Mazda 6- en RX-8-modelle wat tussen 2002 en 2014 vervaardig is kan ʼn moontlike fout hê en dus nie reg ontplooi nie. Die herroeping  raak 28 000 voertuie.

Lugsakke met dié meganiese fout kan glo nié die lewe van ʼn bestuurder ten tye van ʼn ongeluk beskerm nie aangesien die lugsak kan ontplof eerder as om beskerming te bied.

Volgens Mazda Suid-Afrika het slegs 9% eienaars van dié voertuie al die foutiewe lugsak laat vervang. “Die meeste eienaars ry steeds rond met lugsakke wat moontlik foutief kan wees,” lui ʼn verklaring van die vervaardiger.

Mazda sê hy het eienaars reeds probeer bereik deur middel van persverklarings, inligting op Mazda se webwerf en gedrukte advertensies in nasionale koerante en tydskrifte.

Die vervaardiger sê hy gaan egter nou met ʼn nuwe bewusmakingsveldtog begin – wat op digitale media en die radio gefokus sal wees – wat ten doel het om ander voertuigeienaars oor die herroeping te bereik.

“Ons wil eienaars aanmoedig om vas te stel of hul voertuie deur die herroeping geraak word waarna hulle hul voertuie na ʼn Mazda-handelaar kan bring sodat die foutiewe lugsak vervang kan word,” lui die verklaring.

Mazda maak gebruik van Takata-lugsakke. Dit is nie die eerste keer dat lugsakke van dié vervaardiger probleme in voertuie veroorsaak nie. Ander motorvervaardigers soos Toyota het ook al modelle herroep weens lugsakprobleme.

Bepaal só of jy geraak word

  • Besoek die Mazda-webwerf hier en tik jou voertuig se enjinnommer in.
  • Bel die Mazda-kliëntedienssentrum by 0860 983000 of stuur ʼn e-pos na [email protected].
  • Besoek jou naaste Mazda-handelaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charlene ·

Ek het ‘n Mazda 2 wat deur die herroeping geraak is besit. Met die eerste kennisgewing het ek die Mazda handelaar naaste aan my geskakel sodat my lugsak vervang kon word. Die handelaar was so onbehelpsaam en het met klomp stories gekom hoekom hul nie nou die lugsak kan vervang nie dat ek Mazda SA moes betrokke kry. Eers daarna is die lugsak vervang. So dalk moet Mazda SA inkyk na sy handelaars wat nie hul samewerking gee met die publiek nie. Hul behoort ook die voertuie wat by hul gediens word, wat geraak word hierdeur op rekord te hê. So as die voertuig ingaan vir ‘n diens kan hul die klient in kennis stel en ook die lugsak vervang terselfdetyd.

Ester ·

Ek het Mazda meer as een keer gekontak ivm die re call – Elke keer kry ek die belofte dat hulle sal terug kom met die “dealership” besonderhede en datum aangesien die part bestel moet word – Dit is agt maande later – menigte opvolg oproepe – en ek ry nog steeds met die foutiewe lugsak – Kan verstaan hoekom daar nog so baie is wat nog nie hul voertuig geneem het nie – hulle wag seker ook vir Mazda se belofte om terug te skakel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.