Mbali Ntuli kandidaat vir DA-leierskap

Mbali Ntuli (Foto: Mbali Ntuli/Facebook)

Die voormalige DA-jeugleier, Mbali Ntuli, het aangekondig dat sy haarself verkiesbaar stel om in April by die DA se federale kongres tot partyleier verkies te word.

Sy is die derde persoon om as kandidaat na vore te tree. Die waarnemende DA-leier, John Steenhuisen, en die Wes-Kaapse provinsiale DA-leier, Bonginkosi Madikizela, het reeds hul onderskeie kandidature aangekondig.

Dit word verwag dat die Gautengse provinsiale DA-leier, John Moodey, ook ‘n kandidaat kan wees. Moodey het by navraag bevestig dat hy genader is om homself beskikbaar te stel, maar dat hy eers ‘n finale besluit sal neem nadat hy daaroor gebid en met sy gesin gekonsulteer het.

Ntuli is al sedert haar studentejare by die DA betrokke. Sy is bekend as ‘n uitgesproke ondersteuner en hegte vriendin van die voormalige parlementêre leier van die DA, Lindiwe Mazibuko. Sy het Samkelo Mgobozi, woordvoerder van die voormalige burgemeester van die Tshwane-metro in Pretoria, as woordvoerder van haar verkiesingsveldtog aangestel.

Sy is tans ‘n lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer en is die party se verkiesingshoof in KwaZulu-Natal. Dit is die enigste provinsie waar die DA in verlede jaar se algemene verkiesing gegroei het.

Sy het haar kiesafdeling, Uthungulu (die gebied van Hluhluwe af noordwaarts tot by die Mosambiekse grens, uitgebou van ‘n area sonder enige DA-stadsraadslede na ‘n gebied waar die DA setels in elke stadsraad het.

Ntuli sal Vrydagoggend tydens ‘n nuuskonferensie in Johannesburg uitwei oor haar verkiesingsveldtog, beleidsvoorstelle en haar visie vir die DA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.