Mbalula: ‘Ek dwing nie kwotas af nie’

Argieffoto.

Argieffoto.

Fikile Mbalula, minister van sport, sê ʼn kwota van 60% swart spelers in nasionale sportspanne sal op niemand afgedwing word nie.

Mabalula het die uitlating gemaak nadat hy Woensdag met die vakbond Solidariteit, die burgerregte-organisasie AfriForum en die Vryheidsfront Plus ontmoet het. “Praat is nie eindeloos nie maar ons moet mekaar vind. Ek gaan nie as minister in die regering sit en Suid-Afrikaners wat bekommerd is oor die posisie wat ons ingeneem het, ignoreer nie.” Mbalula sê hy het ʼn verpligting teenoor almal. “Dit is hoekom ek bly is oor die vergadering. Ten minste weet ek wat om volgende te doen.”

Solidariteit het tydens die vergadering 52 000 petisies, genoeg om al Loftus Versfeld se sitplekke te vul, aan Mbalula oorhandig. Die vakbond het onderneem om enige kwota in sport in die howe te toets. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê dit was ʼn harde gesprek en dat die partye ooreengekom het om in die toekoms verdere samesprekings hieroor te voer. “Kwotas kan uit ʼn regs- en morele oogpunt gesien, nie verdedig word nie en ʼn kwota benadeel die swart netbalspeler net soveel soos die wit speler. Dit skep ʼn generasie jong mense wat glo dat die stelsel vir hulle sal sorg. Kwotas skep ʼn nuwe vorm van slawerny – verslawing aan die stelsel.”

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die minister tydens die vergadering daarop gewys dat AfriForum ten gunste van sportontwikkeling is, sodat almal, ongeag ras, die geleentheid kan kry om aan sport deel te neem. ʼn Rassekwota-beleid dra volgens Kriel egter nie daartoe by om nuwe spelers te onwikkel nie en benadeel alle sportsterre. “Talentvolle swart spelers word benadeel deur kwotas omdat die geldigheid van hulle opname in die spanne voortdurend onder verdenking is, terwyl kwotas ook talentvolle jong wit spelers van geleenthede ontneem.”

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport, sê die VF Plus se boodskap aan die minister was dat sy voorstelle gelykstaande is aan sosiale ingenieurswese in sport en dat dit jong wittes en ander minderhede van geleenthede sal ontneem. “Die minister was konsekwent in sy beleid deur te sê dat hy dink die nasionale demografie word nie behoorlik weerspieël in Suid-Afrikaanse sokker nie en dat daar te min wit gesigte is. Dis egter steeds nie vir ons aanvaarbaar nie. ‘n Span moet bestaan uit die beste mense ongeag hul sosiale agtergrond en hul velkleur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Demokraat ·

Nou sing Mbalula ‘n gans ander deuntjie – sy aanvanklike aankondiging oor kwota’s was vol brawade, dreigend en beslissend.

Die Boere moet dalk meer met hom praat dan sal sy grootdoenerigheid en obsessie met kleur dalk ietwat verdwyn.

alet ·

Hoekom sing hy nou n ander deuntjie ons is nie witgesigte ons is blanke suid afrikaaners en trots daarop

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.