Mbali Ntuli wil vertroue in DA herstel

Mbali Ntuli. (Foto: Facebook)

Gewone lede van die DA word nie genoegsaam ingesluit in belangrike besluite nie en sommige aanstellings word gedoen sonder dat behoorlike prosedures gevolg word, het Mbali Ntuli, kandidaat vir die leierskap van die DA, vandag by die bekendstelling van haar kandidatuur in Johannesburg gesê.

Ntuli is die vierde kandidaat wat haar verkiesbaar stel. Die ander is die huidige instaanleier, John Steenhuisen, die Wes-Kaapse leier, Bonginkosi Madikizela, en die Gautengse leier, John Moodey.

Ntuli word vanjaar 32 jaar oud en is tans ʼn lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer. In haar toespraak het sy gesê haar doel is om eensgesindheid, ʼn klem op deelname, regverdigheid en ʼn wengesindheid na die DA terug te bring.

“Ek staan vir die leierskap van die DA, want ek wil die party aangenaam, sterk en regverdig maak. Ek meen as ons ʼn aangenamer party word wat empatie het met elkeen se omstandighede, kan ons opstaan teen tirannie in Suid-Afrika, en wys ons is ʼn kampvegter vir iedereen.”

Haar vier hoofdoelwitte is om regverdigheid terug te bring in die DA, om duidelikheid te kry oor die DA se beleidsrigtings met ʼn proses waarin gewone lede inspraak sal kry eerder as om elders te hoor wat beleid is.

“Ek wil ook die geloof van gewone kiesers herstel in die DA as enigste party wat Suid-Afrika van rampspoed kan red, en die DA weer aan die voorpunt van die herordening van die Suid-Afrikaanse politiek plaas.”

Tydens vraetyd het Ntuli gesê te veel beleidsbesluite word deur slegs ʼn paar mense geneem en dan hoor gewone DA-lede maar net daarvan.

Ntuli het ook die soeklig laat val op Ngwenya se aanstelling, wat volgens haar nie die gewone prosedures gevolg het nie.

“Die huidige leierskap van die party volg die verkeerde trajek, en dit benadeel die groei van die DA,” het sy gesê.

Sy het daarop gewys dat sy die kiesafdeling uMkhanyakude (die gebied in die verre noorde van KwaZulu-Natal tussen Hluhluwe en Mosambiek) se kiesafdelingshoof geword het toe nie een van die vier stadsrade daar ʼn enkele DA-raadslid gehad het nie. Elkeen van daardie stadsrade het nou DA-raadslede.

Voorts het sy uitgewys dat sy as KwaZulu-Natalse verkiesingshoof die veldtog gelei het wat in verlede jaar se verkiesing toegesien het dat KwaZulu-Natal die enigste provinsie was waar die DA sy stemtotaal, aandeel in die stemme én setels opgestoot het.

Sy was die stigter van die eerste DA-studentetak by die Rhodes Universiteit en is tot nasionale leier van die DA-jeug verkies.

In haar toespraak het sy verwys na die wyse waarop haar lewensverhaal een is wat die klowe in die Suid-Afrikaanse samelewing oorbrug. Sy is gewortel in die Zoeloekultuur soos bewaar deur haar ouma by die familie-opstal in Maphumulo in landelike Zoeloeland, en het grootgeword in die Durbanse uitsoekbuurt La Lucia.

Haar ma was ʼn onderwyseres en haar pa die eerste voorsitter van die KwaZulu-Natalse Taxivereniging. Hy is dood toe sy agt jaar oud was.

Dit was by sy begrafnis dat sy aangetrokke geraak het tot die destydse DP (wat in 2000 die DA geword het), toe die destydse leier van die DP in KwaZulu-Natal, Roger Burrows, opgestaan het vir die familie se voorkeur om die begrafnis kragtens die Zoeloekultuur te hou, en omliggende bure oortuig het om dit te respekteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Strandloper

Vertroue….Curiously?

Hond se Baas

Ek voel ek gaan dit maar ‘n groot mis gee!

Jannie van Niekerk

Jy het baie moed Sussie, maar nie jy of enige ander DA leier sal in die volgende 100 eeue weer my vertoue nin die DA herstel nie. Of jy nou DA , ANC of EFF stem, julle is almal in dieselfde roeiboot wat totaal en al gekant is teen alles wat deur kolonialisme tot stand gebring is. Daar is net een antwoord, die Christelkike antwoord, en dit is die ACDP.