Mbalula bevestig toestemming vir NDA-optog

Fikile Mbalula (Foto: Solidariteit)

Fikile Mbalula, die nuutaangestelde minister van polisie, het Dinsdag gesê SAPD-lede sal Woensdag saam met ander wetstoepassingsbeamptes in Pretoria ontplooi word vir die sogenaamde Nasionale Dag van Aksie-optog na die Uniegebou.

Mbalula het tydens ʼn mediakonferensie in die stad bevestig dat toestemming gegee is vir môre se beplande protesoptog. Dit kom nadat daar verlede week verwarring was oor ʼn hofbevel wat beslis het dat Save SA ʼn optog in die stad mag hou. Die Save SA-optog was een van verskeie optogte wat regoor die land plaasgevind het om te eis dat pres. Jacob Zuma uit sy posisie verwyder word.

Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende polisiekommissaris, het Dinsdag tydens die mediakonferensie gesê meer as 70 000 mense het aan die optogte deelgeneem. Hy het gesê die presiese getal betogers word betwis.

‘n Optog teen pres. Jacob Zuma in Pretoria (7 April 2017). Foto: Maroela Media

Volgens Mbalula het die optogte verlede week meestal vreedsaam afgeloop, hoewel daar enkele voorvalle van geweld was. “As minister van polisie wil ek graag erkenning gee aan die manier waarop deelnemers hul reg tot protes uitgeoefen het en steeds gehoor gegee het aan die verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan,” het Mbalula gesê.

Hy het ook polisiebeamptes geloof wat hul pligte op dié dag ooreenkomstig die waardes en etiese standaarde van die SAPD uitgevoer het.

“Die regering doen weer eens ʼn beroep op betogers om op vreedsame wyse aan die optog deel te neem en nie inbreuk te maak op die regte van ander nie. Intimidasie van Suid-Afrikaners wat kies om nie aan die optog deel te neem nie, sal nie geduld word nie.”

Die Nasionale Dag van Aksie word deur verskeie opposisiepartye gereël, onder meer die EFF, die DA, UDM, ACDP, IFP en Cope. UDM-leier Bantu Holomisa het Maandag gesê optoggangers sal Woensdag van 09:00 op Kerkplein bymekaarkom, waar verskeie aktiwiteite sal plaasvind. Die optog sal van 12:00 na die Uniegebou beweeg waar toesprake gelewer sal word. Die strate rondom Kerkplein sal deur die optog geaffekteer word.

Lees alle vorige berigte oor die optogte teen Zuma hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Dit bly ‘n kritieke vraag – wat gaan word as of nadat Zuma nie meer president is nie. Meer kere het ek gesê dat hy man alleen die ANC stukkie vir stukkie afbreek. Die EFF’s, Cope’s en dies meer sal weer ineensmelt en die ANC so sterk maak soos wat die NP destyds was – polities onoorwinbaar vir die opposisie partye. Hulle sal dan met elke verkiesing 2/3rde meerderheid behaal en die grondwet buig en vervorm asof dit potklei is. Moet dus nie juig as Zuma wel (amper sê ek tuig neerlê maar besef toe dat hy nie deel is van ‘n span nie) bedank of afgedank word nie, want die kans dat dit ‘n oorwinning sal wees, is skraal. Die ANC se verlies sal waarskynlik die EFF se wins wees.

Wouter ·

Fikile wanneer betaal jy die R10 mil terug wat jy as omkoopgeld gebruik het vir 2010 se sokker?

Lmga ·

Hahaha Wouter jy slaan die spyker op sy kop. Ek dink daar intussen al ander transaksies ook beklink.

zoom zoom ·

Tydens studente en gewone strikes kan hulle maak en breek en niks word aan niemand gedoen nie. So hoekom kan ons nie ook afbreek en plekke aan die brand steek. Dit is mos deel van demokrasie soos onse NR1 dit op TV verduidelik het aan die werld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.